Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Naspers se nuwe baba: ‘Slim skuif’ of slegte nuus?

Die waagkapitalis dr. Michael Jordaan en verskeie batebestuurders het Maandag op Twitter die nuus verwelkom dat Naspers sy buitelandse belange in Amsterdam noteer.

Daar is wel kommer oor die uitwerking wat dit op verhandeling op die JSE gaan hê.

Jordaan beskryf dit as ’n “slim skuif”: “Dit ontsluit waarde en gee plaaslike beleggers meer keuse.”

Onttrek Naspers aan SA?

Heelwat mense het op Twitter gesê die lyk asof Naspers landuit vlug.

Bob van Dijk, uitvoerende hoof van Naspers, het in verskeie onderhoude beklemtoon dit is nié ’n ontknoping nie omdat Naspers die beherende belang in die Newco hou.

Die maatskappy het ook in sy aanvanklike Sens-verklaring beklemtoon hoeveel miljarde hy steeds in Suid-Afrika belê.

Die beoogde notering van ’n nuwe beleggingsbeheerfirma wat onder meer Naspers se 31%-belang in Tencent sal hou, is Maandagoggend kort ná die opening van die JSE aangekondig.

Die nuwe maatskappy, wat nog net die plekhouernaam NewCo het, gaan in die tweede helfte van die jaar op die Euronext-beurs in Amsterdam noteer. Naspers gaan steeds 75% van die nuwe maatskappy, wat ook op die JSE genoteer gaan word, besit.

Die orige 25% gaan aan huidige Naspers-aandeelhouers uitgekeer word en sal die vrylik verhandelbare aandele van die nuwe maatskappy wees.

Lees ook: Naspers wil reus in Amsterdam noteer

Dit sal die tweede keer binne ’n jaar wees dat Naspers-aandeelhouers “gratis” aandele in ’n nuwe maatskappy kry. In Maart het aandeelhouers een MultiChoice-aandeel gekry vir elke Naspers-aandeel wat hulle besit. MultiChoice se aandeelprys was Maandagmiddag R116.

Bob van Dijk, uitvoerende hoof van Naspers.

Geen aanduiding is nog gegee van die waarde van die nuwe maatskappy of sy aandeelprys nie, maar Naspers sê dit gaan die grootste verbruikers-tegnologiefirma in Europa wees. Op Twitter word geraam dat dit die derde grootste maatskappy volgens markwaarde op Euronext gaan wees, ná Shell en Unilever.

Die doelwit van die nuwe notering is om die gaping te help krimp tussen die waarde van Naspers se onderliggende bates en die maatskappy se markwaarde op die JSE. Naspers se belang in Tencent alleen is byna R2 000 miljard werd en dit sluit nog nie die waarde in van OLX, DeliveryHero, Swiggy, iFood en die tientalle ander maatskappye wat onder die NewCo gaan sorteer nie. OLX het verlede jaar winsgewend geword.

Die Sasfin-portefeuljebestuurder David Shapiro reken die skuif sal waarde ontsluit, maar gaan die volume verhandeling in Naspers op die JSE “stadig verdamp”: “Soos belangstelling na Amsterdam migreer, sal die JSE se verhandelingsvolumes verswak. Byvoorbeeld, ons het nooit die volumes teruggekry wat in SABMiller van AB InBev verloor is nie,” het hy op Twitter gesê.

Laasgenoemde is ’n verwysing na die sekondêre notering van die bierreus Anheuser-Busch InBev kort voordat hy SABMiller oorgekoop het en dié plaaslike reus gedenoteer het.

Die waardasiegaping

  • Naspers se markwaarde Maandag op die JSE was R1 440 miljard.
  • Tencent se markwaarde van HK$3 368 miljard kom neer op sowat R6 197 miljard, volgens Maandag se wisselkoers.
  • Naspers se belang van net meer as 31% kom neer op R1 934 miljard.
  • Die maatskappy se markwaarde weerspieël dus minder as 75% van sy Tencent-belang.
  • As MultiChoice se markwaarde van byna R51 miljard bygetel word, weerspieël Naspers en MultiChoice saam steeds net 77% van Naspers se Tencent-belang. Dit verteenwoordig ’n styging in die waardasiegaping, aangesien dit verlede jaar nog 80% was.
  • Netwerk24 is deel van Media24, 'n filiaal van Naspers.
newco
Meer oor:  Naspers  |  Multichoice  |  Tencent  |  Bob Van Dijk  |  Tegnologie  |  Internet  |  Kosaflewering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.