Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Nee, SAUK soek nié lisensiegeld vir Netflix
Die SAUK se hoofkantoor in Auckland Park, Johannesburg, getooi in kleurvolle lig op die vooraand van die Wêreldbekersokkertoernooi in 2010.Foto: Getty Images

Die SAUK beplan nie om lisensiegelde van Suid-Afrikaners te verhaal wat net inhoud op stromingsdienste soos Netflix kyk nie, het Ian Plaatjies, bedryfshoof, Maandag aan Netwerk24 gesê.

Plaatjies reken daar was “verwarring” daaroor omdat ’n nuwe konsepdokument van die departement van kommunikasie en digitale tegnologieë voorstel platforms soos Netflix en Amazon moet ’n tarief betaal om in Suid-Afrika te mag sake doen.

“Dit het egter niks met die SAUK uit te waai nie,” sê hy en verduidelik daardie gelde sal betaalbaar wees aan die Onafhanklike Kommunikasieowerheid, nie die openbare uitsaaier nie.

Die SAUK is wel finansieel groot in die nood. Hy verwag ’n verlies van R1,1 miljard vir die huidige boekjaar aangevuur deur die koronaviruspandemie.

“Inkomste uit advertensies het bykans oornag opgedroog,” sê Plaatjies.

Suid-Afrikaners se versuim om TV-lisensies te betaal, bly ook ’n netelige kwessie. Tans samel die SAUK net sowat 30% van lisensiegelde in, met 70% van Suid-Afrikaners wat dit moet betaal, dit nie doen nie, sê Plaatjies.

Die SAUK het reeds MultiChoice gevra om lisensiegelde namens hom in te vorder, maar die betaaltelevisiediens het nog nie daartoe ingestem nie.

“Dit is net regverdig,” sê Plaatjies. “Suid-Afrikaners kyk ons inhoud op DStv, so hulle moet lisensiegelde namens ons invorder.”

LEES OOK: Netflix wel ingesluit by nuwe DStv-dekodeerder

Die feit dat soveel Suid-Afrikaners na die SAUK se inhoud kyk op DStv is ’n aanduiding dat die versuim om lisensiegelde te betaal nie oor die bekostigbaarheid daarvan gaan nie.

Sommige DStv-pakkette kos etlike honderde rande per maand terwyl ’n TV-lisensie net R265 per jaar kos.

As intekenare van DStv versuim om te betaal, word hul toegang summier afgesny, sê Plaatjies. Dis nie iets wat die SAUK kan doen met kykers wat nie hul TV-lisensies betaal nie.

Hoewel gesprekke met MultiChoice hieroor al ’n geruime tyd aangaan, is daar nog geen ooreenkoms bereik nie.

Volgens Plaatjies ondersoek die SAUK nou moontlike maniere waarop hy MultiChoice kan “dwing” om lisensiegelde namens hom in te samel, of hom minstens ’n jaarlikse paaiement te betaal in die plek van onbetaalde TV-lisensies.

Daar is egter geen wetlike verpligting op MultiChoice om aan die SAUK se versoek te voldoen nie.

Plaatjies het ook bevestig gesprekke hieroor vind tans net met MultiChoice plaas en dat platforms soos Netflix en Amazon Prime nie daarby betrek word nie.

LEES OOK: DStv-intekenare groei tot meer as 20 miljoen

Afleggings, verliese en moontlike stakings

k
MultiChoice het onlangs ook ’n ooreenkoms met Netflix gesluit.

Terselfdertyd het Plaatjies uitgewei oor die SAUK se beplande aflegging van tot 400 werknemers oor die volgende paar weke.

Die proses is reeds van stapel gestuur en die SAUK hoop om dit teen die einde van die jaar af te handel, sê hy.

Die openbare uitsaaier stel wel 170 vakante poste beskikbaar waarvoor personeel kan aansoek doen, wat die netto werksverlies op sowat 230 te staan bring.

Die SAUK het tans net meer as 3 000 werknemers in sy diens. Volgens Plaatjies vind die afleggings oor al sy afdelings plaas en word joernaliste ook geraak.

Die uitsaaier hoop om uiteindelik R700 miljoen per jaar te spaar na afloop van die afleggingsproses.

Dit is nog nie duidelik hoeveel die proses hom gaan kos aan onder meer die uitbetaling van skeidingspakkette nie, aangesien daar nog geen aanduiding is van hoeveel personeellede vrywillige skeidingspakkette gaan aanvaar nie.

Die personeel sal na verwagting tot die einde van die maand hê om ’n besluit te neem, sê hy.

Die uitsaaier, wat in sy vorige boekjaar ’n verlies van R511 miljoen aangeteken het, het verwag om in sy huidige boekjaar ’n verlies van R350 miljoen aan te teken.

Maar weens die impak van die koronaviruspandemie verwag hy egter nou om ’n verlies van R1,1 miljard aan te teken.

Afgesien van afleggings word ander kostebesparingsinisiatiewe ook ingespan, insluitende die bevriesing van salarisverhogings vir die volgende drie jaar, insluitende dié van senior bestuurslede.

’n Groep werknemers het Donderdag hul voorneme bekend gemaak om Maandag by verskeie van die SAUK se kantore te staak uit protes teen die voorgestelde afleggings.

Mmoni Seapolelo, waarnemende woordvoerder, het egter Maandag by navraag gesê die SAUK het geen formele kennisgewing van ’n beplande staking ontvang nie.

Sommige werknemers het wel Maandag voor die SAUK se hoofkantoor in Auckland Park, Johannesburg, in die pad gaan lê om hul misnoeë met die afleggingsproses te kenne te gee.

Lede van die EFF het ook by hulle aangesluit.

Dit is nie bekend hoeveel werknemers aan dié onbeskermde “staking”, oftewel protesaksie, deelneem nie.


Meer oor:  Dstv  |  Netflix  |  Sauk  |  Multichoice  |  Tegnologie  |  Tv-Lisensie  |  Televisie  |  Betaaltelevisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.