Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
MTN wil hofsaak oor ‘hulp aan Taliban’ laat skrap

MTN het by ’n Amerikaanse hof aansoek gedoen dat ’n klag dat hy die land se wetgewing teen terreur oortree het, geskrap word.

MTN is een van agt internasionale maatskappye wat saam met van hul filiale daarvan beskuldig word dat hulle verskeie jare lank miljoene dollar aan omkoopgeld aan die Taliban in Afganistan betaal het.

Die klag is op 27 Desember by die distrikshof in Washington D.C. ingedien.

MTN het ’n formele versoek ingedien dat die klag om die volgende twee redes geskrap word:

  • ’n Amerikaanse hof beskik oor geen regsaanspraak oor MTN nie, want die maatskappy doen nie in die land sake nie; en
  • Die klag kom nie neer op die oortreding van Amerikaanse wetgewing teen terreur nie.

MTN sê hy kan in dié stadium van die hofsaak nie die feitlike bewerings beveg nie.

Dit sluit in dat hy na bewering tot $2 000 per selfoontoring per maand aan die Taliban betaal het om te verseker dat die terroristegroep dit nie opblaas nie.

Dié betalings is glo ook deels met Amerikaanse geld gedoen.

Volgens MTN het hy nog altyd op ’n “verantwoordelike en nakomende manier” in al sy grondgebiede sake gedoen.

Die maatskappy sê wel hy voel “diep simpatie vir diegene wat beseer is of geliefdes verloor het as gevolg van die konflik in Afganistan”.

Die verweerders in die saak is juis Amerikaanse burgerlikes en weermaglede wat tydens die oorlog in Afganistan beseer is, sowel as familielede van soldate wat in die oorlog dood is.

MTN sê egter hy is nie die “ekstremiste wat die verweerders se tragiese verliese of beserings veroorsaak het nie”.

“MTN is deur die Wêreldbank geloof vir sy uitbreiding van kommunikasiedienste in die verarmde Afganistan en was self al die teiken van geweld in daardie oorloggeteisterde land.”

MTN het in 2006 die moontlikheid begin ondersoek om sake in Afganistan te doen, ondanks die oorlog tussen Amerikaanse koalisiemagte en die Taliban.

Die oorlog woed steeds.

In MTN se jaarverslag van 2007 het die maatskappy erken Afganistan is ’n "uitdagende” gebied om in sake te doen, maar dat hy “aktief” gaan probeer om die uitdagings die hoof te bied.

Afgesien van die betaal van omkoopgeld beweer die klaers ook dat MTN gehoor gegee het aan die Taliban se versoek dat MTN sy selfoontorings saans tussen 17:00 en 06:30 afgeskakel hou.

Dit is gedoen sodat koalisiemagte nie die torings kon gebruik om die ligging van prominente Taliban-lede te bepaal nie.

Meer oor:  Mtn  |  Afganistan  |  Tegnologie  |  Terreur  |  Selfoonmaatskappye  |  Taliban  |  Telekommunikasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.