Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Naspers, Tencent val ver ná Trump verbod instel

Naspers se aandeelprys het Vrydag met bykans 5% gedaal nadat pres. Donald Trump van die VSA oornag ’n uitvoerende bevel onderteken het wat Tencent se WeChat-platform in dié land verbied.

Daar is aanvanklik gevrees die verbod beteken Tencent mag glad nie meer sake in die VSA doen nie.

Voordat daar klarigheid was oor wat die verbod presies behels, het Tencent se aandeelprys met meer as 10% getuimel. $34,6 miljard van sy markwaarde is binne oomblikke uitgewis.

Trump het Donderdag (Amerikaanse tyd) ’n bevel onderteken wat Amerikaanse ondernemings verbied om met Tencent se WeChat sowel as ByteDance, die Chinese eienaar van TikTok, sake te doen.

Die verbod is deel van toenemende struwelinge tussen Amerikaanse wetgewers en China wat beleggers in Chinese ondernemings toenemend onrustig laat.

Naspers besit ’n belang van 31% in Tencent.

Dié belang word behou deur Prosus, die internetmaatskappy wat Naspers verlede jaar ontbondel het om al sy internetbelange te huisves.

Prosus, met ’n sekondêre notering op die JSE, se aandeelprys het ook met meer as 4,5% gedaal.

Volgens ’n woordvoerder van Naspers wil die maatskappy nie in hierdie stadium kommentaar lewer nie. Tencent en ByteDance het ook nog nie ’n woord oor die verbod gerep nie.

Rede tot kommer

Die daling in Naspers se aandeelprys is wel rede tot kommer, reken batebestuurders.

“Dit raak Naspers en Prosus via Tencent en sal ook die sentiment teenoor ander tegnologiemaatskappye demper,” het Casparus Treurnicht, ’n batebestuurder by Gryphon Asset Management in Kaapstad, aan Bloomberg gesê.

Aangesien Naspers en Prosus meer as 20% van die indeks van alle aandele uitmaak, “is dit rede tot kommer”.

Pres. Donald Trump van die VSA het Donderdag ’n bevel onderteken wat sekere van Tencent se bedrywighede in dié land verbied. Dit volg op ’n soortgelyke verbod op ByteDance, wat TikTok besit. Foto: Reuters

Daar was aanvanklik verwarring oor die omvang van die Amerikaanse verbod op Tencent.

Aanvanklik is gevrees dit sou beteken dat Tencent, wat verskeie videospeletjies vervaardig in samewerking met Amerikaanse maatskappye, totaal aan dié mark sou moes onttrek.

Amerikaanse owerhede het later bevestig die verbod geld vir eers net vir Tencent se betaal- en kletsplatform WeChat.

Voor Vrydag se skerp daling in sy aandeelprys was Tencent sowat $686 miljard werd, oftewel die agtste grootste maatskappy ter wêreld gegrond op markwaarde.

Trump se bevel teen Tencent en ByteDance kom kort nadat hy ook gedreig het om TikTok heeltemal in die VSA te verbied.

Microsoft het intussen bevestig hy onderhandel met ByteDance om dalk sy bedrywighede in die VSA en ’n handvol ander lande oor te koop.

Trump het nog nie gesê of sy verbod op WeChat, en onregstreeks Tencent, ook is omdat hy die diens as ’n veiligheidsrisiko beskou soos Huawei en ByteDance nie.

Trump voer aan hierdie maatskappye spioeneer namens die Chinese regering op Amerikaners, maar kon tot dusver geen bewyse daarvoor verskaf nie.

TikTok het sowat 100 miljoen Amerikaanse gebruikers terwyl WeChat nie besonder gewild in dié land is nie.

Naspers het Vrydag vroegmiddag 4,69% laer teen R3 071,86 verhandel.

  • Netwerk24 is deel van Media24, 'n filiaal van Naspers.
Meer oor:  Tiktok  |  Bytedance  |  Prosus  |  Wechat  |  Naspers  |  Tencent  |  Tegnologie  |  Verbod  |  Tegnologiemaatskappye
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.