Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Naspers: Takealot toon dalk binnekort wins

Takealot, Suid-Afrika se grootste aanlyn kleinhandelaar, staan op die punt om ’n wins te maak.

Volgens Naspers se resultate vir die boekjaar tot einde Maart het Takealot ’n “uitsonderlik sterk jaar” gehad. In dollar, waarin Naspers verslag doen, het Takealot se inkomste met 55% tot $606 miljoen gestyg.

e-handel
Pakkies word reggemaak vir versending in Takelalot se pakhuis in Kempton Park.

Naspers sê Takealot se handelsverlies het “tot naby gelykbreekpunt gedaal”.

Die totale waarde van handelsware wat op Takealot verkoop is, het met 69% tot R16,7 miljard (in rand aangegee) gestyg.

Die kosafleweraar Mr D se aantal bestellings het teen 117% meer as verdubbel, en sy inkomste het ook met 93% opgeskiet. Die geldwaarde van bestellings word nie weergegee nie.

Superbalist, die mode-afdeling van die Takealot-groep, het met ’n styging van 45% in bruto handelswarewaarde sterk gegroei.

Dis onder die hoogtepunte van Naspers se “sterkste resultate tot nog toe”, volgens Basil Sgourdos, finansiële hoof.

Naspers se inkomste het met 32% tot $29,6 miljard en sy handelswins met 45% tot $5,6 miljard gestyg. Kernwesensverdienste, wat Naspers as die belangrikste aanwysers van sy wins uit bedrywighede beskou, het met 15% tot $3,5 miljard gestyg.

Naspers het nog nie bekend gemaak watter dividend hy uitkeer nie; dit gaan afhang van die transaksie waarin Prosus ’n groter belang in Naspers wil bekom.

Naspers se resultate is baie na aan ’n nabootsing van sy “kloon” Prosus, die firma wat twee jaar gelede op die Euronext-beurs in Amsterdam genoteer is om Naspers se oorsese internetbelange te huisves. Die twee firmas het ook dieselfde direksie en bestuur.

Buiten Takealot besit Naspers ook Media24 in Suid-Afrika. Media24 se gedrukte tydskrifte en koerante is swaar getref deur die pandemie, wat die “reeds brose” drukafdeling se inkomste onder enorme druk geplaas het.

In dollarwaarde het Media24 se inkomste met 22% tot $211 miljoen, en van ’n handelswins van $8 miljoen teen Maart 2020 tot ’n handelsverlies van $8 miljoen in Maart 2021 gedaal. (Netwerk24 sal later 'n afsonderlike verslag doen oor Media24 se resultate.)

Prosus

Die Covid-19-pandemie het vir Prosus bewys dat sy enorme beleggings in kosaflewering die afgelope jare die regte besluit was.

Die groep glo daar is steeds baie groeipotensiaal in kosaflewering – ondanks snelle groei word nog net 10% van restaurantbestellings wêreldwyd afgelewer.

Hy het egter ook besef die potensiaal is enorm om sy infrastruktuur vir kosaflewering in te span om kruideniersware en ander produkte af te lewer.

“Ons verwag ’n evolusie na ’n breër ekostelsel van onmiddellike aflewering,” sê die groep in sy resultate vir die boekjaar tot einde Maart.

“Die restaurantkategorie is enorm uit eie reg en bly ons kernfokus. Ons het egter die geleentheid geïdentifiseer om as eenstop-bestemming vir ’n verskeidenheid produkte en dienste te dien, waar ons vinnige, opaanvraag-aflewering kan bied wat deur meer gereelde raakpunte met verbruikers gekenmerk word.”

Die groep se inkomste uit kosaflewering het in die boekjaar tot einde Maart tot $1,5 miljard (’n styging van 98%) byna verdubbel. Prosus is onder meer in iFood in Latyns-Amerika, Delivery Hero in Europa en Suidoos-Asië en Swiggy in Indië belê.

Prosus het opvoedkundige tegnologie as die volgende groot groeigebied geïdentifiseer. In die nuwe boekjaar gaan hy opvoedkundige tegnologie as ’n afsonderlike kategorie weergee. Die groep se ondernemings in dié kategorie bereik reeds meer as 500 miljoen leerlinge en studente.

Die groep glo die totale mark vir opvoedkundige tegnologie is tans $5 400 miljard werd en sal teen 2030 $10 000 miljard werd wees.

In syfers

Prosus se boekjaar tot einde Maart vergelyk as volg met die vorige boekjaar:

  • Inkomste op grond van ekonomiese belang styg met 34% tot $28,8 miljard. As ekwiteitsverantwoorde beleggings afgetrek word, is die groep se totale gekonsolideerde inkomste 54% hoër op $5,1 miljard.
  • Handelswins styg met 49% tot $5,6 miljard.
  • Kernwesensverdienste styg met 45% tot $4,9 miljard.
  • ’n Dividend van 14 eurosent per aandeel word uitgekeer.
Prosus en Naspers

Prosus is die maatskappy wat Naspers se oorsese internetbelange huisves. Die maatskappy is twee jaar gelede op die Euronext-beurs in Amsterdam genoteer.

Prosus besit tans 3,7% van Naspers, terwyl Naspers 73,2% van Prosus besit.

Die groep het onlangs aangekondig dat Prosus ’n groter belang in Naspers bekom het in ’n vrywillige aandele-ruilskema waaroor aandeelhouers op 9 Julie stem. Dit kan meebring dat Prosus se belang in Naspers tot 49,5% verhoog, en Naspers se belang in Prosus tot 57,2% verlaag.

