Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
MTN ontken sy SEB-skema is ‘skyn-bemagtiging’

MTN het gesê hy is steeds daarvan oortuig dat sy bemagtigingskema Zakhele Futhi aan die Wet op Breë Swart Ekonomiese Bemagtiging voldoen.

Een van MTN se winkels in Lagos, Nigeriê.

Nieteenstaande het hy daartoe ingestem om sekere veranderinge aan die skema aan te bring om die kwessies aan te pak waaroor die kommissie oor breë swart ekonomiese bemagtiging (B-SEB) besorg is.

MTN het gereageer op die verslag wat die kommissie Donderdag ná ’n ondersoek oor sy bemagtigingskema uitgereik het.

In die verslag het die kommissie gesê die ondersoek het bevind dat die skema elemente van skynbemagtiging bevat en dat die beperkings op die swart aandeelhouers en direkteure van die skema in teenstelling is met wat met die wet beoog word.

Die kommissie het talle aanbevelings gedoen oor hoe MTN die skema moet aanpas om aan die wet te voldoen.

LEES OOK: ‘Skyn-bemagtiging’: MTN kan sy lisensie verloor

MTN sê dis sy aanbevelings wat hy vrywillig voorgestel het.

“MTN bly steeds daarvan oortuig dat die Zakhele Futhi-bemagtigingskema bemagtiging betekenisvol bevorder, aan die relevante bemagtigingswetgewing voldoen wat op die groep van toepassing is; dat die uiteindelike doelstellings van daardie wetgewing bevorder word en dat die terme en struktuur van die skema redelik en kommersieel regverdigbaar is,” lui ’n verklaring.

“MTN erken egter dat bemagtiging ’n reis is en die maatskappy bly daartoe verbind om transformasie te bevorder, en dit is in dié gees dat die groep in die skakeling met die kommissie in goeder trou vrywillig aangebied het om sekere verbeteringe aan die skema aan te bring, wat in wese ooreenstem met die kwessies wat die kommissie geopper het.”

Die groep het waardering uitgespreek dat die kommissie die regstellings wat MTN voorgestel het, erken het.

Die kommissie het gesê die aanbevelings is gedoen nadat MTN bereidwilligheid getoon het om die kwessies aan te pak wat in die voorlopige bevindings aan die groep voorgelê is.

“Ons waardeer dit dat die kommissie erken dat die finale bevindings uitgereik is op grond van die samewerking wat deur MTN gedemonstreer is en dat dit aanbevelings oor regstellings insluit wat deur MTN geïmplementeer gaan word . . .”

MTN het gesê hy is die afgelope 20 jaar aan die voorpunt van bemagtiging in die sektor.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.