Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
MTN wil filiaal in New York noteer

Die Afrika- aanlyn kleinhandelaar Jumia beplan ’n notering later vanjaar op die New Yorkse aandelebeurs wat sy waarde op sowat $1,5 miljard kan plaas.

MTN, die grootste aandeelhouer in Jumia, beplan om met die notering tot $600 miljoen vir sy aandele te kry,

Jumia verskaf dienste soortgelyk aan dié van Amazon en het platforms in 13 Afrikalande.

MTN, die grootste aandeelhouer in Jumia, beplan om met die notering tot $600 miljoen vir sy aandele te kry, sê ’n bron wat anoniem wil bly.

MTN en Jumia wou nie kommentaar lewer nie.

Bronne het in Augustus verlede jaar gesê MTN oorweeg dit om sy aandele deur ’n notering of private plasing te verkoop.

’n Amerikaanse notering sal Jumia, wat in Lagos, Nigerië gesetel is, in die internasionale kollig plaas ná sewe jaar van snelle groei in Afrika.

Jumia word beskryf as ’n sogenaamde “eenhoring” in Afrika – ’n private maatskappy wat meer as $1 miljard werd is. Hy is een van net drie, volgens die navorsingsfirma CB Insights.

Die maatskappy is in 2012 deur die Franse entrepreneurs Sacha Poignonnec en Jeremy Hodara geskep ten einde voordeel te trek uit groeiende internetgebruik op die wêreld se swaks gekonnekteerde vasteland, asook ’n gebrek aan ontwerper-sonbrille en -horlosies in die winkels in Lagos.

Internettoegang in Afrika

Jumia sal aan beleggers vertel twee derdes van Afrika se bevolking van 1,2 miljard het steeds nie toegang tot die internet nie.

Dit bied dus beduidende groeipotensiaal.

Alphabet se Google en ook Facebook werk daaraan om verbindings na meer afgeleë en armer dele van Afrika uit te brei.

MTN kan Jumia in New York noteer teen ongeveer dieselfde tyd as die notering van MTN se Nigeriese afdeling in Lagos, waarop hy ooreengekom het as deel van die reguleringsboete van $1 miljard wat in 2016 aan hom opgelê is.

Laasgenoemde sal in twee fases gedoen word, met ’n aanvanklike notering in die eerste helfte van die jaar, gevolg deur die verkoop van sy meerderheidsbelang, het Rob Shuter, uitvoerende hoof van MTN, onlangs aan beleggers gesê.

Die suksesvolle notering van sowel Jumia as sy Nigeriese afdeling kan help om MTN se skuldlas te verminder. Dit het van R57,1 miljard aan die einde van 2017 tot R69,8 miljard in Junie 2018 gestyg.

Toenemende laste en ’n geskil oor belasting in Nigerië plaas druk op MTN se aandeelprys, wat die afgelope 12 maande met byna ’n derde geval het.

MTN het Dinsdag teen R86,95 op die JSE verhandel.

Goldman Sachs, Millicom International Cellular, Orange en Africa Internet Group, ’n onderneming wat deur Goldman gesteun word, MTN en Rocket Internet is die huidige aandeelhouers in Jumia. – Bloomberg

Meer oor:  Mtn  |  Jumia  |  Tegnologie  |  E-Handel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.