Die doelwit daarmee is om Naspers se gewig op die JSE te verminder in ’n poging om die aandeelprys aan te help. Dit word tans beperk omdat batebestuurders hul gewig in ’n enkele maatskappy beperk.

Naspers se resultate weerspieël dus grootliks dié van Prosus, maar daarby moet Suid-Afrikaanse belange soos Takealot en Media24 nog bygereken word.

LEES OOK: Naspers: Wat jy as aandeelhouer moet weet


Segmentele ontleding

Prosus doen verslag in twee oorhoofse segmente: e-handel en platforms vir sosiale media en die internet. Dit stem grootliks ooreen met hoe Naspers daaroor verslag doen.

E-handel word verdeel in onder meer geklassifiseerde advertensies, finansiële tegnologie, kosaflewering, e-kleinhandel en reis.

Sosiale media en die internet is Prosus se belange in die Chinese firma Tencent (30,9% teen die einde van die boekjaar, maar tans 28,8% nadat Prosus in April $16,4 miljard se Tencent-aandele verkoop het) en die Russiese firma Mail.ru (27%).

E-handel

Inkomste van dié afdeling het met 46% tot $6,2 miljard gegroei.

Dis aangedryf deur baie na aan ’n verdubbeling in inkomste uit kosaflewering (98%) en groei van 65% in e-kleinhandel.

E-handel ly steeds ’n handelsverlies, maar dit het met 45% of $353 miljoen tot $429 miljoen gedaal.

E-kleinhandel het vir die eerste keer ’n handelswins van $68 miljoen teenoor 2020 se verlies van $20 miljoen gemaak.

  • Geklassifiseerde advertensies

Van al Prosus se afdelings is geklassifiseerde advertensies, wat onder meer OLX wêreldwyd insluit, die ergste deur die pandemie geraak. “Handelsvolumes het aanvanklik gedaal ná skielike en streng inperkings in baie markte, wat die vraag na groot aankope verminder en fisieke transaksies bemoeilik het.

“Ons het vinnig gereageer deur digitale opsies te verskaf en in ons verhouding met klante te belê deur afslag aan te bied.”

Die oomblik toe die inperkings verslap is, het die afdeling weer spoed opgetel.

Prosus se ondernemings in dié sfeer het teen die einde van die jaar 322 miljoen aktiewe maandelikse gebruikers gehaal, teenoor 300 miljoen die vorige jaar.

Die afdeling se inkomste het met 25% tot $1,6 miljard opgeskiet, maar die handelswins was 74% laer op $9 miljoen.

  • Kosaflewering

Bestellings het met 52% en die inkomste met 98% tot $1,5 miljard gestyg. Die afdeling ly steeds ’n handelsverlies, maar dit het met 43% tot $355 miljoen gekrimp, wat Prosus toeskryf aan skaalvoordele wat nou begin vrugte dra.

Prosus is ten gunste van ’n model waarin hy self die aflewerings doen, pleks daarvan om dit uit te kontrakteer.

Delivery Hero, wat voorheen aflewerings uitgekontrakteer het, het sy sakemodel aangepas en doen nou 61% van sy aflewerings self. In Brasilië doen iFood 35% van sy eie aflewerings.

Met ’n groei in inkomste wat 134% beloop het, is iFood een van die groep se suksesverhale. Die groep se handelsverlies het met 83%, tot $43 miljoen, skerp afgeneem.

Delivery Hero, wat in 50 lande sake doen en waarin Prosus ’n belang van 24,99% het, het sy bestellings byna verdubbel (96%).

In Indië is Swiggy baie hard getref deur streng inperkings en dié onderneming se inkomste het met net 2% gegroei. Sedert April het die Covid-19-situasie in Indië drasties verswak en Prosus sê hy hou aan skenkings doen om die land se nood te verlig. Dit sluit in ’n vennootskap met Phillips om ventilators aan die land te skenk.

  • Betalings en finansiële tegnologie

Prosus besit onder meer belange in PayU en Remitly. Dié afdeling se inkomste het met 35% tot $577 miljoen gestyg en die handelsverlies het met net $1 miljoen tot $58 miljoen vergroot.

Die groep sê egter sy kernbetalingsafdelings is nou winsgewend.

Bob van Dijk, uitvoerende hoof van Naspers en Prosus. Foto: Getty Images

Soos al hoe meer ondernemings aanlyn beweeg het, het die waarde van transaksies op PayU met 45% tot $55 miljard gestyg. Die aantal transaksies was 38% meer.

Remitly, ’n onderneming wat geldoordragte oor grense heen doen, het goed gevaar omdat mense steeds geld aan familielede en vriende wou stuur en baie mense dit nie meer in banke of winkels met dié dienste kon doen nie.

Tencent

Prosus se inkomste uit Tencent het met 32% tot $22,1 miljard gegroei.

Tencent besit tien van die 20 gewildste apps in China. Die gekombineerde maandelikse gebruikers van Weixin en WeChat het met 5% tot 1,23 miljard mense gestyg.

Tencent oorheers China se mark vir mobiele speletjies, maar spog nou ook daarmee dat sy inkomste uit internasionale speletjies 25% van sy totale inkomste uit speletjies beloop.

Tencent Meeting is nou die grootste alleenstaande platform vir konferensies in China.

Mail.ru

Prosus se inkomste uit die Russiese e-handel-, sosialemedia- en e-posreus het met 10% tot $371 miljoen gedaal.

  • Netwerk24 is ’n publikasie van Media24, ’n filiaal van Naspers.
k
Meer oor:  Prosus  |  Takealot  |  Naspers  |  Tencent  |  Media24  |  Tegnologie  |  Kosaflewering  |  Internet  |  E-Handel  |  Sosiale Media
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.