Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Naspers: ‘Ons vlug nié uit SA’

Naspers het Maandag herhaaldelik beklemtoon hy is nié besig om hom aan Suid-Afrika te onttrek nie.

Dít nadat die reus van die JSE Maandagoggend aangekondig het hy gaan sy buitelandse belange oorsee noteer in ’n beleggingsbeheerfirma wat onder meer sy belang van net meer as 31% in Tencent gaan besit.

Lees ook: Naspers wil reus in Amsterdam noteer

Media24 se hoofkantoor in Kaapstad. Dié mediafirma bly deel van die Suid-Afrikaanse Naspers. Foto: Getty Images

Twitter was aan die brand oor die nuus, met baie mense wat gesê het dit wys Naspers is nie verbind tot Suid-Afrika nie. Hoewel daar kritiek was op Naspers, was daar ook kritiek op die ANC-regering vir die politieke en ekonomiese onsekerheid wat in Suid-Afrika heers.

Naspers se aandeelprys het die dag 1,6% laer op R3 225,58 gesluit.

Bob van Dijk, uitvoerende hoof van Naspers, het in ’n konferensie-oproep met beleggers gesê die maatskappy bly verbind tot Suid-Afrika. Hy het ook deur die loop van die dag in verskeie onderhoude gesê die nuwe notering is nié ’n ontknoping nie omdat Naspers die beherende belang van 75% in die nuwe maatskappy, vir eers net as die NewCo bekend, gaan hou.

Die orige 25% van die NewCo gaan aan huidige Naspers-aandeelhouers uitgekeer word. 

Basil Sgourdos, finansiële hoof, het ook gesê Naspers gaan Suid-Afrika se grootste maatskappy volgens markwaarde bly en die maatskappy se hoofkantoor bly in Suid-Afrika.

Naspers se markwaarde gaan wel na verwagting met sowat 25% daal en sy gewig in die indeks van alle aandele gaan krimp. Plaaslike aandeelhouers kry egter aandele in die NewCo wat vir die daling in aandeelprys behoort te vergoed.

Naspers is steeds hier genoteer en boonop kry die land ’n tweede notering.
Jean Pierre Verster van Fairvest Capital

Hoeveel aandele mense in die NewCo gaan kry vir hul Naspers-aandele besit, sal eers later bekend gemaak word. Die vermoede is hulle sal een aandeel kry vir elke drie of vier Naspers-aandele wat hulle besit. Hulle sal ook die opsie kry om eerder nog aandele in Naspers te aanvaar, wat Sgourdos sê juis is om seker te maak Suid-Afrikaanse aandeelhouers het opsies.

Die Sasfin-portefeuljebestuurder David Shapiro reken die skuif sal waarde ontsluit, maar gaan meebring dat die volume verhandeling in Naspers op die JSE “stadig verdamp”: “Soos belangstelling na Amsterdam migreer, sal die JSE se verhandelingsvolumes verswak. Byvoorbeeld, ons het nooit die volumes teruggekry wat in SABMiller van AB InBev verloor is nie,” het hy op Twitter gesê.

Laasgenoemde is ’n verwysing na die sekondêre notering van die bierreus Anheuser-Busch InBev kort voordat hy SABMiller oorgekoop en dié plaaslike reus gedenoteer het.

Die besluit “is nie ’n verandering in ons strategie nie,” het Sgourdos in die konferensieoproep gesê. “Die sleutel-rasionaal is om ’n nuwe intreepunt vir internasionale beleggers te skep, wat ’n behoorlike waardasie van Naspers se bates moontlik sal maak.”

Sgourdos het ook bekend gemaak een van die grootste potensiële struikelblokke vir die transaksie – goedkeuring deur die Reserwebank – is reeds bekom. Een van die voorwaardes is die inwaartse notering van die Newco in Suid-Afrika. Die JSE het dit ook reeds goedgekeur.

Geen groot verrassing

Batebestuurders wat weet hoe die vurk in die hef steek by Naspers, was nie besonder verbaas oor die aankondiging dat Naspers ’n kloon in Europa wil noteer nie.

Dié kloon sal dieselfde bestuur en direksie as Naspers hê.

Naspers wil die firma in die tweede helfte van die jaar op die Euronext-aandelebeurs in Amsterdam noteer. Die NewCo sal bestaan uit Naspers se belang in Tencent, Mail.ru, OLX, Avito, PayU, Swiggy, DeliveryHero, iFood en tientalle ander verbruikersgefokusde internetondernemings.

Jean Pierre Verster, portefeuljebestuurder by Fairtree Capital, sê die aankondiging is binne die verwagting. Naspers het die afgelope jare aangedui hy kyk na ’n tweede primêre notering as een van die opsies om die waarde van sy belang in onder meer Tencent en Mail.ru te ontsluit.

Dit is ook in pas met die feit dat Naspers nou 90% van sy inkomste oorsee verdien, volgens Sgourdos. In sy vorige boekjaar, tot Maart 2018, was dit nog 84%.

Verster sê slegs mense “wat nie mooi verstaan wat die detail van die transaksie is nie,” sal dit beskou as ’n onttrekking aan Suid-Afrika.

“Naspers is steeds hier genoteer en boonop kry die land ’n tweede notering. Daar is geen verskil in die belastingpligtigheid van Naspers voor en ná die transaksie nie.”

Die maatskappy het ook in sy aanvanklike Sens-verklaring beklemtoon hoeveel miljarde hy steeds in Suid-Afrika belê. Die groep belê deur sy Naspers Foundry R1,4 miljard in plaaslike tegnologie-ondernemings en het in Oktober op pres. Cyril Ramaphosa se beleggingsberaad belowe om nóg R3,2 miljard in sy bestaande Suid-Afrikaanse ondernemings te belê. Naspers sê dié besteding is op koers.

  • Netwerk24 is ’n produk van Media24, ’n Suid-Afrikaanse filiaal van Naspers.
newco
Meer oor:  Mail.Ru  |  Naspers  |  Tencent  |  Tegnologie  |  Internet  |  E-Handel  |  Kosaflewering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.