Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Internet al stadiger tydens inperking

Die gemiddelde spoed van mobiele internetverbindings word swaar getref deur die toename in verkeer daarop.

Vodacom gaan R500 miljoen oor twee maande bestee om sy netwerkinfrastruktuur te verbeter.Foto: Getty Images

Data van MyBroadband wys die gemiddelde spoed het van 25,3 Mbps tussen 1 en 14 Maart tot 21,8 Mbps tussen 27 Maart en 27 April versleg.

Een diensverskaffer is veral swaar getref.

Rain, Suid-Afrika se eerste netwerk net vir data, se sosialemediablaaie is propvol klagtes van gebruikers oor die netwerk se swak diens.

Rain beloof op sy webwerf ’n aflaaispoed van minstens 10 Mbps op ’n 4G-simkaart, maar party gebruikers se internetspoed haal skaars 1 Mbps.

Jou internetspoed kan afhang van ’n verskeidenheid van faktore, insluitende hoe goed jou ontvangs is.

MyBroadband se data wys wel die gemiddelde aflaaispoed op Rain se netwerk het met 53% versleg tydens die staat van inperking in vergelyking met die eerste twee weke van Maart.

Waar die netwerk se gemiddelde aflaaispoed aanvanklik 14,9 Mpbs was, het dit tydens die staat van inperking tot 6,9 Mbps versleg.

Op Rain se Facebookblad kla gebruikers steen en been oor die swak spoed, en ook dat vrae aan die diensverskaffer daaroor onbeantwoord bly.

Die diensverskaffer het wel aan MyBroadband gesê die groter verkeer op sy netwerk is nog “binne die perke” van wat hy kan hanteer.

Telkom het ook tydens die inperkingstyd agteruit geboer wat die gemiddelde spoed van sy mobiele internet betref.

Dit het met 19% van 13,8 Mbps voor die inperking tot 11,2 Mbps tydens die inperking verswak.

MTN se netwerkspoed is 17% stadiger, maar steeds verreweg die vinnigste van al Suid-Afrika se diensverskaffers met ’n gemiddelde aflaaispoed van 34 Mbps tydens die staat van inperking (in vergelyking met ’n gemiddelde spoed van 40,7 Mbps vroeër).

Vodacom se gemiddelde aflaaispoed is 6% laer. Cell C se spoed het die minste versleg en is net 3% laer as voor die staat van inperking.

Sowel Vodacom as MTN het reeds ruim belê in die uitbreiding van hul netwerkinfrastruktuur om die toename in verkeer op hul netwerke te hanteer tydens die staat van inperking.

Cell C en Telkom gebruik ook MTN se netwerkinfrastruktuur.

Vodacom het ’n ooreenkoms met Rain aangegaan waarvolgens hy van die dataverkeer op sy netwerk aan Rain gaan oordra om te keer dat sy netwerk oorweldig word.

Netwerk24 het ook uitgereik na Vodacom om te probeer bepaal hoeveel hy in hierdie tyd op Rain se netwerk steun om aan sy intekenare se internetbehoeftes te voldoen.

Dié netwerk beplan wel om R500 miljoen oor twee maande te bestee om die kapasiteit op sy netwerk te verbeter om dit meer bestand te maak teen die groeiende vraag na data, sowel as teen beurtkrag wat na verwagting weer vanaf Mei ’n realiteit kan word.

Meer oor:  Mtn  |  Cell C  |  Vodacom  |  Telkom  |  Rain  |  Maatskappye  |  Tegnologie  |  Netwerk  |  Diensverskaffer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.