Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Naspers se aandeelhouers: Só lyk somme nou

Naspers-aandeelhouers moenie Woensdag uurliks die aandeelprys dophou nie – hulle moet op lang termyn fokus, sê Basil Sgourdos, finansiële hoof van Naspers en Prosus.

Bob van Dijk, Group CEO, Prosus and Naspers, hitti
Bob van Dijk (links), uitvoerende hoof van Prosus en Naspers, slaan die ghong van die Euronext Amsterdam met die notering van Prosus op dié beurs. Foto: Prosus

Naspers se aandeelprys het Woensdag 32% laer geopen nadat 25% van Naspers se waarde in Prosus ontknoop is.

Prosus het op sy beurt die verwagtinge oortref deur op R1 238,50 op die JSE te open.

Naspers se aandeelprys het Dinsdag op R3 522,82 gesluit, maar Bloomberg het die sluitingsprys aangepas om die ontknoping te weerspieël. Dit word nou as R2 318,98 aangegee, en op grond van dié sluiting was daar ’n 4%-styging teen 11:00 Woensdag tot R2 411,73.

“Wat oor die volgende agt uur, of paar dae of weke gebeur, maak nie saak nie,” sê Sgourdos. “Wat regtig saakmaak, is watter waarde ons skep en die ondernemings wat ons bou.”

Sgourdos het in ’n telekonferensie aan joernaliste gesê Prosus en Naspers gaan proaktief bly om waarde te skep. Naspers gaan uiteindelik minstens 73% van Prosus besit.

Kommer oor likiditeit

Sgourdos het beklemtoon dat die Prosus-notering hulle toegang gee tot ’n nuwe poel kapitaal – beleggers in tegnologie wat regstreeks in Naspers se internetbelange kan belê.

Hy is nie bekommerd oor ’n gebrek aan likiditeit in Prosus se aandeelprys nie, iets waaroor die mark wel bekommerd is.

Gegewe dat Naspers-aandeelhouers gratis Prosus-aandele kry en baie van hulle langtermynaandeelhouers is wat nie vinnig verkoop nie, en gegewe dat Naspers belowe het om nie sy eie belang in Prosus tot minder as 73% te verlaag nie, is die vraag hoe nuwe beleggers toegang tot Prosus sal kan kry.

Sgourdos sê die vrylik verhandelbare poel van 25% is nie lukraak bepaal nie en hulle glo daar sal genoeg aandele op die mark verhandel. “Ons is redelik gemaklik daarmee.”

Die maatskappy het die opsie om nog aandele uit te reik, maar Sgourdos sê dis iets wat slegs gedoen sal word as die vraag baie hoog is: “Ons sal wil sien hoe dinge ontwikkel. Ons wil dinge sinvol benader.”

Waarde van Naspers-aandeelhouers se beleggings

Naspers-aandeelhouers, wat as verstekopsie een Prosus-aandeel gaan ontvang vir elke Naspers-aandeel wat hulle besit, kan nou die somme begin doen voor die spertyd Vrydag 12:00 vir die alternatiewe opsie, naamlik om in plaas van ’n Prosus-aandeel eerder ’n breukdeel van ’n Naspers-aandeel (0,36986) bykomend te ontvang vir elke Naspers-aandeel wat hulle besit.

Sgourdos sê die oorweldigende meerderheid aandeelhouers met wie hulle die afgelope maand gepraat het, gaan kies om die Prosus-aandeel te aanvaar eerder as die breukdeel.

Die finale persentasie aandeelhouers wat Prosus kies, sal eers Maandag bekend wees. 100% van Naspers se A-aandeelhouers en 95,51% van sy N-aandeelhouers het in Augustus op die algemene vergadering ten gunste van die notering van die groep se oorsese internetbelange in Amsterdam gestem.

In dié stadium is die argument baie sterk uit te maak dat dit beter is om die Prosus-verstekopsie te aanvaar, in welke geval aandeelhouers Vrydag niks hoef te doen nie.

Selfs met die laer Naspers-prys sal beleggers beter daaraan toe wees, gegrond op Dinsdag se sluitingstydprys vergelyke met Woensdag se pryse omstreeks 11:30. Dit beteken die ontknoping het reeds binne ure waarde vir Naspers-aandeelhouers geskep.

Die som sal nog nie 100% akkuraat wees nie, aangesien die verwysingsprys vir die kapitalisasie-uitgifte Maandag 16 September se Naspers-prys is. Maar só sou dinge lyk as dit teen Woensdag 11:30 saamgestel word:

  • Waarde van 1 Naspers-aandeel Dinsdag: R3 522,82
  • Waarde van 1 Naspers-aandeel + 1 Prosus-aandeel: R2 419,99 + R1 204,50 = R3 624,49
  • Waarde van 1 Naspers-aandeel + 0,36986 van ’n Naspers-aandeel: R2 419,99 + R895 = R3 315,05

Die besluit om die Prosus-aandeel te aanvaar, skep egter onmiddellik kapitaalwins, wat die volle waarde van Maandag se Prosus-aandeelprys sal beloop.

Teen ’n effektiewe belastingkoers vir kapitaalwinsbelasting van 18% raam die span van Anchor Capital dat enigeen met 34 of meer Naspers-aandele wel kapitaalwinsbelasting in ag sal moet neem.

Die nuwe Naspers-aandele sal óók KWB lok, maar eers wanneer dit later verkoop word.

Aandeelhouers mag nie met ’n persentasie van hul aandele een opsie kies en met die res die ander opsie nie – hulle moet dieselfde keuse vir al hul aandele uitoefen.

  • Netwerk24 is ’n publikasie van Media24, ’n filiaal van Naspers.
  • Regstelling: In ’n vorige weergawe van die berig is verkeerdelik bereken net mense met 180 Naspers-aandele moet oor KWB besorg wees. Dit was ’n berekeningsfout. Daar bly egter steeds heelwat onsekerheid aangesien die finale verwysingsprys vir taksdoeleindes nog nie bepaal is nie.
Meer oor:  Prosus  |  Naspers  |  Basil Sgourdos  |  E-Handel  |  Tegnologie  |  Internet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.