Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Naspers, Prosus se inkomste styg skerp
Prosus is deel van Naspers. Foto: Getty Images

Naspers se halfjaar-inkomste was vir die eerste keer tot nog toe meer as $10 miljard sonder die inkomste van MultiChoice.

Die maatskappy se inkomste het in plaaslike geldeenhede in die halfjaar tot einde September met nagenoeg 20% tot $10,2 miljard gestyg. Sy handelswins vir die tydperk het met 9% tot byna $1,9 miljard gestyg en sy kernwesensverdienste met 10% tot byna $1,7 miljard.

Dié syfers vergelyk slegs Naspers se voortgesette bedrywighede en sluit die vorige jaar se inkomste uit MultiChoice, wat in Maart ontknoop en afsonderlik op die JSE genoteer is, uit.

Dis die eerste stel resultate wat Naspers uitreik sedert hy sy internasionale internetbates in Europa as Prosus genoteer het.

Prosus se halfjaarsyfers is saam met dié van Naspers uitgereik en verskil slegs deurdat dit die syfers van Naspers se Suid-Afrikaanse belange – Media24, Takealot, Superbalist en Property24 – uitsluit.

Prosus se inkomste is ook nagenoeg 20% hoër op $9,9 miljard, terwyl die handelswins en kernwesensverdienste en die styging van onderskeidelik 7% en 10% afgerond dieselfde aan dié van Naspers is.

Naspers spog in sy verklaring dat nagenoeg $10 miljard se waarde deur die ontknoping vir aandeelhouers ontsluit is. Naspers besit net minder as 74% van Prosus.

Naspers sê in sy verklaring sy algehele inkomste uit e-handel het met 27% tot $2,1 miljard gestyg. Al sy kernsegmente vir geklassifiseerde advertensies en betalings en finansiële dienste is nou winsgewend.

Op die gebied van kosaflewering – wat vir Naspers en Prosus die fokusgebied vir nuwe beleggings gaan bly – het bestellings met 110% gegroei en inkomste met 69%.

Prosus is juis nou in ’n vyandige oorname gewikkel waarin hy die Brits gegronde kosafleweraar Just Eat wil bekom terwyl ’n aanbod van ’n ander mededinger, Takeaway.com, reeds op die tafel was. Die afsnydatum vir Prosus se aanbod regstreeks aan aandeelhouers is 11 Desember.

Die groep se dividendinkomste uit Tencent, waarin hy ’n belang van 31,1% hou, het met 13,6% tot $377 miljoen gestyg.

Media24 se inkomste in dollar het met 18% tot $139 miljoen gedaal, maar die maatskappy het sy handelsverlies van $10 miljoen in ’n handelswins van $4 miljoen omgekeer. Media24 sluit publikasies soos Netwerk24, Huisgenoot, Die Burger, Beeld, Rapport en News24 in.

Media24 reik later Vrydag sy halfjaarsyfers in rand uit.

Naspers het $5,9 miljard kontant in die bank, wat hy wil gebruik om groei na te streef. Van dié geld is wat oor is uit die verkoop van 2% van sy belang in Tencent en van die Indiese e-handelaar Flipkart, albei in die vorige boekjaar.

  • Netwerk24 is 'n publikasie van Media24, ’n filiaal van Naspers. 
Meer oor:  Prosus  |  Naspers  |  Tegnologie  |  Resultate
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.