Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
MultiChoice se Phuthuma Nathi verdubbel in waarde

Die waarde van Phuthuma Nathi-aandele het die afgelope week byna verdubbel ná die nuus dat Naspers sy afdeling vir videovermaak afsonderlik as MultiChoice Group gaan noteer.

Calvo Mawela, uitvoerende hoof van MultiChoice Suid-Afrika. Foto: Sydney Seshibedi, Getty Images

Die aandeel het op 14 September op R87 gesluit en ’n week later op R170 – ’n styging van meer as 95% en die hoogste sluiting in minstens drie jaar vir dié aandeel.

Die volume verhandeling het ook die hoogte ingeskiet.

In dieselfde week het Naspers se aandeel met 2% tot R3 248,07 gestyg.

Phuthuma Nathi besit 20% van MultiChoice Suid-Afrika, wat voor die beoogde ontknoping tot 25% verhoog gaan word.

Ná die notering sal Phuthuma Nathi-aandeelhouers 25% van hul Phuthuma Nathi-aandele kan verruil vir gewone aandele in die genoteerde MultiChoice Group.

Naspers het Maandag die ontknoping en afsonderlike notering aangekondig. Dit sal na verwagting in die eerste helfte van 2019 voltooi word en Naspers sal dan geen verdere belang in MultiChoice besit nie.

Die Phuthuma Nathi-skema bestaan uit 67,5 miljoen aandele wat deur meer as 90 000 swart beleggers besit word.

Die Phuthuma Nathi 1-skema is in 2006 bekend gestel en Phuthuma Nathi 2 in 2007.

Meloy Horn, Naspers se hoof van beleggersbetrekkinge, sê nadat Phuthuma Nathi se skuld sowat twee jaar gelede afbetaal is, het aandeelhouers reeds R6,2 miljard se dividende ontvang, berig City Press.

Die aandele is in 2006 teen R10 elk uitgereik.

Volgens Naspers se voorlegging sou mense wat in 2006 R100 in Phuthuma Nathi belê het, nou reeds R916 se dividende ontvang het en, tesame met die styging in die waarde van die aandeel, het hulle nou al ’n opbrengs van meer as 17 keer op hul belegging beleef. Dié voorlegging is gedoen voor die styging die afgelope week in die aandeelprys.

MultiChoice Group gaan MultiChoice Suid-Afrika, MultiChoice Africa, Showmax Africa, DStv Now en Irdeto insluit.

Die maatskappy bedien 13,5 miljoen huishoudings oor Afrika heen, met R47,1 miljard se inkomste en ’n bedryfswins van R6,1 miljard.

Die groep het meer as 9 000 werknemers en nog 20 000 mense wat vir vennote en verskaffers werk.

  • Netwerk24 is ’n publikasie van Media24, ’n filiaal van Naspers.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.