Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Naspers wys nuwe direkteur aan

Naspers het ’n Indiese ekonoom en beleggingsbankier as ’n direkteur aangewys in aanloop tot die notering van sy buitelandse belange in Nederland later vanjaar.

Manisha Girotra (49) gaan as ’n onafhanklike, nie-uitvoerende direkteur aangestel word wanneer die nuwe Naspers-filiaal, tans net bekend as die NewCo, in die tweede helfte van die jaar op die Euronext-beurs noteer.

Manisha Girotra, uitvoerende hoof van Moelis Indië.Foto: Wikipedia

Die NewCo sal al Naspers se belange buite Suid-Afrika huisves. Dit sluit in sy belange in Tencent, Mail.ru, OLX, DeliveryHero, Swiggy en iFood.

Die maatskappy sal ’n sekondêre notering op die JSE hê en Naspers self sal steeds 75% van die nuwe firma besit. Die stap is op 25 Maart aangekondig.

Girotra sal ook op die NewCo se direksie dien, wat ’n kloon is van Naspers s’n. Die maatskappy het ook dieselfde uitvoerende bestuur as Naspers, met Bob van Dijk as uitvoerende hoof.

Girotra is die uitvoerende hoof van Moelis Indië, ’n firma wat adviesdienste oor samesmeltings en verkrygings, herstrukturering en kapitaalmarktransaksies verskaf. Sy was voorheen uitvoerende hoof van UBS in Indië en Barclays Bank se hoof vir Noord-Indië.

Luidens Naspers se verklaring het sy uitgebreide ervaring van onder meer samesmeltings en verkrygings, veral oor grense heen.

Sy het ’n meestersgraad in die ekonomie van die Delhi-skool van ekonomie.

Volgens Wikipedia is sy in 2010 deur die Wêreld- Ekonomiese Forum as ’n jong wêreldleier vereer. Ander eerbetonings sluit in dat Forbes haar in 2008 beskryf het as een van die 15 vroue in Asië wat dopgehou moet word. The Wall Street Journal se jaarlikse uitgawe 50 Women to Watch het haar in 2007 ingesluit en Fortune het haar in 2014 as een van Indië se 50 magtigste sakevroue beskryf.

Meer oor:  Olx  |  Naspers  |  Tegnologie  |  Internet  |  E-Handel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.