Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Net 10 dae oor tot jou data nie meer mag verval

Oor net meer as ’n week sal Suid-Afrikaners volgens wet die opsie gebied moet word om die geldigheidstydperk van data te verleng.

Nuwe dataregulasies vereis dat diensverskaffers van 1 Maart die opsie moet bied dat intekenare se ongebruikte data nie verval nie. Foto: Pixabay

Dit beteken dat jou ongebruikte data nie sommerso sal mag verval nie.

Volgens nuwe regulasies van die Onafhanklike Kommunikasieowerheid (Okosa) moet gebruikers kan kies om data na ’n volgende kalendermaand oor te dra, of om oorblywende data as deel van ’n datapakket se geldigheid te verleng.

Suid-Afrikaners is reeds etlike jare boos vir diensverskaffers wat ongebruikte data laat verval, selfs al is daarvoor betaal.

Al vier die grootste netwerke het reeds stappe gedoen sodat gebruikers die geldigheid van data kan verleng, maar Cell C is die enigste diensverskaffer wat sy gebruikers onbepaald toelaat om ongebruikte data oor te dra.

Van 1 Maart het Cell C-intekenare die opsie om oorblywende data se geldigheid vir een, sewe of 30 dae te verleng.

Dit gaan jou wel geld kos om meer as 500 megagrepe data se geldigheid vir langer as ’n dag te verleng.

Telkom bied sover geen opsie vir gebruikers om die tydperk te verleng wat data geldig is nie.

Dié netwerk gee gebruikers bloot ’n ekstra maand om hul data op te gebruik sonder die opsie om dit nog verder te verleng.

MTN en Vodacom laat sy intekenare toe om oorblywende data te behou mits hulle nog ’n databondel aanskaf.

Lees ook: Uiteindelik! Só kan jy jou data oordra

Okosa het ook bepaal dat diensverskaffers van 1 Maart nie meer buitebondeltariewe vir data kan vra sonder toestemming van die gebruiker nie.

Cell C het egter sy kommer uitgespreek dat gebruikers in die middel van iets van die internet afgesny kan word sou hul datapakket opraak.

As die kliënt nie pertinent toestemming gegee het dat Cell C buitebondeltariewe mag vra nie, sal sy internetverbinding opgeskort word sodra sy data op is.

As teenvoeter vra Cell C sy intekenare om voor 1 Maart in te stem tot buitebondeltariewe met die opsie om ’n perk in te stel op hoeveel hulle daaraan kan bestee.

As ’n intekenaar byvoorbeeld ’n perk van R100 stel, beteken dit die netwerk sal nie meer as R100 per maand van sy oorblywende lugtyd of op kontrak gebruik om hom steeds toegang tot die internet te gee nie.

Al die netwerke het soortgelyke funksies om oormatige besteding te beperk.

Okosa het ook bepaal dat gebruikers data van een persoon na ’n ander op dieselfde netwerk moet kan oordra, en dat diensverskaffers gebruikers per SMS moet waarsku as hulle ingeslote data amper opgebruik is.

Al die diensverskaffers het reeds aangedui hulle is “slaggereed” vir die nuwe regulasies wat almal op 1 Maart in werking tree.

Meer oor:  Mtn  |  Cell C  |  Vodacom  |  Okosa  |  Telkom  |  Selfoonnetwerk  |  Selfoondienste  |  Wetgewing  |  Slimfone  |  Datakoste  |  Selfoonmaatskappye
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.