Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Naspers boer vooruit tydens pandemie

Die Covid-19-pandemie het miljarde mense wêreldwyd in ’n e-kokon laat klim – en Naspers is oortuig dat mense nie sommer daaruit gaan vlieg nie.

naspers
Naspers se inkomste het in die ses maande tot einde September met 32% toegeneem.Foto: Getty Images

Inperkings het kosaflewering, e-handel en aanlyn leer ’n enorme hupstoot gegee – juis gebiede waarin Naspers die afgelope paar jaar miljarde dollar belê het.

In die ses maande tot einde September het die groep se inkomste met 32% tot $13 miljard toegeneem en sy handelswins is 42% hoër op $2,6 miljard.

Naspers en Prosus, die filiaal wat sy internasionale internetbates huisves, het Maandag albei hul halfjaarresultate uitgereik.

“Die toekoms is met ’n hele paar jaar vervroeg,” het Bob van Dijk, uitvoerende hoof van Naspers en Prosus, vroegoggend op ’n telekonferensie met joernaliste gesê.

“Die pandemie het mense gedwing om die skuif aanlyn vinniger te maak as wat aanvanklik verwag is.

“Ons glo dat dié skuif permanent is.”

Volgens Van Dijk is Naspers en Prosus aan die voorpunt van die wêreldwye skuif na aanlyn inkopies en kosaflewering.

Aanlyn bedrywighede

Totale inkomste uit aanlyn bedrywighede het op ’n jaargrondslag met 37% tot $2,854 miljard toegeneem.

takealot
E-handelaars soos Takealot het ’n lang lys reëls waaraan hulle moet voldoen om gedurende die inperkingstyd produkte te mag aflewer.

Sy afdelings vir kosaflewering en e-handel was oudergewoonte die grootste bydraers daartoe.

In Suid-Afrika het die waarde van verkope op Takealot, wat ook die kosafleweraar Mr D Food en ’n deel van die aanlyn klerewinkel Superbalist besit, met ’n ongelooflike 85% tot $407 miljoen (sowat R6,26 miljard teen die huidige wisselkoers) toegeneem.

Dit is ten spyte daarvan dat Takealot vanaf einde Maart tot in Mei net “noodsaaklike” items soos kosprodukte en handreiniger mag verkoop het.

Sy filiale Mr D Food en Superbalist mag ’n tyd lank glad nie sake gedoen het nie.

Namate regulasies verslap is, het al drie ondernemings ’n ongelooflike toename in verkoopsvolumes gesien.

In syfers:
  • Totale inkomste styg met 32% tot $13 miljard
  • Handelswins styg met 38% tot $2,6 miljard
  • Inkomste uit aanlyn bedrywighede styg met 37% tot $2,854 miljard
  • Totale waarde van verkope op Takealot styg met 85% tot $407 miljoen
  • Geen dividend is uitgekeer nie

Die waarde van Takealot se eie verkope (dus uitgesluit Mr D Food en Superbalist) het met 88% in randwaarde toegeneem. Die waarde van Superbalist se verkope het in randwaarde met 37% gestyg, terwyl Mr D Food ’n 101%-toename in die waarde van sy verkope gesien het.

Die skerp toename in kosaflewerings is ook elders gesien.

In Brasilië het iFood meer as 44 miljoen bestellings per maand beleef. Inkomste is ’n ongelooflike 234% hoër op jaargrondslag.

iFood het nog 98 000 restaurante tot sy platform gevoeg en bied nou toegang tot bykans 260 000 restaurante.

Altesame het kosaflewering $610 miljoen tot Naspers se totale inkomste bygedra, 99% meer as ’n jaar gelede.

Die afdelings vir geklassifiseerde advertensies en betalings en finansiële tegnologie het ook gegroei, maar aansienlik minder.

Inperkingsregulasies het ’n wesenlike invloed op verdienste uit geklassifiseerde advertensies gehad, met inkomste wat in die eerste drie maande met 19% afgeneem het. Die afdeling se totale inkomste was wel 7% hoër op $635 miljoen.

