Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
MTN kry nóg gesteelde batterye terug
Van die rugsteunbatterye van MTN se selfoontorings wat onlangs teruggevind is. Foto: MTN

MTN maak vordering in sy stryd teen diewe wat sy selfoontorings se batterye steel.

Sewe mense is onlangs aangekeer en 55 gesteelde rugsteunbatterye is teruggekry, het die maatskappy Woensdag in ’n verklaring gesê.

Dit volg op die 143 batterye wat die diensverskaffer in Januarie vanjaar teruggevind het. Die waarde daarvan beloop sowat R1,2 miljoen.

Vodacom en MTN spook behoorlik om “georganiseerde sindikate” se lang vingers af te hou van hul rugsteunbatterye wat selfoontorings van elektrisiteit voorsien wanneer Eskom nie kan nie.

Die diefstal van die toerusting en die vandalisering van persele kos Vodacom tussen R120 miljoen en R130 miljoen per jaar.

MTN bestee eweneens miljoene rande per jaar om die gesteelde batterye te vervang. Van die 55 batterye wat hy teruggekry het, was 32 in die besit van ’n man wat dit oor die grens na Zimbabwe wou neem.

Die polisie het beslag gelê op die gesteelde batterye, die man in hegtenis geneem en op sy voertuig en waentjie beslag gelê.

In ’n ander geval is drie diewe in Greytown, KwaZulu-Natal, aangekeer nadat die polisie ’n wenk ontvang het.

Die drie is op heterdaad betrap by een van MTN se torings. Die polisie het op twee voertuie met vervalste nommerplate en met toerusting daarin beslag gelê.

Die mans is in aanhouding en kan dalk ook met ander sake verbind word.

MTN het ook 16 van sy gesteelde batterye teruggekry nadat hy ’n wenk van ’n ander diensverskaffer ontvang het.

Vodacom en MTN bedryf die meeste van die selfoontorings in Suid-Afrika, met Cell C en Telkom wat dit by hulle huur.

Beurtkrag is die ideale geleentheid vir diewe om toe te slaan op selfoontorings omdat groot gebiede op voorspelbare tye dan in die donker gehul is.

Diensverskaffers is genoop om bykomende veiligheidsmaatreëls by torings te implementeer om die toerusting te beskerm, maar talle torings is in baie afgeleë gebiede wat dit die ideale teiken vir diewe maak.

Vodacom het vroeër aan Netwerk24 gesê hy werk ten nouste met wetstoepassers saam om die skuldiges vas te trek en te vervolg.

“Die duidelike boodskap wat ons aan misdadigers wil stuur, is dat as jy ons selfoontorings teiken, jy gevang en vervolg sal word.”

Sowel MTN as Vodacom glo dat georganiseerde misdaadsindikate agter die grootskaalse diefstal van hul batterye sit.

Meer oor:  Mtn  |  Diensverskaffers  |  Selfoontorings  |  Diefstal  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.