Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Naspers stel nuwe hoof in SA aan

Phuthi Mahanyele-Dabengwa is die nuwe hoof van Naspers in Suid-Afrika, het die maatskappy pas aangekondig.

Phuthi Mahanyele-Dabengwa, naspers
Phuthi Mahanyele-Dabengwa is die nuwe hoof van Naspers in Suid-Afrika.

Die internetreus berei tans voor om sy oorsese internetbelange afsonderlik in Amsterdam onder die naam Prosus te noteer.

Mahanyele-Dabengwa, wat voorheen uitvoerende voorsitter van die swart beheerde beleggingsvoertuig Sigma Capital was, sal regstreeks aan Bob van Dijk verslag doen.

Van Dijk is steeds groephoof van Naspers. Hy is in Nederland gesetel.

Mahanyele-Dabengwa gaan vanuit Johannesburg sake doen eerder as vanaf Naspers se hoofkantoor in die Kaapse hawegebied.

Sy sal onder meer verantwoordelik wees vir die bestuur van Naspers se belange in Suid-Afrika, insluitend die spesiale fonds wat die maatskappy verlede jaar op die been gebring het om in nuwe plaaslike tegnologieprodukte te belê.

Die Naspers Foundry het onlangs sy eerste belegging gedoen deur R30 miljoen in SweepSouth, alombekend as “Uber vir huiswerkers”, te belê.

In ’n verklaring sê Van Dijk dat Mahanyele-Dabengwa se aanstelling perfek gepas is, gegewe haar prestasies as leier in die korporatiewe bedryf.

“Ek is baie opgewonde om by Naspers aan te sluit op so ’n belangrike tydstip vir die maatskappy,” voeg Mahanyele-Dabengwa by. “Ek sien uit daarna om waarde te skep in die implementering van Naspers se strategie in Suid-Afrika.”

Mahanyele-Dabengwa gaan ook in beheer wees van Naspers Labs, ’n projek waarmee die maatskappy jong, werklose Suid-Afrikaners wil oplei. Naspers het reeds R50 miljoen in dié projek belê.

Sy was voorheen ook op die direksie van Vodacom en was ook die uitvoerende hoof van Shanduka, nóg ’n beleggingsmaatskappy.

Shanduka is destyds deur pres. Cyril Ramaphosa geskep.

Mahanyele-Dabengwa is in 2014 deur Forbes as sakevrou van die jaar in Afrika aangewys.

Naspers sou aanvanklik sy internasionale kloon vandeesmaand in Amsterdam noteer, maar weens ’n administratiewe fout kan dit nou eers in September plaasvind.

  • Netwerk24 is deel van Media24, ’n filiaal van Naspers.
Meer oor:  Naspers Foundry  |  Prosus  |  Naspers  |  Tegnologie  |  E-Handel  |  Internet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.