Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Naspers: Wat jy as aandeelhouer moet weet

Die mark gons oor die internet- en mediareus Naspers en sy internasionale e-handelgroep Prosus se jongste pogings om waarde te ontsluit uit sy belange in groeiende internetbedrywighede. Hier is so ’n paar goed wat aandeelhouers moet weet.

prosus, naspers
Die embleem van Prosus, Naspers se internasionale internetmaatskappy.

Wat het Prosus nou eintlik aangekondig?

Die maatskappy nooi Naspers-aandeelhouers om hul aandele vir Prosus-aandele te verruil, sodat Prosus sy belang in Naspers na 49,5% vergroot.

Dit sal Prosus se beleggingsprofiel verbeter en op grond van sy groter waarde sal dit hom lid maak van die top-20-indeks van die Eurostoxx 50.

Dit beteken meer beleggingsfondse sal hom insluit in hul portefeuljes, wat sy aandeelprys kan help verstewig.

Dit sal ook Naspers se gewig op die JSE verklein, wat die kommer besweer oor die oorkonsentrasie van ’n enkele aandeel in indekse soos die top-40-indeks, die JSE se indeks van alle aandele en die aandeelhouersgeweegde indekse (Swix).

Móét aandeelhouers (al) hul Naspers-aandele ruil?

Dis ’n vrywillige aanbod.

Jy kan al jou aandele aanbied vir die ruiling of jy kan net ’n deel aanbied of jy kan besluit om nie deel te neem nie en jou Naspers-aandele behou.

Prosus bied 2,27443 Prosus-aandele aan vir elke Naspers-aandeel.

Na gelang van hoeveel Naspers-aandele aangebied word vir die ruiling, kan Prosus die aandeelhouers se aanbiedings pro rata afskaal.

Dit beteken, al bied jy al jou Naspers-aandele aan in ruil vir Prosus-aandele, gaan jy nie noodwendig alles geruil kry nie. Dit hang af hoe ywerig almal wil ruil.

En as jy jou Naspers-aandele wil behou, mag jy. Prosus sê wel hy hou $5 miljard gereed vir die terugkoop van sy eie aandele om seker te maak sy transaksie slaag.

Prosus

Gaan ek belasting betaal?

Waarskynlik, maar Prosus stippel nie presies uit hoeveel nie. Spesifiek Suid-Afrikaanse Naspers-aandeelhouers met heelwat aandele kan geraak word, want die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) sal dit beskou as dat jy Naspers-aandele “verkoop” en Prosus-aandele “koop”, wat implikasies het vir kapitaalwinsbelasting.

Prosus sal later meer inligting oor belastingimplikasies bekend maak, maar het Naspers-aandeelhouers aangeraai om self hul belastingadviseurs te raadpleeg.

Op kapitaalwinsbelasting is daar ’n jaarlikse vrystelling van R40 000, maar dit sal in dié geval straks net van nut wees vir klein aandeelhouers.

Prosus skat die SAID kan tussen R3,8 miljard en R5,8 miljard se belastinginkomste uit die transaksie verdien.

Hoe bevoordeel dit Prosus-aandeelhouers?

Vir bestaande Prosus-aandeelhouers sal die ruiling dadelik waarde skep, want Prosus koop effektiewelik blootstelling aan sy netto waarde teen ’n groter afslag terug.

Dis omdat Naspers se aandeelprys tans minder van sy werklike waarde weerspieël as wat Prosus se aandeelprys tans sy werklike waarde weerspieël.

Die transaksie vergroot die blootstelling van Prosus se vrylik verhandelbare aandele aan die groep se onderliggende bates tot byna 60%. Dit impliseer Prosus sal ’n groter gewig dra in talle groot beursindekse. Passiewe beleggingsfondse sal gedwing word om nou ook Prosus-aandele te koop, wat die firma se aandeelprys sal aanhelp.

Hoe bevoordeel dit Naspers-aandeelhouers?

Naspers-aandeelhouers wat hul aandele vir Prosus-aandele ruil, kry die voordeel dat hulle dan aandele besit waarvan die aandeelprys die netto batewaarde meer akkuraat weerspieël.

Naspers-aandeelhouers wat nie deelneem nie, trek steeds voordeel, want Naspers as grootste aandeelhouer in Prosus trek voordeel uit enige verbetering in die netto batewaarde van Prosus.

Die ruiling sal Naspers se oorgewig posisie in die Swix verlaag tot sowat 15%, wat dit vryer verhandelbaar maak as tans.

naspers

Hoe is die ruilverhouding bereken?

Die 2,27443 Prosus-aandele vir 1 Naspers-aandeel impliseer terloops – op grond van die twee maatskappye se aandeelpryse op die JSE tans – dat Naspers-aandeelhouers hul aandele ruil vir iets wat 5,4% meer werd is.

Die verhouding is volgens Prosus uitgewerk om die verdeling van waardeskepping te weerspieël tussen bestaande Naspers-aandeelhouers en die bestaande aandeelhouers in die vrylik verhandelbare aandele van Prosus, op grond van hul huidige besit van die onderliggende netto batewaarde.

Die verhouding is sodat Prosus hiervolgens 72,6% van die totale waarde aan Naspers-aandeelhouers kan verdeel en 27,4% van die waarde aan Prosus-aandeelhouers.

Hoekom verkoop hulle nie net die belang in die Chinese groep Tencent nie?

Prosus se antwoord hierop is dat hul voorgestelde transaksie sowel Prosus as Naspers beter op hul onderskeie aandelebeurse herrangskik, terwyl die groep se bedryfs-, strategiese en finansiële buigsaamheid behou word.

Hulle meen hul gekose opsie is doeltreffend en goedkoop, en kan vinnig uitgevoer word, terwyl dit waarde skep vir albei groepe aandeelhouers.

Prosus het wel in April 192 miljoen Tencent-aandele vir $14,6 miljard verkoop en toe onderneem om vir minstens drie jaar nie weer Tencent-aandele te verkoop nie.

Wat is dit nou met dié B-aandele?

Volgens Prosus en Naspers is besluit om ’n nuwe klas Prosus-aandele te skep, genaamd B-aandele, wat net Naspers alleen gaan besit as ’n manier om steeds dieselfde stemregposisie, regsentiteit-struktuur en belastingsituasie as tans te handhaaf. Dit is dus nie aandele wat op enige aandelebeurs genoteer gaan word nie.

Dit sal dieselfde stemreg hê as Prosus se gewone N-aandele, maar met geen noemenswaardige ekonomiese regte nie.

Wat is volgende?

Prosus gaan mettertyd meer inligting oor die beplande ruiling publiseer.

Prosus-aandeelhouers sal sekere aspekte op ’n buitengewone aandeelhouersvergadering moet goedkeur. Sodra die nodige goedkeurings verkry is, sal Naspers-aandeelhouers moet kies hoeveel van hul aandele hulle vir Prosus-aandele wil ruil.

Die transaksie sal na verwagting teen die derde kwartaal vanjaar in werking gestel word.

  • Netwerk24 is deel van Media24, ’n filiaal van Naspers.
Meer oor:  Naspers  |  Prosus  |  Beleggings  |  E-Handel  |  Tegnologie  |  Geklassifiseerde Advertensies  |  Aandele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.