Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
’n Speletjie wat jou insig gee in kollegas
Só lyk die virtuele werklikheid-kopstuk wat jou verplaas na ’n ander planeet waarvandaan jy net kan ontsnap as jy met jou kollegas saamwerk . . .

By die werk is daar nie tyd vir speletjies nie. Reg? Verkeerd: ’n Nuwe rekenaarspanspeletjie waarin deelnemers saam planne beraam om van ’n verafgeleë planeet te ontsnap voordat dit ontplof, kan produktiwiteit verhoog en spanlede meer oor hul eie en mekaar se persoonlikhede leer.

Só sê Helen Nicholson, uitvoerende hoof van The Networking Company in Johannesburg, wat pas die Team VR uit Dubai na Suid-Afrika gebring het.

Team VR gebruik virtuele werklikheid (VR) – elke deelnemer gebruik digitale kopstukke wat dit laat voel of hulle in ’n ander werklikheid is.

Rapport het dit beleef. Aan die einde van die spel weet jy hoe jy reageer onder druk – veral as dinge skeefloop. Jy sien ook wat probleme veroorsaak en wat die gevolge van jou keuses is.

Dit is sover bekend die eerste keer dat VR-tegnologie, wat eintlik met rekenaarspeletjies vereenselwig word, vir korporatiewe opleiding ingespan word.

Volgens Nicholson berei Team VR leiers en hul spanlede voor op die werkplek van die toekoms – vol ontwrigtende tegnologie. Sogenaamde “sagte” vaardighede soos probleemoplossing en samewerking word belangriker. Die speletjie slyp ook kritiese denke, kognitiewe buigsaamheid en mensebestuur in hoërisiko-situasies.

Volgens Ricardo Albertini, ’n kenner van menslike gedrag en leer-oplossings by The Networking Company, plaas hulle met VR-tegnologie kollegas saam in ’n ander werklikheid – soos die gevaarlike planeet waar hulle ontsnappingskapsules moet bou en lanseer – terwyl ander spanlede die kontrolepaneel hanteer waar die spelers hulp kan vra. Nog ’n groep neem bloot waar.

Die kopstuk en toerusting waarmee kollegas in ’n virtuele werklikheidsituasie geplaas word om die spandinamiek en individuele eienskappe in hoërisiko-situasies te identifiseer. Die innoverende opleidingsinstrument Team VR is die eerste in sy soort in Afrika en is deur The Networking Company en Jenson8 van Doebai na Suid-Afrika gebring. Foto: VERSKAF

Die ideaal is dat elke spanlid elkeen van dié drie stasies ervaar.

Bevind jy jou op die planeet, loei die sirenes in die agtergrond voordat die groot ontploffing kom . . . jou handpalms sweet . . . en kollegas raak ongeduldig as jy jou litte nie roer nie en almal só in gevaar stel. Só word waardevolle data ingesamel oor almal se voorkeure, nuuskierigheid, hoe hulle saam­werk, waaghalsigheid en hul bereidwilligheid om iets nuuts te probeer.

In sulke stresvolle situasies kan belangrike karaktereienskappe by elkeen geïdentifiseer word.

Kennis hieroor kan gebruik word om kommunikasie te verbeter en nuwe maniere te vind om saam probleme op te los.

Nicholson se span gebruik hoeka dié inligting in ’n opvolgwerksessie ná die “speletjie” waar almal herinner word hulle is van mekaar afhanklik, moet empatie met mekaar hê en op mekaar vertrou.

Rapport se verslaggewer het op uitnodiging van The Networking Company die VR-ervaring kosteloos meegemaak. Dit kos R3 500 per persoon.

Meer oor:  Videospeletjies  |  Vr  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.