Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Naspers belê nog meer in Letgo

Naspers gaan deur sy filiaal OLX nog $500 miljoen in Letgo belê.

Letgo is ’n app soortgelyk aan OLX waarin Naspers sedert Januarie 2017 belê is.

Dis Naspers se tweede groot belegging in dié Amerikaanse app vir geklassifiseerde advertensies.

Letgo is soortgelyk aan OLX, wat in 40 lande bedrywig is en sedert 2010 lid is van die Naspers-familie van ondernemings.

Letgo self is hoofsaaklik in die VSA bedrywig en is so onlangs as 2015 bekend gestel. Sy grootste mededingers in dié mark is Craigslist, eBay en OfferUp.

Die maatskappy se markwaarde word nou op nagenoeg $1,5 miljard geraam.

Meer as 100 miljoen mense het al die Letgo-app afgelaai en 400 miljoen artikels is al daarop gelys. Gebruikers stuur tot 13 miljoen boodskappe per dag aan mekaar deur die app.

Luidens ’n verklaring wat Naspers uitgereik het, is $150 miljoen van die belegging reeds oorgedra.

Volgens Naspers toon Letgo fenomenale groei – vir die jaar tot dusver het die app se getal maandelikse gebruikers met 65% gegroei.

Letgo se stigters sê die belegging sal hom help om sy groei te finansier soos wat dié maatskappy daarna streef “om tweedehandse e-handel ’n selfs groter deel van die gedeelde ekonomie te maak”.

Letgo se app kombineer beeldherkenning met intuïtiewe ontwerp ten einde die koop en verkoop van gebruikte goedere te vergemaklik. As jy ’n foto van jou bergfiets, ketel of speletjiekonsole neem, stel Letgo outomaties ’n titel, prys en kategorie voor.

Volgens comScore is Letgo een van die apps wat die vinnigste in die VSA groei.

Alec Oxenford, medestigter van Letgo, sê luidens die verklaring hulle is “buitengewoon gelukkig om beleggers te hê wat so sterk in ons visie en span glo”.

Martin Scheepbouwer, uitvoerende hoof van die OLX-groep, sê Letgo is “een van die belowendste beginnerondernemings ter wêreld deur ’n inspuiting van opwinding, nuwe tegnologie en vars denkwyses in ’n ruimte wat dekades lank alles hiervan kortgekom het in die VSA”.

Naspers se belegging in geklassifiseerde advertensies het in die boekjaar tot einde Maart begin vrugte afwerp.

Die afdeling was vir die eerste volle boekjaar winsgewend en kontantdraend – iets wat in die tweede helfte van die boekjaar gebeur het. Die afdeling se inkomste het in die boekjaar met 47% tot $628 miljoen gestyg.

Dit sluit egter Letgo uit, wat nog nie winsgewend is nie.

Naspers het in Mei 2016 ’n kantoor in San Francisco, Kalifornië, oopgemaak en toe aangekondig hy soek beleggingsgeleenthede in die wêreld se grootste ekonomie. Die eerste belegging in Letgo is in Januarie 2017 gedoen.

Naspers sit op die oomblik met ’n enorme kontantpoel – die maatskappy het in Maart nagenoeg $9,8 miljard verdien deur die verkoop van 2% van sy belang in die Chinese internetreus Tencent en in Mei nog $2,2 miljard in uit die verkoop van die Indiese e-handelfirma Flipkart aan Walmart in Mei. Hy het ook onlangs die Indiese reisagentskap Travel Boutique Online vir ’n onbekende bedrag verkoop.

Bob van Dijk, uitvoerende hoof, het in Maart gesê Naspers wil die geld wat hy uit sy Tencent-aandele verdien het, gebruik om sy ondernemings vir geklassifiseerde advertensies, e-handel en betaalstelsels op groot skaal uit te bou en ook om deur verkrygings en samesmeltings uit te brei.

Ná die verkoop van 190 miljoen aandele besit Naspers steeds ’n belang van 31,2% in die Chinese internetreus, waarin hy in 2001 belê het.

Naspers het onderneem om vir minstens drie jaar geen verdere Tencent-aandele te verkoop nie.

Naspers beoog om die geld mettertyd – oor ’n tydperk van minstens drie jaar – te belê. Naspers ding in geklassifiseerde advertensies, e-handel en betaalstelsels mee teen wêreldreuse soos Amazon, Apple en Alibaba, wat almal baie diep sakke het.

Met die kontant in die bank, hoef Naspers nie nog skuld te maak indien ’n beleggingsgeleentheid hom voordoen nie, wat ook beteken hy sal nie sy beleggingsgradering in die gedrang bring nie.

“Naspers het ’n beleggingsgradering en ons is gretig om dit te behou. Ons lok aanloklike rentekoerse; ons is gelukkig daarmee. Dit kan nou selfs verbeter, maar dis nie die doelwit van die transaksie nie,” het Van Dijk gesê.

  •  Netwerk24 is ’n publikasie van Media24, ’n filiaal van Naspers.
Meer oor:  Olx  |  Naspers  |  Letgo  |  Bob Van Dijk  |  E-Handel  |  Geklassifiseerde Advertensies  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.