Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
MultiChoice: Nuwe vakbond kry stem oor afleggings

MultiChoice het glo ingestem om die Information and Communication Technology Union (Ictu) by onderhandelinge oor afleggings by die betaaltelevisiefirma in te sluit.

Calvo Mawela, uitvoerende hoof van MultiChoice.

Dit is selfs al het Ictu nie ’n bedingingsooreenkoms met die firma nie en is daar ’n geskil oor hoeveel werknemers Ictu regtig verteenwoordig.

Ictu het MultiChoice Sondag daarvan beskuldig dat hy “onregmatig” met ’n art. 189-proses begin het wat 2 194 werknemers by oproepsentrums en takke raak. Ictu beweer hy verteenwoordig 1 790 van dié werkers.

Aubrey Tshabalala, hoofsektretaris van die Communication Workers Union (CWU), sê die CWU is die enigste vakbond wat ’n bedingingsooreenkoms met MultiChoice het. Hy sê egter die CWU stel nie daarin belang om in ’n “politieke skoonheidskompetisie” betrokke te raak nie en wil eerder probeer om soveel as moontlik van die poste wat in gedrang is te red.

Die vakbond het verlede jaar daarin geslaag om afleggings by SuperSport af te weer.

Ictu, wat maar verlede jaar gestig is, is by Zwelinzima Vavi se betreklik nuwe vakverbond, die South African Federation of Trade Unions (Saftu), geaffilieer, terwyl die CWU ’n Cosatu-vakbond is. Vavi was voorheen leier van Cosatu.

Die CWU vergader Woensdag met MultiChoice se bestuur in aanloop tot die onderhandelinge wat Vrydag by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie begin.

Die beoogde herstrukturering kom in die lig daarvan dat DStv-kykers hul probleme deur selfhelpkanale aanlyn en op die app oplos, volgens MultiChoice.

Ictu het Maandag in ’n nuusverklaring beweer MultiChoice “viktimiseer” mense wat by dié vakbond wil aansluit.

Thabang Mothelo, Ictu se skakelbeampte, sê MultiChoice het “onvoorwaardelik om verskoning” gevra dat hy die vakbond nie genader het voor Vrydag se aankondiging nie.

Mothelo sê die vakbond vra dat die aanbod van vrywillige skeidingspakkette opgeskort word en eers weer daaroor gekonsulteer word.

“Ons bly verbind tot ’n proses wat nie reeds voorafbepaal is nie. Wat MultiChoice reeds in die proses gedoen het, sal moeilik wees om te verdedig sonder om te erken dat hul optrede ’n wesentlike invloed op die afleggings gehad het, eerder as tegnologiese vordering en verbruikersvoorkeure vir selfhelpopsies.”

Albei vakbonde voer aan dat MultiChoice nié om finansiële redes mense hoef af te lê nie.

Ictu voer aan verskeie mense is afgedank of geviktimiseer sedert dié vakbond in 2018 begin lede werf het. Ictu eis daarom dat MultiChoice werknemers inlig van hul reg om by enige vakbond van hul keuse aan te sluit.

MultiChoice het nog nie op vrae gereageer nie.

Meer oor:  Saftu  |  Ictu  |  Cosatu  |  Cwu  |  Multichoice  |  Betaaltelevisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.