Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
MTN-resultate: SA nou die agteros

MTN het weens nuwe dataregulasies en die treurige ekonomie 1,9 miljoen intekenare in Suid-Afrika verloor. Oor die grens lyk sake darem rooskleuriger.

MTN
Rob Shuter (links), uitvoerende hoof van die MTN-groep, en Ralph Mupita, finansiële hoof, Donderdag 8 Augustus by die bekendstelling van die maatskappy se halfjaarsyfers tot einde Junie. Foto: William Horne

Die selfoondiensverskaffer het Donderdag sy halfjaarsyfers vir die ses maande tot einde Junie uitgereik.

In Suid-Afrika het MTN sowat 2 miljoen vooruitbetaalde intekenare verloor, terwyl hy slegs 100 000 kontrakkliënte kon wen.

In die res van Afrika en die Midde-Ooste het MTN ’n netto van 7,7 miljoen nuwe intekenare gewerf. Altesame het MTN nou 240 miljoen intekenare.

Volgens Rob Shuter, uitvoerende hoof van die MTN-groep, het die inkrimping van die Suid-Afrikaanse ekonomie, laer datakoste en die nuwe regulasies van die Onafhanklike Kommunikasieowerheid van Suid-Afrika in Februarie MTN se verlies in plaaslike kliënte gedryf.

Dié reëls het onder meer beteken dat die prys van MTN se buitebondeldata tot slegs 29c verlaag is. Data mag ook nie meer soos voorheen aan die einde van ’n tydperk verval nie. Verbruikers koop dus nou minder gereeld data en teen laer pryse, wat die maatskappy se groei in inkomste uit dié kerndiens beduidend laat verlangsaam.

Die groep se totale inkomste uit data, wêreldwyd, het met 19,8% gegroei. In Suid-Afrika was die groei net 5,6%.

Shuter is egter optimisties.

MTN halfjaarresultate:

Die syfers is vir die hele MTN-groep en is vir die eerste helfte van 2019 vergeleke met die ooreenstemmende tyd van 2018:

* Inkomste styg met 15,5% tot R72,5 miljard

* Bedryfswins styg met 40,7% tot R15,25 miljard

* Netto wins styg met 54% tot R4,69 miljard

* Netto skuld styg met 11,5% tot R70,8 miljard

* Netto kontant daal met 2,1% tot R13 miljard

* Wesensverdienste per aandeel styg met 8,8% tot R1,95

* Tussentydse dividend van 195c is verklaar, 11,4% meer as in 2018

Hy sê sy kliënte se gebruikspatrone sal aanpas en teen begin volgende jaar sal groei in die datakategorie weer plaaslik aanvaarbaar wees.

Shuter verduidelik ook dat die makro-ekonomie só verswak het dat die druk op verbruikers net te groot geraak het.

Volgens hom het ’n meerderheid van die 2 miljoen verlore intekenare gekom uit mense wat ’n MTN-promosie “uitgebuit” het. Verbruikers wat ’n nuwe MTN-SIM-kaart gekoop het, het ’n gratis gigagreep data ontvang. Shuter sê miljoene het ’n SIM gekoop, die data opgebruik, en net weer ’n SIM gekoop totdat die promosie gestaak is. Hulle het nie permanent MTN-intekenare geword nie.

Hy sien ook ’n positiewe kant van dié saak.

“Dit het vir ons ontslae geraak van intekenare wat nie vir ons inkomste kan of sou genereer nie,” sê hy.

Nou kan nuwe dienste en produkte beter op hoërgehalte-intekenare gefokus word.

MTN is ook besig om ander maniere te vind om geld uit individue se toenemende aptyt vir data te maak. Vir eers is daar egter nog ’n paar slaggate.

Cell C skuld miljoene

Cell C benut al sedert Oktober 2018 MTN se netwerkselfoontorings om sy eie kliënte beter te bedien, maar weens sy beleërde finansiële posisie skuld hy MTN nou al R393 miljoen.

Ralph Mupita, finansiële hoof van MTN, het beklemtoon dat MTN nie baie bekommerd daaroor is nie.

MTN het juis Woensdag ’n bykomende ooreenkoms met Cell C gesluit waardeur Cell C nóg van MTN se infrastruktuur sal benut.

Mupita het aandeelhouers gepaai en gesê MTN is vol vertroue dat die betalings wel sal kom en dat geen stappe teen Cell C gedoen word nie.

“Dis ’n rekeningkundige formaliteit,” verduidelik hy.

Shuter sê weens die nuwe en strenger rekeningkundige reëls uit die aanvaarding van nuwe internasionale finansiële rekenkundige standaarde (IFR-standaarde), word fakture wat nie dadelik betaal word nie, nou uit die boeke gehou, al is die maatskappy oortuig daarvan dat die geld wel inkom.

Bedryfsbesteding

MTN het 3,7% meer bedryfsuitgawes gehad, hoofsaaklik om sy netwerk uit te brei. Dit stel hom op sy beurt in staat om sy infrastruktuur aan ander verskaffers te verhuur en só nog inkomste te skep.

MTN moes egter ook heelwat aan diesel en kragopwekkers bestee as versekering teen moontlike beurtkrag, ná Februarie en Maart se fase 4-beurtkrag.

Nigerië

Vir die MTN-groep as geheel word groei nou deur Nigerië gedryf.

Die inkomste wat uit Nigerië gegenereer word, is nou R22,2 miljard. In Suid-Afrika staan inkomste vir die halfjaar op R22,3 miljard.

“Nigerië se groei, indien dit volgehou word, sál Suid-Afrika s’n oorskry, ja,” sê Shuter.

Meer oor:  Mtn  |  Maatskappyresultate
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.