Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Naspers ‘vorder flink’ met plaaslike beleggings
A Naspers Ltd. logo is displayed on a large electr
Naspers het beloof om R4,6 miljard in Suid-Afrika te belê. Foto: Getty Images

Phuthi Mahanyele-Dabengwa, Naspers se hoof in Suid-Afrika, sê die maatskappy vorder flink met sy mikpunt om uiteindelik R4,6 miljard in plaaslike tegnologiemaatskappye te belê.

“Ons het nooit vergeet dat Naspers in Suid-Afrika gestig is nie; die land is ’n belangrike mark vir ons,” het Mahanyele-Dabengwa tydens ’n paneelbespreking by die regering se tweede groot internasionale beleggingskonferensie in Johannesburg gesê. Naspers het die meeste van sy oorsese internetbelange onlangs na ’n nuwe maatskappy, Prosus, geskuif wat plaaslik sowel as in Amsterdam genoteer is.

Prosus is steeds ’n volfiliaal van Naspers.

Naspers het verlede jaar al aangedui hy beplan om R4,6 miljard in Suid-Afrikaanse ondernemings te belê.

R1,4 miljard daarvan was spesifiek vir die maatskappy se spesiale fonds wat op die been gebring is om in nuwe plaaslike tegnologieprodukte te belê.

Die Naspers Foundry het reeds R30 miljoen in SweepSouth, ’n onderneming vir huiswerkers, belê.

Daarbenewens het Naspers die afgelope jaar nóg R1,3 miljard in bestaande tegnologiemaatskappye belê waarin hy reeds ’n beduidende aandeel besit.

Dit sluit in Takealot, die kosafleweraar Mr D Food, Superbalist sowel as die advertensieplatform OLX.

Die maatskappy het ook verder in Media24, Suid-Afrika se grootste mediamaatskappy, belê.

Volgens Mahanyele-Dabengwa is Naspers op soek na nog “buitengewone plaaslike entrepreneurs” om in te belê ten einde werkskepping in Suid-Afrika aan te wakker.

Die Naspers Foundry is spesifiek op soek na Suid-Afrikaanse ondernemings in die tegnologiebedryf met ’n produk of diens wat “die gemeenskap as geheel” kan help.

“Ons kan nie meer na tegnologie verwys as die toekoms nie; dit is die hede. En ons beleggingstrategie gaan dit ’n ekonomiese realiteit maak.”

Naspers het Woensdag 0,5% hoër op R2 196 verhandel. Prosus se aandeelprys was 0,3% hoër op R1 032.

  • Netwerk24 is deel van Media24, 'n filiaal van Naspers.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.