Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
MTN, Vodacom gelooi ná nuus oor goedkoper data

MTN se aandeelprys het Dinsdag tot sy laagste vlak in nege maande geval nadat die Mededingingskommissie aangekondig het dié diensverskaffer moet die prys van sy data binne twee maande met tot die helfte verlaag.

Vodacom
Vodacom se aandeelprys is gelooi ná die aankondiging dat hy sy datapryse met die helfte moet sny. Foto: Getty Images

Die maatskappy se aandeelprys was in ’n stadium 8,4% laer op R84,61 voordat dit weer ietwat herstel het.

MTN en Vodacom is Maandag deur die Mededingingskommissie oor die kole gehaal vir skynbaar onmededingende gedrag en dat hulle doelbewus veral armer Suid-Afrikaners met die prys van data uitbuit om hul wins op te stoot.

Vodacom se aandeelprys het ook ’n loesing gekry en was Maandag in ’n stadium bykans 8% laer op R111,56 – sy laagste vlak sedert die einde van Augustus.

Telkom se aandeelprys het ook sy afwaartse trajek voortgesit en bykans 4% prysgegee.

Die bloedbad op die JSE vir die plaaslike diensverskaffers is ’n regstreekse gevolg van die Mededingingkommissie se aankondiging Maandag dat “drastiese ingrypings” in die bedryf genoodsaak word om verbruikers teen “buitensporig hoë datapryse” te beskerm.

Die kommissie het etlike stappe aangekondig waaraan die diensverskaffers, maar veral Vodacom en MTN as die twee grootste rolspelers oor die komende maande sal moet voldoen, of hulle kan vervolg word.

Cell C is die enigste diensverskaffer wat nie afsonderlik op die JSE genoteer is nie.

Cell C het by navraag gesê hy neem kennis van die kommissie se verslag en hy erken dat laer datakoste ’n “katalisator vir ekonomiese groei is”.

“Daarom verwelkom ons die stappe om die koste van data te verlaag.”

Op sy beurt sê Telkom hy is “verheug” dat die kommissie bevind het die selfoonbedryf in Suid-Afrika is in die greep van ’n duopolie sonder enige doeltreffende mededinging.

Dit lei tot die hoë prys van data, sê hy.

Die diensverskaffer doen voorts ’n beroep op die kommissie om die “markstruktuur” in oënskou te neem en al die “komponente” wat aanleiding gee tot hoë datapryse, te hersien. Dit sluit die toekenning van verdere hoëfrekwensiespektrum in.

Tembinkosi Bonakele, voorsitter van die kommissie, het egter Maandag gesê diensverskaffers se klagtes dat die gebrek aan beskikbare spektrum die prys van data opstoot, hou nie water nie.

Volgens Bonakele bestee diensverskaffers betreklik min aan die lisensiëring van spektrum, hoewel die prys van data in sommige gevalle tot 20% hoër is as wat nodig is.

Vodacom sê hy verskil van die kommissie hieroor. “Vodacom het keer op keer al gesê dat die gesloer met die toekenning van meer spektrum ’n uitwerking het op die tempo waarteen die prys van data kan daal.”

Volgens die diensverskaffer is dit verregaande dat die kommissie nie die invloed van die gebrek aan spektrum in sy bevindinge verreken het nie, en die belangrikheid daarvan probeer onderspeel.

Dit is strydig met die Onafhanklike Kommunikasieowerheid (Okosa) se bevinding dat die toekenning van meer spektrum “noodsaaklik” is ten einde die prys van data te verlaag, sê Vodacom.

MTN het ook gesê hy moes in die laaste vyf jaar R50 miljard aan die uitbreiding van sy netwerkinfrastruktuur bestee om te vergoed vir die gebrek aan genoeg spektrum.

Okosa het nog nie op die Mededingingskommissie se bevindinge en voorgestelde veranderinge aan die bedryf reageer nie.

As reguleerder van die bedryf sal Okosa ’n bepalende rol speel in die implementering van die kommissie se voorgeskryfde veranderinge.

Okosa het wel Vrydag ’n besprekingsdokument uitgereik waarin hy opnuut aanvoer dat die toekenning van meer spektrum tot die “broodnodige” verlaging van datapryse sal lei.

MTN se aandeelprys het Dinsdagoggend 0,62% laer teen R85,84 verhandel. Vodacom was 1% laer op R114,03.

Meer oor:  Mtn  |  Cell C  |  Vodacom  |  Telkom  |  Mededingingskommissie  |  Datakoste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.