Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
MTN ‘100% gereed vir 5G’, maar...
Giovanni Chiarelli, tegnologiehoof van MTN, tydens die toetslopie van die netwerk se 5G-tegnologie.Foto: Petrus Malherbe

MTN sê hy is “100% gereed” om sy 5G-netwerk in werking te stel, maar alvorens die regering die broodnodige spektrum beskikbaar stel, is sy infrastruktuur onbruikbaar.

Die diensverskaffer het op die AfricaCom-konferensie in Kaapstad dieselfde deuntjie gesing as die afgelope paar maande: Dat hy gereed is om sy 5G-netwerk aan te skakel, maar dat die regering sloer met die vrystelling van meer hoëfrekwensie-radiospektrum.

Dié spektrum word benodig om data doeltreffend vanaf selfoontorings na gebruikers se toestelle te stuur.

MTN het wel Dinsdag gewys teen watter ongelooflike spoed sy 5G-netwerk kan werk.

Tydens ’n intieme tentoonstelling voor ’n klein gehoor van joernaliste en sakelui is ’n aflaaispoed van 1,6 gigagrepe per sekonde oor ’n selfoonnetwerk bereik.

Die demonstrasie is aangebied in samewerking met Huawei, wat die onderliggende tegnologie verskaf.

MTN het spesiale vergunning gekry van die Onafhanklike Kommunikasieowerheid (Okosa) om die demonstrasie uit te voer op die sogenaamde “goue band” wat spektrum betref.

Dié band wissel tussen 3,3 GHz tot 3,8 GHz en volgens Giovanni Chiarelli, tegnologiehoof van MTN, is dit die waardevolste stukkie spektrum wat daar is om die moontlikhede van 5G ten toon te stel.

5G verwys na sogenaamde vyfdegenerasie-selfoonnetwerke en is die opvolger van 4G, 3G en 2G.

Elke generasie bied bykomende spoed en stel meer toestelle in staat om aan die netwerk te verbind.

Chiarelli kon egter nie aandui watter impak 5G op gebruikers sal hê in terme van die koste om te kommunikeer nie.

Dit is omdat die diensverskaffer nog nie weet wat die nodige spektrum gaan kos nie. Netwerke moet spektrum, waarvan daar ’n beperkte hoeveelheid is, by die regering huur.

Die verwagting is wel dat 5G uiteindelik veral die prys van data sal verlaag omdat dit soveel meer effektief is as 4G, sê Chiarelli.

Rob Schuter, MTN se uitvoerende hoof, het in ’n afsonderlike gesprek by AfricaCom gewaarsku dat Suid-Afrikaanse netwerke nie genoeg kapasiteit sal hê om te voldoen in die groei in die vraag na data nie.

Tydens die toetslopie van 5G is ’n aflaaispoed van 1,6 gigagrepe per sekonde bereik. Foto: Petrus Malherbe

Volgens Schuter gaan verkeer op selfoonnetwerke vervyfdubbel in die volgende drie jaar, en sonder bykomende spektrum sal geen netwerk dit kan volhou nie. “Die beskikbare spektrum is propvol,” sê hy.

MTN het tans byna 244 miljoen kliënte, hoofsaaklik in Afrika en die Midde-Ooste.

Volgens Schuter het net sowat 87 miljoen van daardie gebruikers toegang tot die internet op hul selfone, omdat gevorderde slimfone wat aan die internet kan verbind so duur is.

So ongeag of diensverskaffers soos MTN netwerkinfrastruktuur en 5G-tegnologie (of selfs 4G-tegnologie) orals op die vasteland oprig, beteken dit niks as daar nie gebruikers daarvoor is nie, sê hy.

“Baie gesinne probeer oorleef op $100 ’n maand, hulle kan nie eens die goedkoopste slimfoon bekostig nie.”

Daarom beplan MTN om maniere te vind om toestelle regoor die vasteland meer bekostigbaar te maak en ook om gebruikers op te lei in hoe om dit op ’n doeltreffende wyse te gebruik.

AfricaCom is die grootste tegnologiekonferensie op die vasteland en vind tot Donderdag in Kaapstad plaas.

Meer oor:  Mtn  |  Huawei  |  Africacom  |  Internet  |  Slimfone  |  Diensverskaffers  |  Tegnologie  |  5G
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.