Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Naspers: Hier is nuwe datums oor notering

Naspers het Vrydag die nuwe datums bekend gemaak vir die notering van sy nuwe filiaal in Amsterdam, mits aandeelhouers die notering goedkeur.

Naspers het ’n gewig van 17,47% in die JSE se indeks van alle aandele. Dit kan ná die notering van sy nuwe firma in Europa verander.

Die verwagting is nou dat Prosus, soos die nuwe maatskappy sal heet, op 11 September op die Euronext Amsterdam sal noteer. Die firma sal ’n sekondêre notering op die JSE hê.

Naspers het in Maart aangekondig hy wil ’n nuwe, wêreldwye verbruikersinternetgroep stig wat sal bestaan uit sy internasionale internetbelange, insluitend sy belange in Tencent, Mail.ru, OLX, Delivery Hero, Swiggy en PayU. Naspers het later bekend gemaak die naam van dié nuwe notering sal Prosus, Latyns vir “voorwaarts” wees.

Die notering sou aanvanklik reeds dié week plaasgevind het, maar ’n administratiewe flater met die name en adresse van aandeelhouers deur ’n eksterne diensverskaffer het ’n stok in die wiel gesteek.

Die keuse voor aandeelhouers bly onveranderd.

  • Die eerste opsie is om ’n gewone aandeel in Prosus te ontvang vir elke gewone Naspers-aandeel wat hulle besit. Dié opsie sal wel beteken dat kapitaalwinsbelasting onmiddellik ter sprake kom. Die kapitaalwins sal die volle waarde van die nuwe Prosus-aandeel met notering wees.
  • Die tweede opsie is om 0,36986 gewone Naspers-aandele te ontvang vir elke Naspers-aandeel wat hulle reeds besit. Geen kapitaalwinsbelasting is onmiddellik ter sprake nie, slegs wanneer aandele verkoop word.

’n Hersiene omsendbrief is ook Vrydag aan aandeelhouers gepos. Dit sluit in ’n kennisgewing van die algemene vergadering op 23 Augustus in die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum waarop aandeelhouers moet stem oor die resolusie om oorsee te noteer. Die vergadering begin net ná die maatskappy se jaarvergadering, wat om 11:15 begin.

Naspers waarsku aandeelhouers dat enige kiesvorms en volmagvorms wat hulle voorheen ingevul het oor die notering, nie meer geldig is nie. Nuwe kiesvorms en volmagvorms moet ingevul word.

Meer inligting

Aandeelhouers of belangstellendes kan meer inligting op Naspers se webwerf, www.naspers.com, kry.

Naspers het vroeër gesê die rede vir die notering is om waarde vir aandeelhouers te ontsluit. Groot beleggers is nou al jare lank gefrustreerd dat Naspers se aandeelprys op die JSE nie eens die waarde van sy belang in Tencent weerspieël nie, wat nog te sê sy eie ondernemings, insluitend OLX.

Dié waardasiegaping gaan na verwagting verminder word deur die notering van Prosus op ’n beurs waarin meer oorsese beleggers moontlik sal wil belê as op die JSE.

Naspers self sal minstens 75% van Prosus besit, wat beteken plaaslike aandeelhouers bly onregstreeks daarin belê, ongeag die keuse wat hulle uitoefen.

Naspers verwag wel dat sy aandeelprys met tot 25% gaan daal wanneer die oorsese notering plaasvind.

  • Netwerk24 is ’n produk van Media24, ’n filiaal van Naspers.
Belangrike datums
  • 19 Julie: Die omsendbrief word aan aandeelhouers gepos. Hulle mag nou gevolmagtigdes aanwys om namens hulle te stem indien hulle nie self die vergadering kan bywoon nie.

  • 16 Augustus: Net aandeelhouers wat teen marksluiting op dié datum in die Naspers-register aangeteken is, sal op die algemene vergadering mag stem. Naspers waarsku dat aandeletransaksies in die Strate-stelsel drie werkdae neem om in die register te weerspieël, wat beteken mense wat Naspers-aandele wil koop om te kan stem, moet dit reeds teen 13 Augustus doen.
  • 23 Augustus: Algemene vergadering; die aankondiging oor die stemmery sal later dié dag op Sens uitgereik word.
  • 26 Augustus: Aandeelhouers kan begin stem oor die opsie wat hulle wil uitoefen.
  • 13 September: Kiesvorms moet teen 12:00 ingedien wees indien aandeelhouers nog Naspers-aandelel wil ontvang. Aandeelhouers wat nié dié keuse uitoefen nie, sal Prosus-aandele ontvang.
  • 11 September: Die verwagte noteringsdatum van Prosus op die Euronext Amsterdam.

Meer oor:  Prosus  |  Naspers  |  Media  |  Tegnologie  |  Kosaflewering  |  Internet  |  E-Handel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.