Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
MTN kondig ‘gou’ nuus aan oor goedkoper data
Rob Shuter, uitvoerende hoof van MTN. Foto: Getty Images

MTN-kliënte kan eersdaags ’n aankondiging oor ’n verlaging in die prys van data verwag, sê Rob Shuter, uitvoerende hoof.

Vodacom het vandeesweek sy datapryse ingevolge ’n ooreenkoms met die Mededingingskommissie met tot 40% verlaag. Dit geld van 1 April af.

Die Mededingingskommissie het in Desember gelas Vodacom en MTN moet binne enkele maande afsonderlik ’n ooreenkoms met hom bereik om die “buitensporige hoë prys van data” in Suid-Afrika iets van die verlede te maak.

Die sperdatum waarop die partye dié ooreenkoms moes aangaan, het tegnies reeds verstryk.

Tembinkosi Bonakele, kommissaris, het Dinsdag met Vodacom se aankondiging hieroor gesê MTN is nou op “geleende tyd” en dat hy binnekort ’n ooreenkoms met die kommissie sal moet bereik.

Bonakele verwag ’n aankondiging van MTN binne die volgende paar weke.

Die diensverskaffer het by navraag gesê hy is nog besig om met die kommissie te onderhandel, maar word “bemoedig deur die vordering wat reeds op die gebied gemaak is”.

In ’n onderhoud met die SAUK het Shuter die onderhandelingsproses as “kompleks” beskryf.

“Ons probeer om die regte balans te vind tussen die aanspreek van die kommissie se kommer (oor die prys van data), om meer waarde te bied en terselfdertyd seker te maak ons besigheid bly volhoubaar.”

Ons probeer om die regte balans te vind tussen die aanspreek van die kommissie se kommer (oor die prys van data), om meer waarde te bied en terselfdertyd seker te maak ons besigheid bly volhoubaar.
Rob Shuter

Shuter het toegegee dat transformasie in die prys van data in Suid-Afrika baie nodig is.

Die diensverskaffer het wel in Desember, kort nadat die kommissie sy verslag oor hoë datapryse uitgereik het, gesê die bevindinge daarin “is nie bindend nie en is net voorstelle”.

Shuter het toe ook die kommissie voor stok gekry oor die “slegte lig” waarin hy die selfoondiensbedryf in Suid-Afrika stel.

Volgens hom is MTN se dienste op sy “wêreldklas-netwerk” glad nie so duur as wat die kommissie voorgee dit is nie.

LEES OOK: MTN skop vas teen planne oor 'duur data'

Spektrum bly ’n kopseer

Die gebrek aan bykomende hoëfrekwensiespektrum bly egter ’n stok in die wiel van sulke planne, het Shuter weer herhaal.

Diensverskaffers vra al jare lank dat die regering meer spektrum beskikbaar stel, aangesien dit die koste om data oor netwerke oor te dra, sal verlaag.

Konsepwetgewing daaroor is uiteindelik verlede jaar deurgevoer.

Die Onafhanklike Kommunikasieowerheid, wat verantwoordelik is vir die lisensiëring van bykomende spektrum, het ná Vodacom se aankondiging gesê hy sal seker maak die proses word betyds afgehandel, soos wat pres. Cyril Ramaphosa in sy staatsrede vereis het.

Ramaphosa het aangekondig die opveil van spektrum moet voor die einde van die jaar plaasvind.

Meer oor:  Mtn  |  Data  |  Diensverskaffer  |  Datapryse  |  Tegnologie  |  Maatskappye
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.