Betalingsplatforms en ander finansiële tegnologie se inkomste het met 27% tot $252 miljoen toegeneem danksy stewige groei in veral Europa en Latyns-Amerika waar die totale waarde van transaksies met 55% toegeneem het.

PayU, deel van Prosus, het in die laaste paar maande ook ruimskoots in ander ondernemings belê.

MakeMyTrip, Naspers en Prosus se enigste onderneming in die reisbedryf, het geen inkomste in die tydperk aangeteken nie hoofsaaklik weens reisbeperkings in Indië, die enigste land waar hy sake doen.

Naspers het ook in die tydperk onder oorsig meer as $1 miljard in ’n verskeidenheid aanlyn opvoedkundige platforms belê. Dis nog nie winsgewend nie.

Tencent en ander beleggings

Naspers se destydse aanskaf van ’n noemenswaardige belang in die Chinese tegnologiereus Tencent betaal steeds stewige dividende.

bob van dijk
Bob van Dijk, uitvoerende hoof van Naspers.Foto: Elvira Wood

Dit is hoofsaaklik te danke aan ’n skerp toename in Tencent se eie inkomste, wat aan die einde van Junie 28% hoër was op jaargrondslag.

Volgens Van Dijk is Naspers nie te bekommerd oor toenemende regulatoriese ingryping deur die Chinese regering nie.

“Die internet is nou ’n groot deel van ons lewe, so regulatoriese veranderinge moet plaasvind soos aanlyn ondernemings meer relevant word vir verbruikers,” het hy gesê.

Hy glo wel dat die Chinese regering steeds “ondersteunend” is van die internet en tegnologiese ontwikkeling.

Naspers en Prosus het $458 miljoen in dividenduitbetalings van Tencent ontvang.

Media

Op die gebied van media het Naspers nie te goed gevaar nie.

Inkomste vir dié segment is 40% laer op $84 miljoen.

Media24, ’n volfiliaal van Naspers, het ook Maandag sy resultate vir die halfjaar uitgereik.

Daarvolgens het dié mediagroep se inkomste met 19% tot R1,9 miljard geval, grootliks omdat koerant- en tydskrifverkope tydens die strenger inperkingstyd gedaal het.

LEES OOK: Syfers wys ernstige invloed van Covid-19 op Media24

Dit het groot ingrypings meegebring, onder meer die aflegging van meer as 500 mense en die sluiting en uitkontraktering van baie tydskrifte.

naspers

   

Vooruitsigte

Naspers betree die tweede helfte van sy boekjaar met ’n gesonde banksaldo van $4,6 miljard in kontant met toegang tot ’n verdere $2,5 miljard in kredietfasiliteite.

Prosus, waarvan Naspers ’n belang van 72,6% besit, het in Oktober aangekondig hy gaan $5 miljard bestee om ’n groot getal van sy eie sowel as Naspers-aandele terug te koop om die maatskappye se aandeelprys ’n hupstoot te gee.

Prosus koop $1,4 miljard van sy eie gewone aandele terug en $3,6 miljard van Naspers se gewone aandele. Die transaksie sal na verwagting binne die volgende paar weke plaasvind.

Verdienste per aandeel beloop $5, effens minder as $5,17 ’n jaar gelede.

Kernverdienste per aandeel is wel hoër op $4,04 teenoor $3,24 ’n jaar gelede.

Geen tussentydse dividend is verklaar nie.

Naspers se aandeelprys het Maandagmiddag 2,3% hoër teen R3 192,15 verhandel.

Prosus, wat in Amsterdam sowel as op die JSE genoteer is, het 1,8% hoër teen R1 670,52 verhandel.

  • Netwerk24 is deel van Media24, 'n filiaal van Naspers.

Meer oor:  Superbalist  |  Prosus  |  Takealot  |  Naspers  |  Tencent  |  Media24  |  Bob Van Dijk  |  Media  |  Internet  |  E-Handel  |  Maatskappyresultate
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.