Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
MTN verkoop R3,7 mjd. se data per maand
Rob Shuter, uitvoerende hoof van MTN. Foto: Getty Images

MTN het in die ses maande tot einde Junie meer as R7 miljard verdien uit die verkoop van data.

Dit is net in Suid-Afrika.

Sy totale dataverkope in al die lande waar hy sake doen, beloop meer as R22,6 miljard. Dit bring MTN se gemiddelde maandelikse inkomste uit data op meer as R3,7 miljard te staan.

Dit is 40,8% hoër as die ooreenstemmende tyd verlede jaar, toe daar natuurlik nie ’n wêreldwye pandemie was wat miljoene mense gedwing het om van die huis af te werk en van selfoondata gebruik te maak nie.

MTN het Donderdag sy resultate vir die halfjaar tot einde Junie aangekondig.

Sy inkomste in Suid-Afrika is ’n aansienlike 5,7% laer op R21,1 miljard ten spyte van sy stewige dataverkope en ’n toename in sy aantal intekenare.

Bedryfsinkomste is eweneens 2,5% laer, hoofsaaklik omdat Cell C sukkel om sy skuld aan MTN te delg.

MTN het in 2019 reeds begin om betalings van Cell C as kontant op sy state aan te gee in stede van as inkomste.

Dis omrede Cell C nie altyd sy betalings aan MTN betyds bybring nie, wat beteken dit kan nie as inkomste verklaar word nie.

Cell C het R788 miljoen in die ses maande aan MTN betaal, terwyl ’n verdere R673 miljoen nog uitstaande is.

Cell C maak uitsluitlik van MTN se netwerkinfrastruktuur gebruik in stede daarvan om sy eie in stand te hou.

Telkom het ’n soortgelyke ooreenkoms met MTN gehad wat intussen gekanselleer is en wat tot ’n verlies aan daardie bykomende inkomste gelei het.

Sou hy die impak van Cell C en Telkom se verlies buite rekening laat, is sy bedryfsinkomste in Suid-Afrika 2,3% hoër as ’n jaar gelede, sê MTN.

MTN het nou 137 000 meer intekenare as ’n jaar gelede vir ’n totaal van 29,1 miljoen.

Hy het wel in die eerste drie maande onder oorsig heelwat vooruitbetaalde kliënte verloor nadat hy ’n spesiale aanbod op een gigagreep se data laat vaar het.

Altesaam 349 000 vooruitbetaalde kliënte het uiteindelik MTN se netwerk in die ses maande verlaat.

MTN het nou 22,5 miljoen vooruitbetaalde kliënte.

Sy getal kontrakkliënte het terselfdertyd met 486 000 tot 6,6 miljoen toegeneem.

Inkomste verdien uit die verkoop van data is 16,7% hoër as ’n jaar gelede en verkeer op sy netwerk is ’n verstommende 77% hoër op ’n jaargrondslag.

Afrika en die Midde-Ooste

As ’n groep het MTN 10,6 miljoen nuwe intekenare in die ses maande bygekry.

Sy totale getal intekenare in al die lande waar hy sake doen, beloop nou 261,5 miljoen. Dit maak MTN een van die grootste diensverskaffers in die wêreld.

MTN se totale bedryfsinkomste (as ’n groep) is ’n stewige 9,4% hoër op R80,2 miljard.

Dit is hoofsaaklik te danke aan goeie groei in sy bedryfsinkomste in veral Nigerië (12,4%) en Ghana (19,4%).

MTN het aangekondig hy beplan om sy bedrywighede in die Midde-Ooste te laat vaar, insluitende in Iran, Afghanistan en Sirië.

Hy wil eerder op die ontwikkeling van sy aanbod in Afrika fokus, sê die maatskappy.

MTN word natuurlik in Amerika gedagvaar vir sy beweerde ondersteuning van die Taliban in Afghanistan, en sukkel ook al geruime tyd om miljoene in inkomste uit Iran te repatrieer.

MTN het begin om sy belang van 75% in MTN Sirië aan Teleinvest te verkoop. Teleinvest besit reeds 25% van MTN Sirië.

MTN verdien betreklik min uit sy bedrywighede in die Midde-Ooste in vergelyking met sy bedrywighede veral in Wes-Afrika.

Die maatskappy het nie ’n tussentydse dividend verklaar nie, hoofsaaklik weens die onsekerheid van die toekomstige finansiële impak van die koronaviruspandemie.

’n Finale dividend sal aan die einde van die jaar oorweeg word, sou ekonomiese toestande dit toelaat.

Sy aandeelprys op die JSE het Donderdagoggend met 2% tot R61,33 gestyg.

Meer oor:  Mtn  |  Diensverskaffer  |  Tegnologie  |  Resultate  |  Maatskappye
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.