Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Netflix laat aandeelhouers weer glimlag

Netflix het Woensdag beleggers van oor tot oor laat glimlag nadat die wêreld se grootste stromingsdiens skitterende syfers vir die derde kwartaal uitgereik het.

Netflix boer weer lekker vooruit. Foto: Getty Images

Minstens “skitterend” in vergelyking met ’n betreklik swak tweede kwartaal vroeër vanjaar.

Netflix het in die kwartaal onder oorsig bykans sewe miljoen nuwe intekenare bygevoeg. Sy inkomste het terselfdertyd tot $5,2 miljard toegeneem, 31% meer as dieselfde tydstip ’n jaar gelede.

Die gesonde groei is hoofsaaklik aangevuur deur die derde seisoen van Netflix se trefferreeks Stranger Things, wat ’n paar maande gelede uitgereik is.

Volgens Netflix het die derde seisoen van dié bonatuurlike storie die rekords behoorlik laat spat. Altesaam 64 miljoen huishoudings het dit binne die eerste vier weke nadat dit uitgereik is, gekyk.

Die maatskappy verklap wel nie presies hoe hy hierdie syfer bereken nie.

Netflix het vroeër verduidelik hy tel ’n “kyk” van ’n program of fliek sodra ’n kyker 70% van ’n enkele episode in ’n reeks of fliek voltooi het.

Maar dis nie heeltemal duidelik of die 64 miljoen “huishoudings” wat byvoorbeeld Stranger Things se derde seisoen gekyk het, al die episodes gekyk het of net 70% van sommige.

In ieder geval beskou Netflix die reeks as ’n dawerende sukses.

Die stromingsdiens verwag verdere skerp groei in die laaste kwartaal vanjaar en hoop om nóg sewe miljoen nuwe intekenare by te voeg.

Netflix beplan ook heelwat hoëprofiel-flieks en televisiereekse in die vierde kwartaal, insluitend die nuwe seisoen van The Crown en The Irishman, ’n peperduur fliek met Robert de Niro en Al Pacino in die hoofrolle.

Trouens, The Irishman is een van Netflix se duurste projekte nóg en het na wat berig word $159 miljoen gekos om te vervaardig.

Dit word aan die einde van November op die platform uitgereik.

Mededingers rede tot kommer

Hoewel Netflix steeds die wêreld se grootste stromingsdiens is wat aantal intekenare betref, begin die maatskappy die druk voel van sy grootste mededingers.

Sowel Disney as Apple stel hul eie stromingsdienste voor die einde van die jaar bekend.

Apple s’n word reeds op 1 November verwag, ook in Suid-Afrika.

Apple TV+ gaan ook aansienlik goedkoper wees as Netflix teen ongeveer die helfte van die prys.

Reed Hastings, Netflix se hoof, het aan beleggers erken die vooruitsig lyk “straf” en gaan net vererger namate meer en meer maatskappye hul eie stromingsdienste begin.

Amazon bedryf reeds sy eie diens, asook Hulu.

HBO en NBCUniversal stel aanstaande jaar hul eie dienste bekend.

“Hoewel die nuwe mededingers ’n paar fantastiese reekse bied, het geen een die verskeidenheid en gehalte van nuwe, oorspronklike inhoud wat ons verskaf nie,” sê Hastings.

Netflix se aandeelprys het Donderdag voor markopening met bykans 1% tot $286,28 toegeneem.

Meer oor:  Netflix  |  Tv  |  Stromingsdienste  |  Vermaak  |  Tegnologie  |  Internet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.