Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Naspers bewe nie vir Amazon

Die inperking van Suid-Afrikaners in 2020 het die skuif na digitale dienste en e-handel met minstens twee jaar versnel, raam Naspers.

Phuthi Mahanyele-Dabengwa, naspers
Phuthi Mahanyele-Dabengwa, uitvoerende hoof van Naspers Suid-Afrika.

En Bob van Dijk, uitvoerende hoof van Naspers en sy filiaal Prosus, reken nie dit sal omgekeer word wanneer die Covid-19-pandemie eindelik sy greep op die wêreld laat vaar nie.

So lank as wat mense voel hulle kry waarde vir hul geld, tesame met betroubare diens, sal hulle aanhou aanlyn koop noudat meer mense dit probeer het.

Suid-Afrika het boonop nog baie ruimte vir groei. Slegs 2% van alle kleinhandel word aanlyn gedoen, teenoor meer as 20% in China.

Van Dijk, Phuthi Mahanyele-Dabengwa, uitvoerende hoof van Naspers Suid-Afrika, en Fabian Whate, hoof van die Naspers Foundry, het ’n aanlyn gesprek met joernaliste gehou waarin in die breë oor die groep gepraat is.

Vir die gebruik van digitale dienste om toe te neem en werklik waarde in die ekonomie te skep, moet breëbandspektrum egter nou beskikbaar gestel word, het Mahanyele-Dabengwa gesê.

“Ons is bly om te sien daar is momentum,” het sy gesê met verwysing na pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede. Sy het ook gesê daar was te veel vertragings met die proses die afgelope jare.

Gevra of Naspers bang is vir Amazon se moontlike regstreekse toetrede tot Suid-Afrika, het Van Dijk gesê gegewe hoe tevrede verbruikers met Takealot is, is daar beperkte ruimte vir ’n speler soos Amazon. Nietemin beskou hy e-handel nie as iets waarin net een maatskappy as die oorwinnaar uit die stryd moet tree nie.

Hy reken ook nie konsolidasie is noodsaaklik vir sukses in ’n onderneming wat plaaslike aflewering moet doen nie.

Whate het gesê die Foundry ondersoek verskeie geleenthede en gaan oor die volgende paar maande nog ’n paar groot beleggings aankondig, waarskynlik in tegnologie tussen ondernemings (B2B) en finansiële tegnologie.

Die Foundry is Naspers se filiaal wat in plaaslike tegnologiefirmas belê. Hy het reeds vier groot beleggings gedoen sedert sy stigting in 2018 – in SweepSouth (R30 miljoen), Aerobotics (R100 miljoen), Food Supply Network (bedrag nie bekend gemaak nie) en in The Student Hub (R45 miljoen).

Van Dijk is oudergewoonte uitgevra wat Naspers en Prosus gaan doen om sy aandeelprys te laat styg, wat nie die waarde van sy onderliggende beleggings weerspieël nie. Die sogenaamde diskonto op die aandeelprys het gegroei sedert Naspers Prosus afsonderlik genoteer het op die Euronext in Amsterdam – presies die teenoorgestelde as die bedoeling met dié stap.

Voorheen het Naspers MultiChoice afsonderlik genoteer en sy mees onlangse poging was Prosus se stap om Naspers-aandele te koop.

Van Dijk het nie gespesifiseer wat oorweeg word nie, maar het gesê “niks is nie op die tafel nie”.

  • Netwerk24 is ’n publikasie van Media24, ’n filiaal van Naspers.
Meer oor:  Naspers Foundry  |  Prosus  |  Naspers  |  Bob Van Dijk  |  Tegnologie  |  Aandele  |  Beleggings  |  E-Handel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.