Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
MultiChoice-ondersoek ‘moet onafhanklik wees’

MultiChoice se interne ondersoek na die ANN7-kontrak en ander omstredenhede is vir baie ontleders ontoereikend.

Naspers se reaksie daarop – waarin die maatskappy se direksie ’n beroep doen dat MultiChoice die kans gegun word om sy ondersoek te voltooi – lok ook kritiek uit.

“Naspers se voorsitter (Koos Bekker) moes vinniger en meer openlik gereageer het. Ek voel ná al die skandale wat ons gesien het – met KPMG, Bell Pottinger, McKinsey en SAP – moes hulle besef het wat die omvang van die reputasieskade kan wees,” sê Shane Watkins, beleggingshoof van die batebestuursfirma All Weather Capital, wat R1 miljoen se Naspers-aandele besit.

Watkins het onlangs in ’n ope brief geskryf dat hy reeds sedert Julie met Bekker in gesprek was oor ANN7, wat tot baie onlangs toe aan die omstrede Gupta-familie behoort het.

“Daar is twee aspekte: Is so ’n interne ondersoek voldoende en onafhanklik, en sal dit beskou word as voldoende en onafhanklik? Die antwoord is nee,” sê Watkins oor MultiChoice se aankondiging Vrydagoggend dat sy direksie se oudit- en risikokomitee die ANN7-kontrak en ander bewerings teen MultiChoice gaan ondersoek.

Watkins sê so ’n interne ondersoek kan nie onafhanklik wees nie omdat die maatskappy nie sy eie oortredings kan ondersoek nie.

Selfs al word die ondersoek deur onafhanklike en nie-uitvoerende direkteure gedoen wat dalk hul werk vreesloos doen, voel Watkins daar sal steeds die persepsie wees dat die ondersoek nie onafhanklik is nie.

Koos Bekker, voorsitter van Naspers se direksie. Foto: Lerato Maduna

Watkins beskou dit as onvoldoende dat Koos Bekker, nie-uitvoerende voorsitter van Naspers, en Bob van Dijk, uitvoerende hoof, volhou MultiChoice moet sy eie sake ondersoek voordat Naspers se direksie dit sal beoordeel.

“In werklikheid besit Naspers 80% van MultiChoice. Dis ’n arm wat deel is van dieselfde liggaam – Naspers het feitlik volle beheer oor MultiChoice.”

Hy beskryf die reaksie as “teleurstellend”. “Dit is tekenend van die korporatiewe kultuur van Naspers en ’n mate van arrogansie.

“Naspers was in die verlede nie besonder aandeelhouervriendelik nie.”

Watkins sê die maatskappy se aandeelhouerstruktuur, waar ’n betreklik klein groep mense se stemreg baie groter is as dié van gewone aandeelhouers, is deel van die probleem. Die direksie sou “anders opgetree het” indien hulle deur gewone aandeelhouers uitgestem sou kon word, sê hy.

Phumzile van Damme, DA-woordvoerder oor kommunikasie, sê ook die MultiChoice-ondersoek is onvoldoende. Sy hou vol dat die parlement en die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika (Okosa) die aangeleentheid moet ondersoek.

Intussen hoop Van Damme dat MultiChoice wel die resultate sal publiseer. Naspers se direksie sê MultiChoice sal wel aan die publiek verslag doen.

Van Damme sê die DA wil nie noodwendig voorskryf dat MultiChoice sy kontrak met ANN7 kanselleer nie, maar die betalings moet beslis ondersoek word.

Die DA het nog nie reaksie van Okosa gekry op sy eis vir ’n ondersoek nie.

Netwerk24 is ’n produk van Media24, ’n filiaal van Naspers

Meer oor:  Ann7  |  Naspers  |  Multichoice  |  Koos Bekker  |  Phumzile Van Damme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.