Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Naspers het nuwe mark in sy visier
Phuthi Mahanyele-Dabengwa en Bob van Dijk. Foto: William Horne

Bob van Dijk, hoof van Naspers, het Woensdag op ’n geleentheid in Johannesburg gesê die internetreus gaan hom nou toespits op Afrika.

Hy meen die kontinent is “die volgende Indië en China”.

Volgens Phuthi Mahanyele-Dabengwa, die nuwe hoof van Naspers in Suid-Afrika, is Afrika die “ooglopende volgende stap” vir die internetreus om sy belange na uit te brei.

Naspers verdien deesdae bykans 100% van sy inkomste uit sy internetbedrywighede.

Die maatskappy het onlangs sy oorsese internetbelange in Amsterdam onder die naam Prosus genoteer.

Naspers het egter by herhaling gesê hy is nie van plan om Suid-Afrika – of Afrika – te verlaat nie.

“Ons is al ’n 100 jaar hier; ons gaan nêrens heen nie,” het Mahanyele-Dabengwa Woensdag gesê.

Sy het saam met Van Dijk ’n groep joernaliste by ’n vyfsterhotel in die weste van Dunkeld, Johannesburg, toegespreek.

Die fokus was hoofsaaklik op Naspers se planne om verder in die Afrika-kontinent te belê en nuwe geleenthede vir plaaslike ondernemings te skep, hoewel hulle nie enige tasbare voorbeelde gegee het nie.

Naspers is al ’n 100 jaar hier; ons gaan nêrens heen nie.
Phuthi Mahanyele-Dabengwa

Volgens Mahanyele-Dabengwa raak die vasteland al hoe meer tegnologies gevorderd namate meer mense slimfone begin gebruik en toegang tot vinnige internet en WiFi het.

Dit is dus logies dat ’n internetreus soos Naspers op Afrika fokus, sê sy.

Internetdienste die antwoord

Van Dijk het daarop gewys dat Naspers oor die laaste dekade verskeie uitstekende beleggings op die gebied van internetdienste gemaak het, veral in Asië, en hy  beplan om dieselfde in Afrika te vermag.

Net meer as ’n dekade gelede het Naspers nog 89% van sy inkomste uit gedrukte media en televisiedienste verdien. Slegs 11% was van internetdienste afkomstig.

Sy winsgewende belegging in die Chinese internetreus Tencent het eers later begin vrugte afwerp.

Vandag is die bordjies verhang en verdien Naspers bykans al sy geld uit sy internetdienste soos kosaflewering, geklassifiseerde advertensies, aanlyn opleidingsplatforms en betaalplatforms.

Volgens Van Dijk is Naspers se inkomste uit gedrukte media deesdae niks meer nie as ’n “afrondingsfout”.

Die maatskappy besit steeds Media24, Suid-Afrika se grootste mediamaatskappy.

Plaaslike beleggings

As hoof van Naspers in Suid-Afrika is Mahanyele-Dabengwa onder meer verantwoordelik vir die bestuur van die Naspers Foundry, ’n spesiale fonds wat in plaaslike beginner-ondernemings vir tegnologieprodukte belê.

Die Naspers Foundry het vroeër vanjaar sy eerste belegging gedoen deur R30 miljoen in SweepSouth, alombekend as die “Uber vir huiswerkers”, te belê.

As geheel het Naspers vandag ’n markkapitalisasie van bykans $100 miljard; ’n prestasie wat hy toeskryf aan sy besluit om homself in ’n internetmaatskappy te omskep.

Daarom is Naspers oorgehaal om geleenthede in Afrika aan te gryp.

Prosus en die toekoms

Veral noudat Prosus afsonderlik genoteer is, is daar nie meer kommer dat die maatskappy te vinnig sal groei vir die plaaslike effektebeurs om hom te huisves nie, sê Van Dijk.

“Ons was basies ’n kwart van die JSE met organiese groei van 30% per jaar. Sonder die Prosus-notering sou ons beperk gewees het deur die grootte van die JSE.”

Die maatskappy se aandeelprys het oor die afgelope dekade met sowat 750% gestyg. Dit het Woensdagmiddag teen R2 249,50 verhandel. Kort voor die afsonderlike notering van Prosus op 11 September was een Naspers-aandeel sowat R3 522 werd.

  • Netwerk24 is ’n produk van Media24 wat deel is van Naspers.
Meer oor:  Naspers Foundry  |  Naspers  |  Tegnologie  |  Internetdienste  |  Internet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.