Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Moenie val vir dié Facebook-foefies
Pasop vir hierdie en ander slenters wat tans op Facebook rondgestuur word.

Moenie alles glo wat jy op Facebook sien nie. Booswigte gebruik hierdie platform toenemend om geborgde plasings te deel wat kitsrykdom belowe.

In die jongste gevalle verskyn ’n string “advertensies” op Facebook wat groot opbrengste en ’n luukse lewe van rykdom belowe.

Dit is egter ’n bedrogspul en moet met groot omsigtigheid bejeën word.

Bekende Suid-Afrikaners se name word dikwels by dié tipe slenters betrek. Naas Botha moes in 2018 bontstaan om ’n advertensie op Facebook te laat verwyder wat in sy naam “bitcoin-beleggers” wou lok.

Hierin is foto’s van Botha alleen, sowel as van hom saam met sy gesin, gebruik.

In die laaste paar weke het ’n soortgelyke advertensie op Facebook verskyn met die Springbokafrigter Rassie Erasmus wat nou “alle Suid-Afrikaanse burgers help om hul doelwitte te bereik”.

Die plasings herlei egter na vervalste webwerwe waar besoekers dikwels gevra word om persoonlike inligting te deel.

Die booswigte agter die webwerwe samel die inligting in en gebruik dit om misdade elders te pleeg, of om toegang tot gebruikers se rekeninge te verkry.

Dikwels lyk die webadres ook soos dié van ’n gerekende webwerf, maar met klein verskille in die spelling sodat die gemiddelde persoon dit nie dadelik raaksien nie.

Facebook se bepalings en voorwaardes verbied nie pertinent die plasing van sulke advertensies nie.

Volgens die sosiale netwerk se reëls mag adverteerders egter nie “bedrieglike aktiwiteite” adverteer nie.

Die lys van “bedrieglike aktiwiteite” bevat egter geen melding van “kitsrykdom” of die gebruik van bekendes om ’n produk of diens te verkoop nie.

Facebook het in 2018 alle bitcoin-verwante advertensies verbied, maar die verbod is ’n jaar later teruggetrek.

Die motief agter die booswigte se doen en late is egter nie altyd duidelik nie.

Soms word groot opbrengs in ruil vir kontant beloof, maar in ander gevalle word ’n skakel gedeel na webwerwe wat vals nuus publiseer.

Skei só die koring van die kaf:

Sodra ’n geborgde plasing op jou nuusstroom verskyn, let op na die gehalte daarvan.

Is die taalgebruik op peil? Word die plasing van ’n duidelike foto vergesel van ’n betreklik goeie standaard?

Vals plasings gebruik dikwels swak taal sowel as foto’s van ’n lae gehalte.

Let ook op wat geadverteer of bemark word. Is dit ’n produk of diens waarvan jy nog nooit gehoor het nie?

Kyk na wat mense in die kommentaar onderaan die plasing sê.

Ander gebruikers behoort gou te waarsku as dit ’n slenter is. Die skelms kan wel ook vals profiele benut om kommentaar op advertensies te lewer om die produk of diens beter te laat lyk.

Neem dus enige kommentaar onderaan ’n advertensie met ’n knippie sout.

Moet ook nooit net op die skakel in die advertensie klik nie. As die advertensie vir jou soos een vir ’n werklike produk of diens lyk, gaan eerder na Google en soek daarvoor as wat jy in Facebook op die skakel klik.

Meer oor:  Bedrog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.