Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
MTN plaas hoop op e-bank

Die sterk groeisegment in die telekommunikasiebedryf in Afrika oor die volgende drie tot vyf jaar is steeds datadienste wat met 20% kan groei.

MTN verwag groei van 22% tot R28,5 miljard in sy data-inkomste oor die volgende paar jaar.

mtn
Rob Shuter, uitvoerende hoof van MTN. Foto: Elvira Wood

MTN sien sterk groeigeleenthede in finansiële tegnologie (fintech) en digitale dienste wat met 50% kan groei. MTN wil sy fintech-dienste na vier nuwe markte in die komende jaar uitbrei. Die drywers van dié mark is die groot kontantekonomieë waarin MTN sake doen waar min mense nog bankrekeninge het.

MTN gaan aansoek doen vir ’n e-banklisensie in Nigerië, het Rob Shuter, uitvoerende hoof van MTN, Donderdag gesê.

Die tradisionele banke vind dit te duur om in dié soort markte uit te brei want daar is te min kitsbanke en takke, so dis waar mobiele bankdienste via selfoon sterk kan groei, verduidelik hy.

Stemdienste groei egter steeds, hoewel die mark al redelik versadig is, het Shuter gesê. Dié groei word veral gedryf deur bevolkingsgroei.

MTN het aan elk van die ontleders wat Donderdag sy aanbieding oor sy resultate vir die boekjaar tot einde 2018 bygewoon het ’n basiese slimfoon van $20 geskenk. Dit is deel van sy strategie om meer mense na sy datadienste te lok en hy wil dié soort fone teen volgende jaar wyd versprei oor al sy netwerke in die lande waar hy sake doen.

Dividend

MTN het sy wesensverdienste per aandeel in die boekjaar met 85% tot R3,37 verhoog en ’n slotdividend van R3,25 per aandeel verklaar, vir ’n totale jaardividend van R5 per aandeel.

Ná ’n paar dae van skerp dalings in die aandeelprys het beleggers gehou van die MTN-syfers, en die aandeelprys was Donderdagoggend al 'n hele 11,5% sterker op R84,87.

Terwyl MTN ’n wins van R2,1 miljard gemaak het uit die verkoop van MTN Siprus, moes hy vir die skikking met die sentrale bank van Nigerië R700 miljoen afstaan.

Ralph Mupita, finansiële hoof van MTN, het verduidelik MTN se syfers is deur dié faktore asook die swakker rand geraak.

mtn
MTN sien steeds groei in stemdienste in lande soos Nigerië waar dit deur bevolkingsgroei aangedryf word.

MTN se inkomste uit mobiele data in Suid-Afrika het met 12,7% gegroei, terwyl sy inkomste uit stemdienste met 5,7% gedaal het. Sy dataverkeer in Suid-Afrika het met 41% gegroei.

Die totale inkomste uit sy selfoondienste in Suid-Afrika het met 4,2% tot R36,269 miljard gegroei.

In Nigerië het MTN sy inkomste uit selfoondienste met 17% tot R42,15 miljard gegroei. Stemdienste groei steeds sterk met 18,7%, met inkomste uit data wat met 40% gegroei het.

MTN het teen einde Desember 233 miljoen intekenare gehad, wat 16 miljoen meer is as einde 2017.

Noteer in Nigerië

MTN het steeds planne om MTN Nigerië in die eerste helfte van vanjaar op die Nigeriese aandelebeurs te noteer, onderhewig aan regulatoriese goedkeuring.

MTN is nou meer optimisties oor groei oor die volgende drie tot vyf jaar, met groei in dienste-inkomste wat teen dubbelsyfers kan groei, aangedryf deur sterk groei in Nigerië.

Mupita sê MTN het in Suid-Afrika sterk in ’n nuwe rekeningstelsel belê, afgesien van beleggings ter voorbereiding vir nuwe tegnologie soos 5G.

Mupita het ontleders Donderdag verseker dat MTN se balansstaat sterk genoeg is om skokke te hanteer.

Meer oor:  Mtn  |  Rob Shuter  |  Nigerië  |  Data  |  Selfoondienste  |  Selfoonmaatskappye  |  Digitale Bankdienste  |  Fintech  |  Telekommunikasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.