
MTN se hoofkantoor in Fairlands, Johannesburg.Foto: Getty Images
MTN se aandeelprys het Vrydag met meer as 5% gestyg nadat dit aan die lig gekom het sy jarelange stryd in Nigerië oor agterstallige belasting is vir eers afgehandel.
Nigerië se prokureur-generaal het sy saak teen MTN oor die beweerde wanbetaling van $2 miljard se belasting laat vaar en die saak weer na die land se belastingowerheid verwys.
MTN is die markleier met die verskaffing van sellulêre dienste in Nigerië. Hy sukkel reeds die afgelope 16 maande om die owerhede daar (en sy aandeelhouers) te oortuig dat hy nie agterstallig is met sy belasting nie.
Die prokureur-generaal se besluit baan nou die weg vir ’n “ordelike en vriendskaplike oplossing van die saak”, sê Rob Shuter, uitvoerende hoof, in ’n verklaring.
MTN Nigerië is verlede week per brief ingelig dat die prokureur-generaal sy saak laat vaar en dat dit nou na die relevante belastingowerhede verwys word.
Volgens Shuter is MTN “steeds daartoe verbind om ons fiskale verantwoordelikhede na te kom en by te dra tot die maatskaplike en ekonomiese ontwikkeling van Nigerië en al die lande waar ons werksaam is”.
Met minstens 60 miljoen intekenare is Nigerië MTN se grootste mark en sorg dit vir ’n derde van die maatskappy se wins.
Die diensverskaffer stamp egter gereeld koppe met die Nigeriese owerhede oor beweerde belastingontduiking en boetes wees ongeregistreerde simkaarte.
MTN het egter deurgaans ontken dat hy $2 miljard in agterstallige belasting skuld en aangevoer sy belastingbetalings is op datum.
Sy aandeelprys het egter nog nie volkome herstel sedert hy in 2018 ’n massiewe boete van $5 miljard opgelê is omdat hy nie betyds ongeregistreerde simkaarte van sy netwerk verwyder het nie.
Die boete is later tot $1 miljard verminder.
MTN se aandeelprys is steeds 22% laer as wat dit was voordat hy die boete in September 2018 opgelê is.
Sy aandeelprys het Maandagoggend teen R82,94 verhandel, 4,4% hoër as Vrydagmiddag kort voor die nuus uit Nigerië aangekondig is.