Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Netflix, Showmax wil druk op internet help verlig
Stromingsdienste soos Netflix en Showmax wil help om opeenhoping op die internet te verlig.Foto: Getty Images

Netflix, Showmax en DStv Now gaan voortaan teen ’n laer resolusie stroom in ’n poging om ’n bottelnek in internetverkeer te voorkom.

Netflix gaan die koers waarteen data na gebruikers oorgedra word (die sogenaamde bitrate), met 25% verlaag, het die stromingsdiens Maandag gesê.

Hy het reeds soortgelyke stappe in Europa en Amerika gedoen om te help keer dat die internet daar nie oorweldig word deur al die mense wat gelyktydig inhoud probeer stroom nie.

YouTube, Amazon se Prime, Apple TV+ sowel as Disney+ (wat nie in Suid-Afrika beskikbaar is nie) het ook soortgelyke stappe gedoen, maar tot dusver net in oorsese lande.

Showmax en DStv Now het ook die koers verlaag waarteen data oorgedra word. Dit het ’n impak op die resolusie waarin regstreekse inhoud gestroom word, het ’n woordvoerder van Showmax gesê.

Showmax het verlede week begin om nuus regstreeks op sy platform te beeldsend. DStv Now het reeds voorverlede week die stroom van nuuskanale gratis beskikbaar gestel aan almal, ongeag of jy ’n intekenaar van DStv is of nie.

DStv Now en Showmax sal voortaan regstreekse inhoud teen ’n resolusie van net 565p op mobiele toestelle uitsaai.

Dit is ’n verlaging van 720p wat dit voorheen was.

Dié reëling geld net op Showmax en DStv Now se onderskeie apps op ’n selfoon. En ook net vir regstreekse inhoud (dus die stroom van nuuskanale of ander DStv-kanale).

Video wat teen ’n hoër resolusie gestroom word, lyk heelwat beter, maar benodig ook heelwat meer data wat tot ’n verlaging in die spoed van die internet kan lei.

Twee belangrike ondersese internetkabels wat Suid-Afrika met Europa verbind, het ook onlangs weer begin probleme gee, wat tot verdere druk op internasionale internetverkeer na en van Suid-Afrika lei.

LEES OOK: Hier het ondersese kabels (weer) gebreek

MultiChoice, wat DStv en Showmax besit, oorweeg dit ook om binnekort nieregstreekse inhoud soos flieks en reekse teen ’n laer resolusie uit te saai.

Showmax se inhoud word nog altyd net in 720p oorgedra, wat beteken dié diens gebruik reeds heelwat minder data as Netflix, waarvan die inhoud in 1080p of selfs 4K uitgesaai word.

Stromingsdienste, waaronder Netflix en Showmax, het in die laaste paar dae ’n duidelike toename in verkeer ondervind aangesien die meeste Suid-Afrikaners weens die nasionale staat van inperking by die huis moet bly.

Meer oor:  Netflix  |  Dstv Now  |  Multichoice  |  Showmax  |  Staat Van Inperking  |  Tegnologie  |  Televisie  |  Stromingsdienste  |  Nuus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.