Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
‘Nasionaliseer Naspers,’ eis BLF in nuwe veldtog

Black First Land First (BLF) het Dinsdag ’n aggressiewe Twitter-veldtog teen Naspers begin wat eis dat die tegnologiefirma genasionaliseer word voordat hy ’n nuwe filiaal oorsee noteer.

Die embleem van die radikale politieke partye BLF.

BLF beskryf Naspers onder meer as ’n voertuig wat “witmonopoliekapitaal” bevorder. Die beweging beskryf Naspers ook as een van die firmas wat “deur slawe-arbeid en groteske rassemishandeling vir baie swart mense pyn besorg het”. Lees die volledige verklaring hieronder.

Die veldtog #NationaliseNaspersNow kom terwyl Naspers vir die afsonderlike notering van sy oorsese internetbelange in Amsterdam voorberei. Aandeelhouers stem op 28 Junie hieroor.

Naspers word beskryf as ’n “rassistiese witmonopoliekapitaal-propagandamasjien wat deur mense soos Botha en Hertzog begin is om Afrikaner-nasionalisme te bevorder, en só die apartheidstaat te skep en onderhou.”

Dis in dié konteks waarna eerste verwys word na Koos Bekker, voorsitter van Naspers se direksie. BLF voer aan dat Naspers onder Bekker se leiding “dié missie [om ’n apartheidstaat te onderhou] voortsit”.

Die tweede verwysing na Bekker is in die sin dat “Bekker en alle gronddiewe na hul lande van Europese herkoms kan terugkeer”, maar dat Naspers plaaslik moet bly en “die belange van die swart meerderheid moet dien”.

Naspers se reaksie op die BLF-veldtog was om die rasionaal vir die oorsese notering weer uiteen te sit. 

“Naspers is glad nie van plan om Suid-Afrika te verlaat nie en sal die grootste Suid-Afrikaanse maatskappy op die JSE bly, iets waarop ons baie trots is,” het Shamiela Letsoalo, Naspers se hoof van mediabetrekkinge, gesê.

Naspers se oorsese internetbelange word op die Euronext Amsterdam (AEX) genoteer, maar Naspers self gaan steeds minstens 73% van die nuwe maatskappy, vir eers net as Newco bekend, besit. NewCo sal ook ’n sekondêre notering op die JSE hê, sê Letsoalo.

“Naspers se grootste aandeelhouersbasis is Suid-Afrikaanse institusionele beleggers, insluitend die Openbare Beleggingskorporasie, en ons glo die transaksie kan beduidende waarde vir hulle ontsluit.”

Naspers verteenwoordig tans byna 25% van die aandeelhouersgeweegde indeks van alle aandele (Swix) en dié buitensporige grootte het “verskeie tegniese probleme vir Naspers en sy Suid-Afrikaanse beleggers veroorsaak, waarvan baie gedwing is om hul eienaarskap te verminder om blootstelling aan enige een individuele aandeel te vermy.

“Die oprigting en notering van NewCo is ’n reaksie op aandeelhouers se versoeke en wil die tegniese probleme oplos deur van Naspers se gewig van die JSE na die AEX te verskuif terwyl volgehoue hoë opbrengste terselfdertyd vasgesluit word.”

Naspers het glad nie gereageer op die mees omstrede aspekte van BLF se verklaring, soos die verwysings na rassediskriminasie, “gronddiewe” en “witmonopoliekapitaal” nie.

Die BLF sê in sy verklaring sy eis dat Naspers genasionaliseer word, is daarop gemik om dié “onwettige kapitaalvlug” en “werkverliese asook die rassepropaganda teen swart mense” te beëindig.

Die Reserwebank het reeds maande gelede goedkeuring aan die oorsese notering verleen.

ANN7

Die verklaring verwys ook na die feit dat DStv die Gupta-beheerde nuuskanaal ANN7 se kontrak beëindig het. Dit word as ’n “verbod” op swartbeheerde nuuskanale bestempel.

DStv behoort aan MultiChoice, wat in Februarie van Naspers ontknoop is. ANN7 se kontrak is verlede jaar juis weens sy bande met die Guptas beëindig en is vervang deur Newzroom Afrika, ’n swartbeheerde kanaal wat deur Thokozani Nkosi en Thabile Ngwato besit word.

BLF is ’n radikale politieke party wat die besetting van grond, soos wynplase in die Wes-Kaap, voorstaan. Die party is van haatspraak aangekla nadat Lindsay Maasdorp, woordvoerder, gesê het hy is nie hartseer oor die dood van drie wit kinders in die Hoërskool Driehoek nie omdat dit die voorvaders is wat hulle straf. Dit was nadat ’n betonvoetrug op 1 Februarie vanjaar by dié hoërskool in Vanderbijlparrk op kinders geval het.

Maasdorp het Dinsdag getwiet dat Naspers R1 630 miljard uit Suid-Afrika neem, terwyl die groep “beweer” hy belê R3 miljard plaaslik, “wat alles na jou mislukte bestaande beleggings, naamlik Takealot en OLX, gaan”.

Naspers het met die aankondiging oor sy notering inderdaad gesê hy beoog om nog R3,2 miljard in “sy bestaande Suid-Afrikaanse ondernemings” te belê, en het ook onderneem om R1,4 miljard in jong tegnologiefirmas te belê onder die vaandel van die Naspers Foundry.

  • Netwerk24 is ’n publikasie van Media24, ’n filiaal van Naspers.
blf
BLF se verklaring oor sy veldtog #NationaliseNaspersNow.
Meer oor:  Olx  |  Takealot  |  Naspers  |  Media24  |  Media  |  Tegnologie  |  Internet  |  E-Handel  |  Ann7  |  Newzroom Afrika
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.