Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
MTN beplan diens waarmee jy kan klets én betaal
Rob Shuter, groephoof van MTN.Foto: Getty Images

Staan opsy, WhatsApp, MTN beplan om eersdaags sy eie kletsdiens op die been te bring. Een waarmee jy boonop vir goedere en dienste kan betaal ook.

Rob Shuter, groephoof, het dié aankondiging vroeër vandeesmaand op die bekendstelling van die maatskappy se jongste resultate tot einde Desember gemaak.

Volgens Shuter gaan die kletsdiens, wat nog nie ’n amptelike naam het nie, deel van MTN se bestaande platforms vir mobiele betalings uitmaak.

“Dis soos WeChat, maar vir Afrika,” sê hy.

WeChat, wat deur Tencent besit word, is uiters gewild in lande soos China en Bhoetan, waar dit nie net gebruik word om gesprekke te voer nie, maar ook om vir goedere en dienste te betaal.

MTN beoog soortgelyke funksies vir sy nuwe diens.

Die diensverskaffer, Afrika se grootste, het ook laat verlede jaar sy eie musiekstromingsdiens bekend gestel wat tans in ’n paar lande, insluitende Suid-Afrika, getoets word.

Shuter het laat deurskemer dat MTN se beplande kletsdiens ook met dié musiekstromingsdiens sal integreer.

Gebruikers sal dus nie net met mekaar kan gesels nie, maar ook musiek kan luister en betalings doen.

MTN kyk veral na markte in Afrika wat nog hoofsaaklik kontantgedrewe is en waar min inwoners ’n eie bankrekening het.

“Ons glo dat hierdie marksegment steeds in Suid-Afrika bestaan, maar ons bou nie mobiele geld vir mense in Sandton of Kaapstad nie.

“Ons bou dit vir plattelandse gemeenskappe en kontant-ekonomieë waar daar steeds ’n gebrek aan formele bankdienste is.”

Ons is nie in dieselfde liga as Discovery, TymeBank of Bank Zero nie. Kontant is ons mededinger. En as ons kontant kan klop, wen almal.
Rob Shuter

Volgens Shuter ding MTN nie mee met kommersiële banke wat digitaal sake doen nie.

“Ons is nie in dieselfde liga as Discovery, TymeBank of Bank Zero nie. Kontant is ons mededinger. En as ons kontant kan klop, wen almal.”

Dit is ook nie die eerste keer dat MTN sy eie kletsdiens begin nie. Hy het NokNok in 2007 bekend gestel as ’n mededinger vir MXit, wat toe baie gewild was.

NokNok het nooit onder Suid-Afrikaners posgevat nie en is in 2011 gesluit.

Die nuwe platform word van voor af ontwikkel deur ’n span van MTN se eie programmeerders, sê Shuter.

Dit sal beskikbaar wees in meer as 50 tale en aanpasbaar wees in elk van die verskillende markte oor die vasteland waarin MTN sake doen.

Die diensverskaffer beplan om sy geïntegreerde “WeChat vir Afrika” later vandeesmaand in Wes-Afrika bekend te stel, waarna dit na ander lande uitgebrei sal word, insluitend Suid-Afrika.

Gebruikers van die diens sal maklik geld tussen mekaar kan stuur en vir goedere en dienste kan betaal.

’n Afsonderlike bankrekening is nie nodig nie.

“Basies wend ons bestaande mobiele infrastruktuur aan op ’n nuwe wyse om finansiële dienste te bied,” verduidelik Shuter.

“Ons vat ’n bestaande kliënt wat lugtyd koop en omskep sy ‘beursie’ wat sy lugtyd bevat, in een wat geld bevat, wat hy kan gebruik om ander dinge mee te koop.”

Meer oor:  Mtn  |  Rob Shuter  |  Tegnologie  |  Mobiele Betalings  |  Betalings  |  Kletsdiens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.