Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Netflix maak planne vir Afrika
Netflix hoop om sy nuwe mobiele plan in nog Afrikalande bekend te stel. Foto: Getty Images

Vyf jaar nadat Netflix in verskeie Afrikalande begin sake doen het, sukkel die maatskappy steeds om ’n vastrapplek op die vasteland te kry.

Sy sake word deur armoede, roofkykers en beperkte toegang tot vinnige breëbandinternet gekortwiek.

Volgens Digital TV Research het Netflix net 1,2 miljoen intekenare uit die vasteland se bevolking van meer as ’n miljard mense.

MultiChoice, wat betaaltelevisiedienste oor die hele Afrika bedryf, het sowat 20 miljoen intekenare.

Netflix het begin om sy strategie op die vasteland te wysig en eksperimenteer tans met goedkoper pakkette net vir mobiele toestelle, soos slimfone.

Die maatskappy belê ook ruimskoots in plaaslike inhoud wat die kulture en ervarings van gewone Afrikane weerspieël.

As Afrika se grootste ekonomie is Nigerië ’n sleutelmark. Die vinnige uitbreiding van 4G-selfoonnetwerke daar gee stromingsdienste die geleentheid om nuwe gehore te bereik, mits hulle dit kan bekostig.

“Die mobiele mark sal deurslaggewend vir Netflix wees,” sê Ben McMurray, ’n ontleder van Ampere Analysis.

Netflix probeer nou vasstel of Nigeriërs bereid sal wees om in te teken op ’n mobiele pakket teen 1 200 niara (sowat R45,50) per maand teenoor die 2 900 niara (R130) per maand wat hy vir sy mees basiese pakket vra.

Meer as 100 miljoen Nigeriërs probeer egter op minder as 730 niara (R35) per dag oorleef. Die kanse is dus skraal dat daar geld vir Netflix sal wees.

Netflix se nuwe goedkoop mobiele aanbod is steeds heelwat duurder as wat Iroko, ’n plaaslike stromingsdiens, kos. Iroko, wat 250 niara (sowat R11) per maand kos, bied ook die grootste aanbod flieks en TV-reekse van Nollywood, Nigerië se weergawe van Hollywood.

Die inkomste wat Iroko uit sy intekenare verdien, is egter nie genoeg om sy uitgawes te dek nie. Daarom gaan Iroko nou eerder begin fokus op die Nigeriese diaspora, wat meer vir die diens kan betaal.

Jason Njoku, medestigter, meen die swak ekonomie is te blameer. Soos die meeste ander lande is Nigerië swaar deur die koronaviruspandemie getref, en veral die daling in die olieprys het ’n groot rol gespeel.

Netflix se mobiele plan in Suid-Afrika

Netflix het in September ’n mobiele plan vir Suid-Afrikaanse kykers bekend gestel. Teen R39 per maand kan Suid-Afrikaners inteken op Netflix, maar kan dan net op hul slimfone of tablette na die inhoud kyk.

Net een persoon word toegelaat om op ’n slag na ’n reeks of fliek te kyk.

Inhoud word ook teen ’n laer kwaliteit gebeeldsend en kan nie op ’n slimtelevisie gestroom word nie.

Netflix se mobiele plan is heelwat goedkoper as sy basiese plan wat R99 per maand kos. Sy gewildste plan kos R139 per maand en die duurste R169.

Showmax, wat aan MultiChoice behoort, bied ’n soortgelyke mobiele pakket teen R49 per maand.

’n Moontlike resessie staar die land in die gesig en werkloosheid sal na verwagting teen die einde van die jaar 33,6% bereik. Aan die einde van 2018 was die werkloosheid in die land 23,1%.

“Mense in Nigerië is arm,” sê Njoku. “Die mark hier is taai en ek kan nie dink dat dit gaan verbeter nie.”

Netflix wil nie dieselfde roete volg as Iroko en op die goedkoop inhoud van Nollywood fokus nie.

Die Amerikaanse stromingsdiens met sy koffers vol geld wil eerder belê in plaaslike talent om inhoud van ’n baie hoë gehalte in ’n verskeidenheid van genres te skep.

Netflix het reeds ’n ooreenkoms aangegaan met die Nigeriese vervaardigingsmaatskappy EbonyLife TV sowel as met UpperRoom Productions wat aan die Star Wars-akteur John Boyega behoort.

Twee Suid-Afrikaanse produksies was reeds ’n dawerende sukses op Netflix. Queen Sono, ’n aksiedrama oor ’n geheime agent, en Blood and Water, ’n riller oor ’n Kaapse meisie wat na haar verlore suster soek, was albei hoogs suksesvol.

Netflix beoog nou om meer komedies, realiteitsreekse en programme vir kinders en jong mense spesifiek vir ’n Afrika-gehoor te vervaardig.

Hy is aggressief besig om sy aantal internasionale intekenare te vermeerder. Ontleders verwag Netflix sal teen 2030 500 miljoen intekenare hê. Hy het tans sowat 193 miljoen intekenare.

Die nuwe mobiele pakkette word tans in Suid-Afrika en Egipte getoets voordat dit na ander Afrikalande uitgebrei sal word.

Netflix het reeds plaaslik ’n ooreenkoms met van die selfoondiensverskaffers aangegaan waarvolgens sy tariewe by intekenaars se selfoonrekening gevoeg word.

’n Ander uitdaging is ook om te keer dat te veel mense een Netflix-rekening gebruik.

Afrikane wat oorsee woon en werk, deel dikwels hul aanmeldbesonderhede met familie en vriende by die huis, wat dit nie andersins kan bekostig nie.

Meer oor:  Netflix  |  Showmax  |  Televisie  |  Stromingsdienste  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.