Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Naspers se aandeelhouers stem vandag oor notering

Naspers se aandeelhouers stem Vrydag oor die voorgenome notering van dié groep se internetondernemings in Amsterdam.

Koos Bekker, voorsitter van Naspers se direksie. Foto: Lerato Maduna

Die stem sal uitgebring word ná die groep se jaarvergadering, wat omstreeks 11:00 in Kaapstad begin.

Naspers wil sy internetbelange as die maatskappy Prosus op die Euronext Amsterdam noteer, met ’n sekondêre notering op die JSE. Dit sal Naspers se belang van nagenoeg 31% in die Chinese internetreus Tencent insluit, asook sy belang in die Russiese Mail.ru en Brasilië se Movile. Daarby sluit dit OLX, PayU, Delivery Hero, Avito, Letgo, Udemy, eMag en nog tientalle ander e-handelondernemings in.

Dit word alom as ’n uitgemaakte saak beskou dat aandeelhouers die oorsese notering sal goedkeur, veral aangesien die A-aandele wat verskeie direkteure besit, die grootste stemreg dra.

Daarby word aandeelhouers wel beloon vir die besluit. Hulle sal kan kies of hulle een Prosus-aandeel wil ontvang vir elke Naspers-aandeel wat hulle besit óf nog Naspers- gewone aandele, in die verhouding 0,36986 gewone Naspers-aandele vir elke Naspers-aandeel wat hulle reeds besit.

Aandeelhouers sal vanaf Maandag 26 Augustus tot Vrydag 13 September om 12:00 kan kies om die Naspers-opsie uit te oefen. Dié wat geen opsie uitoefen nie, sal Prosus-aandele ontvang.

Naspers self sal steeds nagenoeg 75% van Prosus besit. Daarbenewens sal Naspers bestaan uit die groep se Suid-Afrikaanse ondernemings, hoofsaaklik Media24, Mr D Food, Takealot en Property24, asook die beleggings wat Naspers deur die Naspers Foundry in beginnerondernemings in die tegnologiesektor beoog. Foundry het onlangs R30 miljoen belê in SweepSouth, ’n app waardeur mense huiswerkers kan aanstel.

Die groep het reeds voorheen gewaarsku dat Naspers se aandeelprys ná Prosus se notering met nagenoeg ’n kwart kan daal.

Die notering word gedoen in die hoop dat Prosus se aandeelprys beter sal vaar as dié van Naspers. Naspers se aandeelprys weerspieël nie eens die waarde van sy belang in Tencent nie.

Dit word deels daaraan toegeskryf dat Naspers te groot geword het vir die JSE. Batebestuursfirmas beperk hul blootstelling aan ’n enkele maatskappy om risiko te beperk en moet dus gereeld Naspers afverkoop soos wat die aandeel styg. Dié verkope plaas egter ’n demper op die aandeelprys se verdere styging.

Nog ’n rede vir die oorsese notering is die swak Suid-Afrikaanse ekonomie, wat ’n demper plaas op aandeelpryse in die algemeen, het die maatskappy vantevore aangevoer. Suid-Afrika is ook onderhewig aan marksentiment teenoor ontluikende lande as geheel.

  • Netwerk24 is ’n publikasie van Media24, ’n filiaal van Naspers.
Meer oor:  Prosus  |  Naspers  |  Media24  |  Amsterdam  |  E-Handel  |  Tegnologiemaatskappy  |  Notering  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.