Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Naspers begin dag beter ná kopseer van China

Die aandeelprys van die twee groot genoteerde tegnologiemaatskappye Naspers en Prosus het Woensdag meer positief begin, maar het nog ’n ver pad om die onlangse verliese af te skud.

naspers
Hoe Naspers en sy filiaal Prosus vaar, is deurslaggewend vir die JSE se indeks van alle aandele. Foto: Getty Images

Hulle het die afgelope twee dae skerp gedaal, maar het Woensdagoggend albei met meer as 1% gestyg.

Naspers en Prosus is van die grootste aandele wat deur die meeste Suid-Afrikaanse pensioenfondse gehou word.

Hannes van den Berg, medehoof van Suid-Afrikaanse aandele en ander bateklasse by Ninety One, sê die maatskappye se aandeelprys het die aandeelprys van die Chinese tegnologiegroep Tencent, waarin ’n groot belang besit word, laer gevolg. Die daling in Tencent se aandeelprys hou verband met kommer oor regulasies in China wat tegnologiemaatskappye daar raak.

Volgens Van den Berg toon die aandeelpryse die mark se benadering van “skiet nou en vra later” in reaksie op die nuus.

Van die nuus hou verband met die Chinese regering se besluit oor die hervorming van private opvoedkundige maatskappye, wat onder meer vereis dat hulle niewinsgewend moet word.

Boonop het China se markreguleerder Tencent opdrag gegee om sy eksklusiewe ooreenkomste oor musiekregte te beëindig wat gebruik word om teen kleiner mededingers mee te ding. Tencent is ’n boete opgelê vir sy “onbillike” markgedrag in die aanlyn musiekmark ná sy verkryging van China Music Corporation, berig Reuters.

k

Andrew Dittberner, beleggingshoof van Old Mutual Wealth Private Client Securities, sê die aandeelpryse het gedaal uit vrees vir verdere regulatoriese hervorming.

“Chinese tegnologie-aandele is onderwerp aan meer regulatoriese ondersoeke sedert so ver terug as Augustus 2018.”

Dittberner sê internasionale wetgewing het lank nie tred gehou met die vinnige ontwikkeling in die tegnologiesektor nie. “As dit reg gedoen word, is regulering ’n goeie ding vir die samelewing, ekonomie en ondernemings. Maar dan moet dit deursigtig, voorspelbaar en nodig wees. Op die oomblik voel die Chinese regulering of dit baie onvoorspelbaar is. Dit maak beleggers bekommerd en laat vrae oor watter sektor volgende is.”

Dittberner sê Naspers en meer onlangs Prosus het baie waarde vir Suid-Afrikaanse beleggers geskep danksy Tencent se skerp groei.

“Dus is Naspers en Prosus baie belangrik vir die JSE, pensioenfondse en die algemene beleggingsgemeenskap.”

Vaughan Henkel, hoof van aandelenavorsing van PSG Wealth, voorspel meer regulatoriese risiko’s vir tegnologiemaatskappye in die toekoms.

“Die Covid-19-pandemie het die regulatoriese risiko vir groot tegnologiemaatskappye vererger omdat regerings bekommerd geraak het oor hul markkrag en vermoë om die sentiment in ’n land te beïnvloed.

“Verdere risiko’s lê op die horison omdat regerings in die algemeen groot hoeveelhede fiskale stimulus verskaf het wat terugbetaal moet word, en tegnologiemaatskappye betaal dikwels min belasting. Ons voorsien regulatoriese risiko as ’n kenmerk van hul omgewing in die toekoms.”

Hoekom is hulle belangrik?

Naspers en Prosus vorm saam ’n beduidende deel van die Suid-Afrikaanse aandelemark gegrond op hul markwaarde.

In die indeks van alle aandele op die JSE is die twee aandele se gesamentlike gewig net minder as 15%.

Die meeste beleggers wat van maatstawwe gebruik maak om te bepaal hoeveel in aandele belê moet word, gebruik gewoonlik die indekse wat die twee se gewig beperk, soos die Capped SWIX-indeks, waar die maksimum toewysing aan ’n enkele maatskappy tot 10% beperk word.

Naspers en Prosus is derhalwe van die grootste aandele in die meeste pensioenfondse, verduidelik Van den Berg.

Skerp laer sedert hoogtepunt

Mike Gresty, ’n ontleder en fondsbestuurder van Anchor Capital, sê die skerper daling in Tencent se aandeelprys die afgelope dae het daartoe gelei dat die aandeel nou met 42% gedaal het van sy hoogste vlak nóg, wat in Februarie vanjaar bereik is.

“Hoewel dit ’n klein troos sal wees vir beleggers wat waarskynlik aansienlike verliese gely het met hul blootstelling aan die mark namate die Chinese beheer oor die tegnologiese sektor toegeneem het, vat die aandeelprysdaling Tencent net terug na die vlakke wat laas in Junie 2020 gesien is.”

Gresty sê Tencent het selfs ná die onlangse daling die afgelope ses jaar steeds saamgestelde groei van meer as 20% gelewer.

Prosus en Naspers se aandeelprys het in Februarie ook ’n hoogtepunt bereik van onderskeidelik bo R1 900 en bo R3 800.

Van daar het hul aandeelprys stelselmatig gedaal totdat dit hierdie week vir twee opeenvolgende dae met meer as 7% gedaal het.

Prosus se sluitingsprys was Vrydag R1 384,94 en Dinsdagaand R1 186,25.

Naspers se aandeelprys het dieselfde gereageer en het van Vrydag se sluiting van R2 960,53 tot R2 585,62 gedaal, toon Iress se inligting.

Naspers hou 29% in Tencent.

Gresty sê in Naspers maak Tencent 82% van sy onderliggende netto batewaarde uit en die maatskappy het in simpatie geval en met 34% van die hoogtepunt in Februarie af gedaal.

Dat Naspers minder as Tencent geval het, hou verband met die rand se beweging in dieselfde tyd.

  • Netwerk24 is ’n publikasie van Media24, ’n filiaal van Naspers.
Meer oor:  Naspers  |  Prosus  |  Beleggings  |  E-Handel  |  Tegnologie  |  Geklassifiseerde Advertensies  |  Aandele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.