Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Notering: Só stem Naspers se aandeelhouers

100% van Naspers se A-aandeelhouers en 95,51% van N-aandeelhouers het ten gunste van die notering van die groep se oorsese internetbelange in Amsterdam gestem.

Dit was reeds op die spesiale vergadering oor die notering van Prosus bekend dat aandeelhouers ja gestem het, maar die stempersentasie is eers namiddag op die JSE se nuusdiens, Sens, bekend gemaak. A-aandele word grootliks deur Naspers se direkteure en voormalige direkteure gehou en het hoër stemreg. N-aandele is gewone aandele met een stemreg elk.

Die maatskappy se oorsese internetbelange gaan oor minder as drie weke, op 11 September as alles vlot verloop, op die Euronext Amsterdam genoteer word in ’n nuwe maatskappy, Prosus.

Die hoofkantoor van Naspers in Kaapstad.

“Die notering van Prosus sal transformerend vir ons toekoms wees,” sê Bob van Dijk, uitvoerende hoof.

Van  Dijk het aan Netwerk24 gesê die stem is die einde van ’n lang reis. Hy is nie verras deur die stem nie omdat hulle heeltyd met aandeelhouers in gesprek was en die meeste van hulle oorwegend positief was.

Prosus gaan ’n sekondêre notering op die JSE hê. Die maatskappy se bestuur en direksie is ook dieselfde as dié van Naspers.

Koos Bekker, voorsitter van die direksie, sê dit sal die beperkinge waaraan Naspers nou onderhewig is, beëindig. Dit sluit in dat dit beleggers sal lok wat huiwerig is om in Suid-Afrika te belê.

Prosus, die Latyns vir “voorwaarts”, sal Naspers se belang in Tencent, Mail.ru en Movile insluit. Daarby sluit dit OLX, PayU, Delivery Hero, Avito, Letgo, Udemy, eMag en nog tientalle ander e-handelondernemings in.

Hoekom Amsterdam?

Basil Sgourdos, finansiële hoof, het in antwoord op die vraag van ’n aandeelhouer gesê daar is drie belangrike redes waarom hulle juis Amsterdam vir die notering gekies het:

  • Eenvoud: Nederlandse regulasies is baie soortgelyk aan dié in Suid-Afrika en die land laat Naspers ook toe om dieselfde direksie en bestuur te hê. Sgourdos sê Naspers is ’n ingewikkelde onderneming met bedrywighede in 90 lande. “Ons wou nie nog ’n verdere laag kompleksiteit skep nie.” 
  • Skaarsheidswaarde: Prosus sal die grootste verbruikersinternetgroep in Europa “met ’n myl” in skep – drie keer groter as die tweede grootste groep. “Europa sal nou iemand hê wat kan opstaan teen die Facebooks, Googles en Amazons van die wêreld. Dit skep ’n skaarsheidswaarde wat hopelik beleggers sal lok.”
  • Reeds gevestig: Naspers is reeds jare lank in Nederland gevestig en het ook heelwat personeel daar, insluitend sy huidige uitvoerende hoof, Van Dijk.

Aandeelhouers het slegs een ander vraag oor die notering gehad, benewens die een oor waarom Amsterrdam gekies is. Dit was of die diskonto op Naspers se aandeelprys deur Prosus opgelos gaan word. Sgourdos sê hulle sal moet wag en sien, maar hy het beklemtoon Prosus se notering is nie die finale oplossing vir die probleem nie, net een stap om dit op te los.

Aandeelhouers moet nou kies of hulle een Prosus-aandeel wil ontvang vir elke Naspers-aandeel wat hulle besit óf nog Naspers- gewone aandele, in die verhouding 0,36986 gewone Naspers-aandele vir elke Naspers-aandeel wat hulle reeds besit.

Aandeelhouers wat die Prosus-aandele kies, gaan moontlik kapitaalwinsbelasting moet betaal. Die kapitaalwins op hul aandele sal die verskil wees tussen 0 en die noteringsprys, wat nie bekend is nie. (Suid-Afrikaners word wel vrygestel van belasting op die eerste R40 000 se kapitaalwins wat hulle in ’n belastingjaar verdien; die res word by hul inkomste gevoeg en belas volgens hul belastingskaal.)

Aandeelhouers sal vanaf Maandag 26 Augustus tot Vrydag 13 September om 12:00 kan kies om die Naspers-opsie uit te oefen. Dié wat geen opsie uitoefen nie, sal Prosus-aandele ontvang.

Naspers self sal steeds nagenoeg 75% van Prosus besit. Daarbenewens sal Naspers bestaan uit die groep se Suid-Afrikaanse ondernemings, hoofsaaklik Media24, Mr D Food, Takealot en Property24, asook die beleggings wat Naspers deur die Naspers Foundry in beginnerondernemings in die tegnologiesektor beoog. Foundry het onlangs R30 miljoen belê in SweepSouth, ’n app waardeur mense huiswerkers kan aanstel.

Die groep het reeds voorheen gewaarsku dat Naspers se aandeelprys ná Prosus se notering met nagenoeg ’n kwart kan daal.

Die notering word gedoen in die hoop dat Prosus se aandeelprys beter sal vaar as dié van Naspers. Naspers se aandeelprys weerspieël nie eens die waarde van sy belang in Tencent nie.

Dit word deels daaraan toegeskryf dat Naspers te groot geword het vir die JSE. Batebestuursfirmas beperk hul blootstelling aan ’n enkele maatskappy om risiko te beperk en moet dus gereeld Naspers afverkoop soos wat die aandeel styg. Dié verkope plaas egter ’n demper op die aandeelprys se verdere styging.

Nog ’n rede vir die oorsese notering is die swak Suid-Afrikaanse ekonomie, wat ’n demper plaas op aandeelpryse in die algemeen, het die maatskappy vantevore aangevoer. Suid-Afrika is ook onderhewig aan marksentiment teenoor ontluikende lande as geheel.

  • Netwerk24 is ’n publikasie van Media24, ’n filiaal van Naspers.
Meer oor:  Prosus  |  Naspers  |  Media24  |  Amsterdam  |  E-Handel  |  Notering  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.