Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
MTN vier kwarteeu, dek 95% van SA
MTN is vanjaar 'n kwarteeu oud. Foto: Reuters

MTN vier vandeesmaand nie net sy 25ste verjaarsdag nie, die diensverskaffer dek nou ook 95% van Suid-Afrika met 4G.

Die netwerk, wat in 1994 begin is, het dié mylpaal Donderdag aangekondig.

Dit beteken bykans die hele Suid-Afrika word nou deur MTN se netwerk bedien wat inwoners in selfs die kleinste gehuggie toegang tot kommunikasie gee.

Volgens MTN het hy meer as R40 miljard oor die laaste vier jaar in die uitbreiding van sy infrastruktuur belê. Hy gaan steeds voort om verder in ontluikende tegnologie soos 5G te belê, sê Godfrey Motsa, uitvoerende hoof van MTN in Suid-Afrika.

5G is die opvolger van 4G en bied ’n ongelooflik vinnige internetspoed oor tradisionele selfoonnetwerke.

Rain, ’n mededinger van MTN, het reeds ’n kommersiële 5G-netwerk in Pretoria en Johannesburg bekend gestel.

Diensverskaffers wag egter nog op die toekenning van meer beskikbare hoëfrekwensieradiospektrum alvorens 5G meer algemeen beskikbaar sal word.

Die tegnologie is tans nog in sy babaskoene en heelwat bykomende infrastruktuur sal ook opgerig moet word voordat dit op groot skaal gebruik kan word.

Volgens Motsa is MTN “op die voorgrond” van ontwikkeling op dié gebied.

MTN was byvoorbeeld ook die eerste Suid-Afrikaanse netwerk om 4G-tegnologie in 2011 in werking te stel, sê hy.

MTN is tans Suid-Afrika se tweede grootste netwerk gegrond op aantal intekenare.

Die diensverskaffer het wel weens nuwe dataregulasies en die treurige ekonomie bykans twee miljoen intekenare verloor in die eerste ses maande van die jaar.

Die netwerk het steeds meer as 30 miljoen intekenare in Suid-Afrika waarvan verreweg die meeste vooruitbetaalde kliënte is.

25 jaar van MTN:

Die eerste oproep op die MTN-netwerk word in 1994 gemaak.

In daardie stadium het net 1% van swart Suid-Afrikaners ’n selfoon besit en daar was nog 4 miljoen landlyne.

In 1996 maak MTN dit moontlik om SMS’e op sy netwerk te kan stuur. Hy stel ook sy vooruitbetaalde dienste bekend, die eerste Suid-Afrikaanse netwerk om dit te doen.

Hy was ook een van die eerste netwerke om in 2005 3G bekend te stel, wat die spoed van selfooninternet aansienlik verbeter het.

4G volg in 2011 met 5G wat eersdaags verwag word.

MTN doen tans sake in meer as 20 lande en is Afrika se grootste diensverskaffer. MTN het altesaam meer as 300 miljoen intekenare, verreweg die meeste in Nigerië waar dit die markleier is.


Meer oor:  Mtn  |  Netwerk  |  Diensverskaffer  |  Tegnologie  |  Selfoonnetwerk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.