Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
MTN skop vas teen planne oor ‘duur data’
Suid-Afrikaners kla reeds jare lank dat data te duur is. Foto: Unsplash

Rob Shuter, uitvoerende hoof van MTN, het Donderdag tydens ’n konferensieoproep met beleggers gemaan die uitslag van die Mededingingskommissie se verslag oor die “buitensporige duur prys” van data in Suid-Afrika net ’n oorsig van die mark is, en nie ’n ondersoek met ’n wetlike implikasie nie.

“Die bevindinge is dus nie bindend en net voorstelle,” sê Shuter.

Die Mededingingkommissie het vroeër vandeesmaand sy finale verslag oor die prys van data in Suid-Afrika bekend gemaak.

Daarin eis die kommissie dat “drastiese ingrypings” in die bedryf nodig is, veral om armer Suid-Afrikaners teen “uitbuiting” van groot selfoondiensverskaffers soos MTN en Vodacom te beskerm.

Die kommissie het etlike stappe aangekondig waaraan diensverskaffers oor die volgende paar maande moet voldoen, maar volgens Shuter is hulle onder geen wetlike verpligting om onmiddellik daaraan gehoor te gee nie.

“Die kommissie stel in sy verslag voor dat die bedryf met hom in gesprek tree oor die voorgestelde veranderinge, maar hulle sê ook dat hulle diensverskaffers gaan vervolg as vooruitgang nie gemaak word nie.”

Volgens Shuter sal dit nie so eenvoudig vir die kommissie wees om diensverskaffers te vervolg as hulle oënskynlik nie gehoor gee aan die voorgestelde veranderinge nie.

Dit sluit in dat MTN en Vodacom die prys van data drasties binne twee maande moet sny. Die kommissie stel ’n kosteverlaging van tussen 30% en 50% voor.

Enige klagte teen ’n diensverskaffer sal egter eers na die Mededingingstribunaal verwys moet word waar die kommissie sal moet bewys die betrokke netwerk het nie gehoor gegee aan sy vereistes nie.

“Dit sal ons (MTN) die geleentheid gee om ons kant van die saak te stel.”

MTN ‘se kant van die saak’

Shuter het tydens die oproep kortliks uitgewei oor wat die maatskappy beskou as tekortkominge in die kommissie se verslag en sy gevolgtrekkings.

Volgens Shuter is MTN se selfoondienste op sy “wêreldklas-netwerk” glad nie so duur as wat die kommissie voorgee nie.

“As jy kyk na data op kontrak, is MTN se prys die laagste uit al die Brics-lande en 12de uit die lys van mees bekostigbare 43 Afrikalande.”

MTN is ook 37ste op ’n internasionale lys van 167 lande wat bekostigbaarheid betref.

Hy gee egter toe MTN “kan verbeter” op hoe hy die prys van data vir vooruitbetaalde kliënte struktureer.

 selfoontoring
MTN se selfoontorings word so erg gevandaliseer en besteel dat dit die selfoondekking nasionaal kan raak. Foto: Unsplash

Vooruitbetaalde data ‘net 21% van inkomste’

MTN se totale bedryfsinkomste in Suid-Afrika vir die halfjaar tot einde Junie was ongeveer R18 miljard, waarvan R6 miljard net uit data verdien is. Volgens Ralph Mupita, finansiële hoof, was R3,7 miljard van die R6 miljard uit die verkoop van vooruitbetaalde data verdien.

“Vooruitbetaalde data beloop dus net 21% van ons totale inkomste,” sê hy.

Die kommissie het diensverskaffers erg oor die kole gehaal vir die groot verskil in die prys vir 500 megagreep data vir vooruitbetaalde- en kontrakkliënte.

Mupita sê MTN het in die halfjaar net 10% van sy inkomste uit die verkoop van “kleiner” databondels verdien, dit wil sê bondels van 500 megagrepe en minder, aan sy vooruitbetaalde kliënte.

Die spesifieke bondels waarna die kommissie verwys – naamlik 500 megagrepe wat geldig is vir 30 dae – het net 1% van MTN se inkomste in die halfjaar uitgemaak.

Volgens Shuter is dit “teleurstellend en onnodig” dat die kommissie gekies het om die mark vir selfoondienste in sy verslag in so ’n “slegte lig” te stel.

“Selfoondienste is een van die min areas waar alle Suid-Afrikaners toegang het tot ’n wêreldklasdiens.”

“Ons glo nie die verslag maak genoeg melding van die vordering wat gemaak is met datapryse nie.”

Shuter meen dis onregverdig dat MTN oor dieselfde kam geskeer word as Vodacom want MTN is ’n “baie kleiner diensverskaffer”.

“MTN genereer ongeveer 50% minder inkomste, laer opbrengste en ding aktief mee teen ’n baie sterk markleier.”

MTN se markaandeel beloop sowat 30,3% teenoor Vodacom se 43,4%.

Telkom en Cell C deel die oorblywende marksegment.

Wat volgende stappe betref sê Shuter die diensverskaffer gaan voort om “konstruktiewe gesprekke” met die kommissie te voer en hoop om gou ’n oplossing te bereik.

Meer oor:  Mtn  |  Selfoondienste  |  Datakoste  |  Datapryse  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.