Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Mr D Food lewer in ’n jaar R500 m. se kos af

Meer as ’n miljoen mense het nou die Mr D Food-app op hul foon afgelaai.

Só bestel jy op Mr D Food. Foto: Verskaf

Die maatskappy, wat aan Takealot behoort, het dié mylpaal verlede week bereik net sowat 18 maande nadat die app bekend gestel is. Naspers is op sy beurt Takealot se grootste aandeelhouer.

Luidens ’n verklaring deur Mr D Food het die maatskappy die afgelope 12 maande R500 miljoen se kos wat oor die mobiele app bestel is, afgelewer. Kos kan nou in die meeste van Suid-Afrika se stede en groot dorpe – in meer as 1 900 woonbuurte – afgelewer word.

Devin Sinclair, uitvoerende hoof van Mr D Food, het vantevore in ’n onderhoud gesê die reis na die nuwe Mr D Food het in 2014 begin toe Takealot – wat voorheen ’n belang in hulle gehad het – die maatskappy ten volle bekom het.

Terwyl mense fluks die app afgelaai het, het Mr D Food – voorheen Mr Delivery – verander van ’n onderneming wat 80% van sy bestellings telefonies geneem het in een wat nou ten volle aanlyn is. Sinclair het aan Netwerk24 gesê meer as 90% van bestellings word nou deur die mobiele app gedoen en die res op die webwerf mrdfood.com.

Devin Sinclair (33), hoof van die nuwe Mr D Food. Foto: Verskaf

Sinclair sê Mr D Food is nog nie winsgewend nie.

“Soos met baie e-handelondernemings is winsgewendheid ’n funksie van skaal. Op die oomblik fokus ons op groei, en omdat Naspers ons belegger is, stel dit ons in staat om heeltyd ons tegnologie, bemarking en skaal te verbeter sodat ons meer verbruikers in Suid-Afrika kan bedien.

“Hoewel ons nie op die oomblik winsgewend is nie, is dit in ons sakeplan geïnkorporeer en ons glo dat die nodige skaal wel in Suid-Afrika behaal kan word.”

Nog interessante feite sluit in:

  • Die Mr D Food-app het 270 000 aktiewe gebruikers elke maand wat elk gemiddeld 2,6 keer per maand kos laat aflewer.
  • Meer as 335 000 bestellings word elke maand afgelewer.
  • Die gemiddelde afleweringstyd is 37 minute.
  • Die getal bestellings groei teen 210% per jaar.

Volgens Mr D Food is kosaflewering wêreldwyd baie mededingend en Suid-Afrika is geen uitsondering nie.

Mr D Food en UberEats is die twee markleiers, met byna 90% van die Suid-Afrikaanse mark. OrderIn is die ander mededinger in die mark.

Sinclair sê Mr D Food is tans die enigste aanlyn kosafleweraar in die land wat kontant met aflewering as betalingsopsie aannvaar en Sinclair sê dis ’n “aanloklike keuse vir baie Suid-Afrikaanse verbruikers”.

Larry Illg, hoof van Naspers Ventures, sê kosaflewering in Suid-Afrika groei baie vinnig, maar die markpenetrasie is nog laag. “Ons glo die potensiaal vir aanlyn kosafleweringsondernemings kan selfs groter wees in groeimarkte soos Suid-Afrika as in die Weste.”

Naspers het die afgelope 18 maande meer as $1,5 miljard wêreldwyd in kosaflewering belê nadat dit ’n paar jaar gelede as ’n potensiële groeigebied uitgelig is.

Dit sluit in sy belegging in Delivery Hero, wat kos in 36 Europese en Asiatiese lande aflewer, iFood, wat kos in Brasilië en Mexiko aflewer, en Swiggy, wat dieselfde werk in Indië doen. Delivery Hero, met sy hoofkantoor in Berlyn, Duitsland, is die grootste kosafleweraar ter wêreld.

  • Netwerk24 is ’n produk van Media24, ’n filiaal van Naspers.
Meer oor:  Takealot  |  Naspers  |  Tegnologie  |  Apps
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.