Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Moet ek ’n program vertrou wat my wagwoorde onthou?
Is dit ’n goeie plan om van programmatuur gebruik te maak wat jou aanlyn wagwoorde namens jou onthou?Foto: Unsplash

FNB-kliënte was vroeër vandeesweek behoorlik die josie in nadat die bank besluit het wagwoorde vir sy internetbankdienste mag nie meer outomaties ingevoer word nie.

Die bank wou ook nie toelaat dat kliënte programmatuur benut wat wagwoorde namens hulle genereer, stoor en invul nie.

Hierdie tipe programmatuur staan as wagwoord-bestuurders, oftewel password managers, bekend.

Kort voor lank het FNB weer van deuntjie verander en aangedui hy sal weer hierdie tipe programmatuur toelaat, maar hy raai steeds sy kliënte af om dit enigsins te gebruik. Ten minste vir hul banksake.

So waaroor gaan die bohaai rondom wagwoord-bestuurders, en is dit enigsins ’n goeie plan om dit te gebruik?

   

Wat is ’n wagwoord-bestuurder?

   

Enige program wat wagwoorde namens ’n gebruiker kan genereer en stoor, kan as ’n wagwoord-bestuurder beskou word.

Gebruikers hoef nie noodwendig ’n wagwoord-bestuurder te gebruik om unieke wagwoorde vir al hul aanlyn rekeninge te genereer nie, maar dit is gewoonlik ’n funksie wat só program sal bied.

Van die bekendste voorbeelde van wagwoord-bestuurders, sluit in LastPass, 1Pass, Dashlane en Keeper. Daar is nog verskeie ander.

Gevalle waar Google se Chrome-webblaaier aanbied om wagwoorde namens jou te stoor, is nie ’n voorbeeld van ’n wagwoord-bestuurder nie en word ten sterkste afgeraai.

Ware wagwoord-bestuurders integreer wel met jou webblaaier deur middel van ’n sogenaamde toevoeging (extention) wat dit toelaat om wagwoorde namens jou in te vul. Jy kan egter kies om dié funksie te verwyder en elke keer jou gestoorde wagwoorde vanuit jou wagwoord-bestuurder te gaan kopieer.

   

Voordele aan ’n wagwoord-bestuurder

   

Die voordele aan hierdie tipe programmatuur is dat jy al jou afsonderlike aanlyn rekeninge met ’n unieke, sterk wagwoord kan beskerm.

Kenners op die gebied van kubersekerheid waarsku gereeld teen die hergebruik van wagwoorde aanlyn, en ontsettend baie mense maak hulle skuldig daaraan. Dit is hoofsaaklik omdat hulle nie ’n afsonderlike wagwoord vir elke platform kan onthou (of wil onthou) nie.

’n Wagwoord-bediener kan eerstens ’n sterk wagwoord namens jou genereer en dit namens jou onthou. Al wat jy moet onthou is die een sogenaamde meester-wagwoord om toegang tot jou wagwoord-bediener (en dus al jou gestoorde wagwoorde) te verkry.

   

Nadele aan ’n wagwoord-bestuurder

   

Die grootste nadeel aan ’n wagwoord-bestuurder is juis die feit dat al jou wagwoorde deur ’n enkele meester-wagwoord beskerm word.

Elke keer as jy op jou slimfoon, rekenaar of tablet aanmeld of ’n e-pos oopmaak loop jy die gevaar om aan kubermisdaad blootgestel te word.Foto: REUTERS

Sou ’n booswig dus toegang daartoe verkry, kry hy terselfdertyd toegang tot al jou wagwoorde. Maak dus seker jy kies ’n baie stewige meester-wagwoord en skryf dit nêrens neer waar iemand dit dalk kan raaksien nie.

Moet ook nie jou meester-wagwoord vergeet nie, want in meeste gevalle sal jou wagwoord-bediener net hul skouers optrek en sê dis gedane sake: Al jou gestoorde wagwoorde is vir altyd agter slot en grendel.

Sommiges, soos LastPass, is wel meer tegemoetkomend, maar net tot op ’n punt.

Dit is natuurlik ook so dat jou wagwoord-bediener die slagoffer van ’n kuberaanval kan wees wat al sy gebruikers se wagwoorde blootlê.

Maar die kans dat dit gebeur, is uiters skraal.

Nóg ’n netelige kwessie is dat jy jou aanlyn rekeninge in gevaar stel aan enigiemand met toegang tot jou rekenaar siende dat jou wagwoord-bediener outomaties jou wagwoorde invul.

As jy dus ’n wagwoord-bediener gebruik, wees te alle tye paraat oor wie jou rekenaar gebruik of toegang daartoe het terwyl jy nie self daarop besig is nie.

   

Watter wagwoord-bediener moet ek kies?

   

As jy bereid is om te betaal vir só diens, is Dashlane ’n uitstekende opsie. Dié program laat jou toe om maklik jou wagwoord op verskeie platforms gelyktydig te verander sonder veel inspanning van jou kant af.

Dashlane kan ook deur jou e-posse gaan en kyk of daar enige aanlyn platforms is waarvoor jy in die verlede geregistreer het, maar dalk al van vergeet het.

Hoewel dit ’n gratis opsie het, laat dié jou net toe om 50 wagwoorde te stoor. Jy kan dit ook net op een toestel gebruik.

Die volledige weergawe kos sowat R600 per jaar.

LastPass is ’n goeie gratis opsie.

Dit is baie eenvoudig om te gebruik en kan op verskeie toestelle en platforms gelyktydig (met ander woorde onder dieselfde rekening) gebruik word.

Dit genereer maklik ’n nuwe wagwoord namens jou sodra dit agterkom dat jy besig is om ’n nuwe rekening iewers te registreer.

Jy het ook nie nodig om enige afsonderlike programmatuur daarvoor af te laai nie siende dat dit volledig met jou webblaaier integreer.

Die volledige weergawe kos R550 per jaar, maar is onnodig siende dat jy bykans al die funksies in die gratis weergawe ontvang.

Ongeag watter wagwoord-bestuurder jy verkies, moet net nie staatmaak op Google (of Mozilla of Edge) se ingeboude funksie wat wagwoorde namens jou stoor nie. Dié tipe wagwoord-bestuurder word alom as uiters onveilig beskou.

Meer oor:  Dashlane  |  Lastpass  |  Kuberkrakers  |  Tegnologie  |  Kuberaanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.