Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Naspers: Covid-19-krisis het tegnologie bevorder

Die Covid-19-pandemie het reeds bestaande tendense versnel – meer mense doen nou meer goed aanlyn – en Naspers glo ’n groot deel van die skuif na tegnologie gaan ná die krisis daar bly.

Naspers het Vrydag sy algemene jaarvergadering aanlyn gehou. Foto: Getty Images

Bob van Dijk, uitvoerende hoof van Naspers en sy filiaal Prosus, het Vrydag op die maatskappy se jaarvergadering gesê Covid-19 is ’n enorme uitdaging wêreldwyd, maar die maatskappy glo sy langtermynstrategie is op koers.

Ná jare waarin die gebrek aan deursigtigheid oor die vergoeding van topbestuurders die belangrikste kritiek teen Naspers was, is die vergoeding van sy intreevlak-werknemers nou aan die groot klok gehang.

Tracey Davies, ’n direkteur van Just Share, ’n aandele-aktivistegroep sonder winsbejag, het die maatskappy met vrae gepeper oor die verskil tussen die vergoeding van die topbestuur en die laags besoldigde werknemers.

Sy sê die groep is glad nie deursigtig oor dié verskil nie en voldoen nie aan die King-kodes oor korporatiewe beheer hieroor nie. Sy het ook gesê die maatskappy lyk asof hy “sy eie definisie van billik en verantwoordelik” het.

Aileen O’Toole, senior visepresident van mensehulpbronne, het in reaksie gesê die wêreldwye betaalskaalverhoudings wat Davies graag wil sien, is ’n “kru maatstaf’. Naspers en sy filiaal Prosus verkies om salarisse aan plaaslike maatstawwe te meet.

O’Toole sê vergoeding is ook nie die enigste aspek waarop die groep fokus nie – die groep werk ook hard om te verseker sy arbeidsmag het ’n veilige werksomgewing.

Sy het onderneem om meer oor laer besoldigde werknemers se vergoeding in te sluit in volgende jaar se jaarvergadering.

Naspers se jaarvergadering is vir die eerste keer slegs aanlyn gehou weens die Covid-19-pandemie. Dis ook wêreldwyd bygewoon – onder meer was Koos Bekker, voorsitter van die groep, in ’n ateljee in Londen en Basil Sgourdos, finansiële hoof, in Hongkong.

Van die toesprake is vooraf opgeneem, maar aandeelhouers is steeds in staat gestel om vrae te vra.

Bekker het in ’n kort toespraak gesê Naspers se verbintenis tot Suid-Afrika het nie verander toe hy Prosus verlede jaar in Amsterdam genoteer het nie – inteendeel, die tegnologiemaatskappy het die afgelope jaar sy beleggings in die land en sy betrokkenheid in die gemeenskap verhoog.

Bob van Dijk, uitvoerende hoof van Naspers en Prosus

Prosus huisves al Naspers se internetbelange, insluitend sy belang in die Chinese reus Tencent en die Russiese mail.ru, met die uitsondering van Suid-Afrikaanse ondernemings soos Takealot en Media24, waarvan Netwerk24 ’n publikasie is, in Suid-Afrika. Naspers besit nagenoeg 71% van Prosus.

Naspers het die afgelope jaar R13,2 miljard se belasting in Suid-Afrika betaal. Te midde van die Covid-19-krisis het hy ook R500 miljoen se kontant aan die Solidariteitsfonds en R1 miljard se skenkings van persoonlike beskermende toerusting en mediese toerusting aan die land geskenk, het Bekker gesê.

In vraetyd het die dilemma van Naspers se aandeelprys wat steeds nie die netto batewaarde van sy ondernemings weerspieël nie, opnuut onder die loep gekom. Dit is nou al jare lank ’n groot frustrasie vir aandeelhouers en een van die redes vir Prosus se afsonderlike notering.

Van Dijk het beklemtoon dat dit ’n prioriteit bly om seker te maak Naspers en Prosus weerspieël die maatskappy se onderliggende waarde. Geen nuwe planne is bekend gemaak nie, maar Van Dijk sê deur sy geklassifiseerde en kosafleweringsondernemings se winsgewendheid uit te bou, behoort die groep waarde te bou.

’n Vraag oor wat Tencent doen omtrent die uitvoerende bevel teen WeChat wat pres. Donald Trump van die VSA in Julie uitgevaardig het, is na Tencent verwys. Naspers besit nagenoeg 31% van Tencent, maar het beklemtoon hy kan nie namens die maatskappy praat nie.

Trump het WeChat, ’n app soortgelyk aan WhatsApp, en die video-app TikTok in die VSA verbied.

Nog vrae

In antwoord op die vraag of opvoedkundige tegnologie die volgende groeigebied vir Naspers is, het Van Dijk gesê tegnologie gaan ’n al hoe groter rol in opvoeding speel oor die volgende paar jaar. Naspers is belê in ses maatskappye wat aanlyn leer bevorder.

Verskeie aandeelhouers het uitgevra oor Naspers se beleggings in Indië, veral ook met verwysing na die Covid-19-pandemie se impak.

Indië het werkers gedwing om terug te keer na hul geboorteplekke vir die staat van inperking en dié land is steeds nie naby die piek van die pandemie nie.

Van Dijk sê kosaflewering het aanvanklik baie gesukkel omdat verskaffingskettings en restaurante ontwrig is. Daar was ook ’n tekort aan werkers omdat mense na hul geboorteplekke moes terugkeer. Dinge normaliseer geleidelik.

Betalingsondernemings het egter gefloreer omdat mense al hoe meer aanlyn betalings doen eerder as om met kontant te betaal.

Hy sê struktureel behoort Naspers voordeel te trek uit veranderinge in Indië.

Meloy Horn, voorheen Naspers se hoof van beleggersverhoudinge, het gevra of daar enige nuwe verkrygingsgeleenthede in die kosafleweringsektor is. Sy het verwys na Prosus se mislukte poging om die Britse groep Just Eat te koop. Just Eat is eindelik deur die Nederlandse groep Takeaway.com gekoop en het toe ook die Amerikaanse groep Grubhub gekoop.

Van Dijk sê Just Eat is gekoop teen ’n prys wat Naspers nie geglo het dis werd nie. Hy sê daar is wêreldwyd nog baie opwindende geleenthede om in kosaflewering te belê. Daar is baie langtermyngeleenthede waarna die groep kyk.

Op die vraag of daar werklike groeigeleenthede vir e-handel in Suid-Afrika is, het Van Dijk gesê die persentasie kleinhandel wat aanlyn gedoen word, is nog relatief laag in Suid-Afrika, maar hy glo dit sal mettertyd in pas kom met e-handel elders in die wêreld.

Op die vraag of Naspers bekommerd is oor Facebook se groeiende rol in geklassifiseerde advertensies (deur Marketplace) het Van Dijk gesê dit sal dom wees om Facebook te onderskat gegewe hul groot teenwoordigheid wêreldwyd, maar Marketplace is nie ewe suksesvol in alle lande nie.

  • Netwerk24 is deel van Media24, 'n volfiliaal van Naspers. 
Meer oor:  Prosus  |  Naspers  |  Covid-19  |  Tegnologie  |  Kosaflewering  |  Tegnologiemaatskappy
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.