Naspers verwag ’n “aansienlike” daling in sy verdienste per aandeel vir die ses maande tot einde September.
Die maatskappy reik Vrydag sy tussentydse resultate uit.

Naspers maak Vrydag sy tussentydse resultate vir die jaar bekend. Foto: Getty Images
In ’n handelsoorsig Maandag op die JSE se nuusdiens, Sens, sê Naspers hy verwag dat sy verdienste per aandeel met meer as 20% gaan daal in vergelyking met die ooreenstemmende tydperk in 2018.
Een van die redes hiervoor is die verkoop van sy belang in Flipkart vir $1,6 miljard, wat die vorige boekjaar op sy boeke verskyn het. Aangesien Naspers nie weer só ’n ruim bedrag ingevorder het in die ses maande tot einde September vanjaar nie, is sy verdienste per aandeel gevolglik laer.
Sy inkomste verdien uit sy belegging in die Chinese tegnologiereus Tencent sal na verwagting ook heelwat laer wees as ’n jaar gelede, waarsku Naspers.
Die maatskappy verwag om ’n inkomste van $400 miljoen uit sy belegging in Tencent te verklaar vergeleke met die $1,4 miljard in die vorige boekjaar.
Die gevolg is ’n groot daling in sy kernverdienste per aandeel.
Die maatskappy verwag egter ’n styging in sy kernwesensverdienste per aandeel van tussen 7,6% en 10,7%. Dié syfer weerspieël net die maatskappy se voortgesette bedrywighede en sluit uit enige wins of verlies wat hy gemaak het deur die verkoop van enige van sy belange.
Die groep verwag egter dat sy verdienste per aandeel met tussen 30,7% en 37,7% gaan daal vergeleke met September 2019. Naspers het in September vanjaar sy buitelandse internetbelange afsonderlik as Prosus in Europa genoteer.
Naspers besit 73,84% van Prosus.
Naspers se aandeelprys was Maandagmiddag 2,7% hoër op R2 167,67. Prosus het bykans 2% hoër op R1 007,09 verhandel.
- Netwerk24 is deel van Media24, ’n filiaal van Naspers.