Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
MultiChoice verklap planne vir Afrikaanse inhoud

Intekenare van DStv kan uitsien na heelwat meer oorspronklike Afrikaanse inhoud, het Mark Rayner, uitvoerende hoof van MultiChoice in Suid-Afrika, Woensdag aan Netwerk24 gesê.

Showmax, wat aan MultiChoice behoort, gaan in die komende jaar nog heelwat Afrikaanse inhoud bykry. Foto: Showmax

MultiChoice, wat DStv besit, het Woensdag ’n groot voorlegging gedoen oor nuwe tegnologie en veranderinge in sy aanbod waarna intekenare kan uitsien.

’n Deel van sy strategie in die komende jaar is om meer op die produksie van eie inhoud te fokus, het Rayner gesê.

Dit sluit in heelwat Afrikaanse produksies, waaronder televisiereekse en flieks.

Die noodsaak vir nuwe Afrikaanse inhoud is deels te danke aan ’n nuwe Afrikaanse fliekkanaal, FliekNet, wat van 1 September af deel van DStv gaan wees.

“Vanselfsprekend kort ons flieks vir hierdie kanaal,” sê Rayner.

Hy het ook bevestig dat baie van die inhoud wat Karen Meiring, hoof van Afrikaanse kanale op DStv, beplan ook later op MultiChoice se stromingsdiens, Showmax, te siene sal wees.

Rayner het nie uitgewei oor spesifieke reekse of flieks wat beplan word nie, maar wel gesê die plan is om die nuwe inhoud later aan ’n groter segment van DStv se gehoor beskikbaar te stel.

Dit sluit Showmax in, maar ook ander kykNET-kanale soos kykNET & Kie.

Volgens Rayner vind MultiChoice waarde daarin om sy eie inhoud te skep, ook in Engels, eerder as om net te steun op die aankoop van uitsaairegte van oorsese programme en flieks.

“Die aanvanklike belegging is heelwat meer, maar dan besit ons daardie inhoud vir altyd,” sê hy.

Die geheim is om ’n idee te kry vir ’n program wat nie net in Suid-Afrika nie, maar ook elders by kykers sal aanklank vind.

Die gewilde plaaslike telenovella The River word byvoorbeeld nou vir ’n Nigeriese gehoor aangepas met nuwe akteurs, maar met ’n soortgelyke storielyn.

Die gewilde realiteitsreeks Our Perfect Wedding word ook nou in Kenia beplan, sê hy.

Die moontlikheid is ook daar om meer met internasionale vervaardigers soos die VSA se HBO saam te werk in die vervaardiging van duurder produksies, sê hy.

Die televisieverwerking van Deon Meyer se roman Trackers was ’n groot sukses vir M-Net en Cinemax, wat aan HBO behoort.

MultiChoice hou altyd sy oë oop vir nog sulke geleenthede, sê Rayner.

Meer oor:  Dstv  |  Multichoice  |  Tegnologie  |  Afrikaans  |  Tv  |  Vermaak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.