Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Netflix gebruik ongelooflik baie data
Netflix wil televisiereekse en flieks meer interaktief maak. Foto: Getty Images

Sowat 15% van die totale volume van inligting (oftewel data) wat oor die internet versend word, word deur Netflix in beslag geneem.

Trouens, video verteenwoordig ’n massiewe 58% van die totale internetverkeer, het nuwe navorsing deur die tegnologiemaatskappy Sandvine bevind.

Sandvine voorsien maatskappye onder meer van harde- en sagteware om rekenaarnetwerke mee te bou en te onderhou.

Luidens Sandvine se jongste Global Internet Phenomena-verslag neem alledaagse rondblaai op die internet net 17% van die verkeer in beslag. Speletjies verteenwoordig 8% van die verkeer en sosiale media 5%.

Hoewel daar elke dag miljarde teksboodskappe gestuur word, neem dit net 1,7% van die totale internetverkeer in beslag.

Meer mense stroom video wat beteken dat daar al hoe meer druk op netwerke en internetdiensverskaffers geplaas word om genoeg bandwydte te verskaf, sê Sandvine.

“Die aantal video’s gaan ook net meer en meer word en die inhoud gaan al meer in hoë definisie aangebied word,” lui die verslag.

In besige tye, soos ná 19:00, kan Netflix tot 40% van die totale internetverkeer uitmaak.

Die verslag meld wel dat Netflix van baie doeltreffende tegnologie gebruik maak om sy video’s te kodeer, wat druk op die netwerk verlig.

Wat beteken “internetverkeer”?

Internetverkeer kan in twee kategorieë geplaas word, naamlik downstream en upstream.

In ’n rekenaarnetwerk, soos die internet, kan inligting van ’n bediener na ’n gebruiker afgelaai word (downstream), of ’n gebruiker kan inligting van sy of haar rekenaar na die bediener oplaai (upstream).

Bandwydte verwys na die maksimum hoeveelheid data wat tussen ’n bediener en ’n gebruiker per sekonde kan beweeg. Dit is vergelykbaar met ’n hoofweg: Hoe meer bane daar is vir die motors, hoe vinniger beweeg die verkeer.

Met ander woorde, hoe meer mense gelyktydig data van ’n bediener wil bekom (soos byvoorbeeld Netflix), hoe meer druk word daar op die netwerk geplaas.

Meer oor:  Netflix  |  Datakoste  |  Tegnologie  |  Internet  |  Data
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.